US weer aanlyn weens Covid-19

Sedert Maandag was daar 36 positiewe Covid-19-gevalle op die Stellenbosch-kampus (Foto: Facebook)

Die Universiteit van Stellenbosch (US) het Donderdagaand verskerpte maatreëls ingestel om verdere verspreiding van die koronavirus te voorkom. Dít volg nadat positiewe gevalle by die universiteit én in die Wes-Kaapse provinsie te midde ’n derde Covid-19-vlaag skerp toegeneem het.

Maroela Media het vroeër berig dat die Wes-Kaap teen 10 Junie altesaam 932 nuwe gevalle aangeteken het, terwyl daar tans altesaam 5 643 aktiewe Covid-19-gevalle in dié provinsie is.

“Sedert Maandag was daar 36 positiewe Covid-19-gevalle op ons Stellenbosch-kampus, waarvan etlike by die Metanoia-koshuis aangeteken is. Dié persone is tans in isolasie of kwarantyn,” het die universiteit per e-pos aan studente laat weet.

As deel van dié maatreëls sal alle klasse wat tot die einde van die tweede kwartaal (18 Junie) geskeduleer was, aanlyn plaasvind en is alle sosiale- en sportbyeenkomste, asook enige groepaktiwiteite op kampus gestaak.

“Soos julle weet het die Wes-Kaap te midde die derde Covid-19-vlaag ’n 30% toename in nuwe gevalle getoon. Die US se komitee vir institusionele besigheidskontinuïteit (ICBC) het Donderdag vergader om dié saak te bespreek,” sê prof. Stan du Plessis, ICBC-voorsitter.

Verdere maatreëls sluit in dat studie-areas, rekenaarsentrums en enige ander plekke op kampus waar groepe byeen kan kom, gesluit sal wees.

Enkele assesserings wat reeds geskeduleer is sal onder streng maatreëls voortgaan.

“Die US sal soos in die verlede weer selfoondata aan alle heeltydse studente verskaf. Dit sluit studente op die Saldanha-kampus, nagraadse  en kort kursus- studente uit.”

Du Plessis het opnuut ’n beroep op alle US-studente en -personeel gedoen om aan alle Covid-19-maatreëls en protokol gehoor te gee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kompas ·

Ai tog!! Arme studente. Niks is meer normaal nie. Dit is nou hulle tyd om vlerke te sprei en hul lewens te geniet voor al die verantwoordelikhede kom. Die. Covid pandemie het alles deurmekaar kom krap.

Andrew ·

Niks is meer normaal nie korrek. Stellenbosch Universiteit onderdruk arme Afrikaanse studente, en dit nog gedoen deur hulle eie volksgenote en kastige opvoeders. n klomp nabootsers van die Amerikaanse “blm” “non-gender” witskuld idiologie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.