UV doen weg met inentingsbeleid vir studente, dosente

Die Universiteit van die Vrystaat. (Foto: UV/Facebook)

Die raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Vrydag besluit om die universiteit se Covid-19‑verwante regulasies en verpligte inentingsbeleid vir studente en personeel met onmiddellike inwerkingtreding op te skort.

“Sedert die regering in Junie die land se regulasies verslap het, het die UV ʼn risiko-evaluering gedoen om die risiko van blootstelling aan personeel en studente te bepaal,” sê prof. Francis Petersen, rektor en visekanselier van die UV.

“Uit die assessering is dit duidelik dat die universiteit se Covid-19-infeksies tans ʼn lae risiko inhou.”

Solidariteit het vroeër vanjaar regsaksie geneem teen die universiteit se beleid, wat vereis het dat diegene wat toegang tot die universiteit se kampusse wil verkry, ʼn bewys van inenting óf ʼn negatiewe Covid-19-toets moet wys.

Solidariteit sou selfs strafkoste eis as die beleid nie gewysig is voordat die partye se saak in die hof aangehoor word nie.

Dit is nog nie duidelik of Solidariteit die regsgeding teen die UV gaan opskort nie.

Volgens Petersen is die besluit gesteun deur die feit dat geen positiewe Covid-19-gevalle onder studente of dosente in die afgelope maand aangemeld is nie. Dit terwyl talle belanghebbendes aan die universiteit reeds teen die virus ingeënt is of ʼn hibriede leermodel volg wat aanlyn en kontaklasse insluit.

“Ons glo dat die koronavirus nie meer ʼn onmiddellike bedreiging vir die veiligheid van ons personeel en studente inhou nie, en dat die pandemie in ʼn stadium is waar mense verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid moet aanvaar,” sê Petersen.

Die UV het nietemin studente en dosente aangeraai om steeds teen die virus ingeënt te word indien hul gesondheid dit toelaat, en na goeddunke maskers op die universiteit se kampusse te dra – hoewel dit nie meer ʼn vereiste vir toegang is nie.

Die universiteitsraad het in November verlede jaar sy inentingsbeleid goedgekeur en reeds teen Desember geïmplementeer. Sedert Februarie het hy individue wat nie ingeënt is nie se toegang tot sy kampusse beperk.

“Indien die nasionale regulatoriese omgewing met betrekking tot Covid-19 in so ʼn mate verander dat die beleid weer geïmplementeer moet word, sal die universiteit se uitvoerende bestuur dienooreenkomstig optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.