US-prof in gesogte VN pos aangestel

Prof. Thulisile “Thuli” Madonsela, direkteur van die sentrum vir sosiale geregtigheid by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) (Foto: Verskaf)

Prof. Thulisile “Thuli” Madonsela, direkteur van die sentrum vir sosiale geregtigheid by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), is aangestel is as ʼn eksterne lid van die Verenigde Nasies (VN) se wetenskaplike raad vir onafhanklike advies oor deurbrake in wetenskap en tegnologie.

US sê in ʼn verklaring dié gesogte aanstelling deur die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, dui op erkenning vir Madonsela se uitsonderlike bydrae tot sosiale geregtigheid, konstitusionalisme, menseregte, goeie bestuur en die oppergesag van die reg.

Die aanstelling is gemaak as deel van die raad se inisiatief om die rol van die VN as ʼn betroubare bron van data en wetenskaplike praktyke te versterk, en om onafhanklike insigte te verskaf oor die interseksie van die wetenskap, tegnologie, etiek, bestuur en volhoubare ontwikkeling.

“Wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang kan pogings versterk om die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling (SDG’s) te bereik – maar dit gee ook aanleiding tot etiese, wetlike en politieke hoofbrekens wat multilaterale oplossings vereis,” het Guterres gesê.

“My wetenskaplike adviesraad sal die rol van die Verenigde Nasies as ʼn gesaghebbende bron van data en bewyse versterk, en raad aan my en my senior bestuurspan verskaf.”

Madonsela sê sy was verbaas toe sy aanvanklik genader is oor die pos aangesien sy nie ʼn wetenskaplike is nie.

“Ek is diep geëerd en nederig om deel te wees van die VN se wetenskaplike adviesraad. Hierdie aanstelling beklemtoon die belangrikheid van die bevordering van samewerking tussen die wetenskaplike gemeenskap en besluitnemers asook om die komplekse morele, sosiale en politieke uitdagings wat die snel veranderende wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang van ons tyd meebring, die hoof te bied,” sê sy.

“Dit is ʼn pluimpie vir die sentrum vir sosiale geregtigheid aan die US dat ons werk deur VN raakgesien is. Dit is my hoop en oortuiging dat hierdie aanstelling ons sentrum se pogings om sosiale geregtigheid- beginsels in alle beleidskwessies aan te vul en te versterk, terwyl interdissiplinêre samewerking – veral tussen die reg, wetenskap en tegnologie – ook bevorder sal word. Ek glo dit is ook goed vir ons universiteit, ons land en die vasteland.”

Prof. Wim de Villiers, die US se rektor en visekanselier, sê dié gesogte rol is ʼn bewys van Madonsela se aansienlike bydrae tot die dissiplines van die reg, menseregte en goeie regeringspraktyke.

“Haar toewyding en onvermoeide pogings om sosiale geregtigheid te bevorder, veral deesdae as direkteur van die sentrum vir sosiale geregtigheid, het ʼn groot impak internasionaal. As ʼn universiteit is ons baie trots op haar vir hierdie prestasie. Ons sien uit na haar onskatbare bydraes om wêreldwyd ʼn wesenlike verskil te maak,” sê De Villiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

De Villiers ·

Dit is net jammer Prof Madonsela kon nie haar “uitsonderlike bydrae tot sosiale geregtigheid, konstitusionalisme, menseregte, goeie bestuur en die oppergesag van die reg.” aan haar EFF dogter oordra wat net verlede week vir die uitwissing van haar mede wit brugers gevra het nie…

Delia ·

Ons kan regtig nie altyd alle verantwoordelikheid vir ons volwasse kinders dra nie

Theresa ·

De Villiers, ek was nie daarvan bewus nie, skielik is daar onrus in my gemoed…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.