
Argieffoto
Die V&A Waterfront, een van Kaapstad se gewildste toeristebestemmings, het besluit om vanjaar Oujaarsaand sónder vuurwerk te vier. Die besluit kom ná klagtes van die publiek onder leiding van die organisasies Voices for African Wildlife en Beauty Without Cruelty (BWC).
Meer as 35 diereregtegroepe het Saterdag tydens ’n protesaksie briewe met hul griewe oor die gebruik van vuurwerk aan Narriman Taliep, uitvoerende bestuurder van die Waterfront, oorhandig.
Donald Kau, woordvoerder van die V&A Waterfront, sê hulle neem kennis van die publiek se kommer en sê die Waterfront het die afgelope paar jaar verskeie klagtes oor die gebruik van vuurwerk ontvang.
“Ons het die boodskap ontvang dat ons meer volhoubare en omgewingsvriendelike opsies vir ons Nuwejaarsviering moet ondersoek. Daarbenewens gaan ons nou saam met die Stad Kaapstad werk om moontlike oplossings vir die publiek se kommer te vind,” sê Kau.
BWC het verskeie alternatiewe metodes voorgestel wat reeds in die buiteland gebruik word en ook meer omgewings- en dierevriendelik is.
Kau sê hulle ondersoek onder meer die moontlike gebruik van laserliggies wat reeds in Doebai tydens Nuwejaarviering daar gebruik word.
JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê die stad sal die bykomende koste wat aangegaan moet word om alternatiewe vir vuurwerk te probeer vind, help finansier.
Smith sê die onwettige afvuur van vuurwerk op Oujaarsaand bly ʼn probleem.
“Die meeste brande, of beserings wat kinders oor Nuwejaar opdoen, is weens vuurwerk. Ons doen ’n beroep op ouers om ander maniere te vind om Nuwejaar saam met hul kinders te vier. Gooi mekaar met gekleurde verfpoeier en neem daarna ’n stort. Los die vuurwerk,” het Smith gevra.
BWC sê hy sal die kwessie weer aanstaande jaar met die Waterfront opvolg.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
14 Kommentare
Heeltemal reg. Ons moet krag spaar. Toeriste kan sien wat hier aangaan.
Nou wonder ek wat van die manne aan swaar weer? Hier op die hoëveld is dit nogal algemeen
Welgedaan…hoop ander volg hul voorbeeld!
Ek stem volkome saam met die algehele verbod op vuurwerke. Veral die onwettige verkoop en afskiet van klappers en vuurwerke in woongebiede. Dis die grootste probleem. Georganiseerde afskiet behoort nie ‘n probleem te wees nie. Die vuurwerke in die Waterfront was nog altyd ‘n groot trekpleister, en ons as gesin, wat NOOIT vakansie vat nie, gaan al die afgelope 3 jaar oujaarsaand in Blouberg oorslaap net om die vuurwerke te kan sien. Daardie een nag is al vakansie wat ons ken en wil dit graag spesiaal maak. Ek het wel al gewonder hoekom hulle dit so naby geboude gebiede afvuur.… Lees meer »
Uitstekende besluit!