Unisa onder administrasie geplaas

Die Unisa-kampus in Pretoria. (Foto: Gauteng-toerisme)

Die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, het Unisa amptelik onder administrasie geplaas.

Die aankondiging is Vrydag amptelik in die Staatskoerant bekend gemaak. Daarvolgens word prof. Ihron Rensburg vir twee jaar vanaf 27 Oktober as administrateur aangestel.

Nzimande het prof. Themba Mosia vroeër as ʼn onafhanklike assessor aangewys om ʼn ondersoek na die situasie by Unisa te doen en daarna skriftelike terugvoering – met redes vir sy bevindings – aan die minister voor te lê. Mosia moes aanbevelings doen oor hoe om die sukkelende instelling reg te ruk.

Dié verslag is in Maart vanjaar aan die minister oorhandig.

Mosia het onder meer bevind die visekanselier het ná ʼn problematiese tydperk oorgeneem en dat sy nie ʼn “behoorlik funksionerende instelling” aangetref het nie. Die bestuurskomitee het verskeie onregmatige finansiële besluite geneem wat verreikende gevolge vir die universiteit ingehou het. Dit het ingesluit die inwerkingstelling van selektiewe salarisaanpassings vir akademiese personeel en sommige ondersteuningspersoneellede.

Dr. Blade Nzimande. (Foto: GCIS)

In die verslag is ook bevind Unisa se raad het versuim om die bestuur aanspreeklik te hou en dat die raad nie sy fidusiêre pligte nagekom het om te verseker die universiteit word behoorlik bestuur nie. Nietemin is bonusse aan die uitvoerende bestuur betaal. Die raad het volgens die verslag ook nie sy plig nagekom om die goeie naam van die universiteit te beskerm nie.

“Die assessor kom tot die gevolgtrekking dat daar oorweldigende bewyse is dat die funksionering en doeltreffendheid van die raad en die bestuur onder die verwagte standaard van ʼn doeltreffende universiteit val wat omsien na die beste belange van sy studente, personeel en hulpbronne.”

Die assessor se verslag volg op dié van ʼn ministeriële taakspan wat ook ʼn hersiening van Unisa moes doen binne die doelwit van die universiteit in ʼn Suid-Afrikaanse raamwerk.

Verskeie bevindings van die assessor en dié van die ministeriële taakspan stem ooreen. Die ministeriële taakspan het onder meer bevind Unisa sukkel weens “chroniese bestuursmislukkings” in talle van die sleutelondersteuningstelsels en dat die raad die “worteloorsaak van die probleme by die universiteit is”.

Deurlopende temas in albei verslae sluit in bestuursprobleme wat gekenmerk word deur ʼn growwe gebrek aan gevolgbestuur en prestasieprobleme by verskeie universiteite.

Die studenteorganisasie Sasco het die aankondiging verwelkom.

“In ʼn universiteit soos Unisa lê die hoop en aspirasie van die vertrapte jeug en volwassenes wat akademies wil floreer met die uiteindelike ambisie om verandering teweeg te bring in die onmoontlike omstandighede van arm en werkersklas-huishoudings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.