Vaalharts-moorde: Ander 4 só aangekeer

Die vier verdagtes van links: teen Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43). Agter: Tsepaone Melato (20) (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Donald Seoleseng (21), Kgomotso Mpulwana (43), Realeboga Manyedi (20) en Tsepaone Melato (20) is op 28 Julie 2022 vroegoggend in ʼn silwerkleurige Mazda CX5 op die N12, in die rigting van Vryburg, Noordwes, agternagesit en in hegtenis geneem.

Hoewel die motor ʼn Noord-Kaapse nommerplaat gehad het en die polisie op soek was na ʼn Gautengse nommerplaat, het konst. Stefaans Mangate van die Noord-Kaapse polisie se trio-misdaadeenheid en sersant Altus Coetzer, van die polisie se honde-eenheid in Hartswater, kop gehou om wel dié motor af te trek en ondersoek in te stel.

“Wees op die uitkyk vir ’n silwer Mazda CX5 met ʼn Gautengse nommerplaat. Dié behoort aan die vermiste Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54).”

Dit is die berig wat Mangate en Coetzer gekry het nadat die polisie op ʼn moontlike plaasaanval op die Brand-gesin se kleinhoewe in die Magogong-omgewing in die Noord-Kaap reageer het. Die Brand-gesin was egter nêrens op die plaas te sien nie en is later dood aangetref.

Konst. Stefaans Mangate in die getuiebank [Foto; Anja van der Merwe, Maroela Media]

Mangate getuig hulle het pas van die toneel gery waar Elzabie se rooi Nissan Micra verlate gevind is. Die beamptes het in die rigting van Taung gery toe hulle sien hoe die Mazda aan die linkerkant van die pad stilhou en “ʼn jong manspersoon” afgelaai word.

Die manspersoon is in die hof as Tshepo Visagie (36) geïdentifiseer.

“ʼn Vrou het uit die agterste sitplek van die voertuig geklim en aan die bestuurderskant ingeklim. Die motor het weer beweeg en ons het dit agternagesit,” getuig Mangate.

Die beamptes het die motor voorgekeer en dit is toe dat nog ʼn man uit die motor spring en in die veld inhardloop. Coetzer se hond het hom later gevang en is as verdagte vyf (Melato) geïdentifiseer.

“Ek het na die bestuurderskant van die motor gestap en die vrou aangesê om die motor af te skakel. Ek het na die lisensieskyf van die motor gekyk en toe gesien die motor het wel ʼn Gautengse nommerplaat. Dit was dus die motor waarna ons gesoek het.”

Mangate het die vrou en nog twee insittendes (mans) gevra om uit die motor te klim.

“Ek het die vrou se selfoon gevat, na die foto-album gegaan en drie foto’s van die vrou in die motor gesien. Ek het haar gevra wie se selfoon dit is, maar sy kon nie sê wie die eienaar van die selfoon is nie. Die ander insittendes het volgehou dat die selfoon aan die vrou in die motor behoort.

“Ek het na die selfoon se album WhatsApp-foto’s gegaan en daar op foto’s van die vermiste egpaar (Dan en Breggie) afgekom.”

Mangate het die ander twee insittendes se selfone ook gekonfiskeer en die motor daarna deursoek. Daar is beslag gelê op nóg twee selfone, twee geheuestokkies, ʼn skootrekenaar, skootrekenaarkabels en luidsprekers.

Volgens Mangate was die insittende op die agtersitplek se klere vol bloed. Dié is ook gekonfiskeer en die verdagte het ʼn polisieoorpak gekry om aan te trek.

Die insittendes is in boeie geslaan en is later geïdentifiseer as Seoleseng, Manyedi en Mpulwana.

Toe Mangate die verdagtes ondervra oor die vermiste Brand-gesin, het Manyedi geantwoord dat “een persoon steeds lewendig is en dat hy bereid is om hulle te gaan wys waar sy is”.

Manyedi het polisiebeamptes die aand kort ná middernag (27 Julie) gaan wys waar Elzabie se liggaam is. Sy is in ʼn blou duvet in ’n watergat in die Taung-omgewing gevind.

In daardie stadium was nie Dan of Breggie se liggame al gevind nie.

Tshepo is dieselfde dag net na 16:00 by die Majaneng-nedersetting naby Taung vasgetrek.

Die Brand-egpaar se dogters, Trudie de Beer, Heidie Taljaard en haar man, Wikus, woon nog elke dag die hofsaak saam met Johan Kloppers, berader by AfriForum se traumaeenheid, by.

Ná die vierde dag in die hof sê Kloppers die susters doen onder omstandighede goed, hoewel emosies soms steeds die oorhand kry.

“Hulle wil graag hê die proses moet vinniger verloop. Hulle is redelik op hoogte met die getuienis wat tot nou gelewer is. Hulle soek antwoorde, wat heel moontlik nie alles beantwoord gaan word nie,” sê Kloppers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Delia ·

Baie goeie werk SAPD. Ek vra weer..hoe op aarde word die klagtes teen 1 teruggetrek al was hy saam in die vermoorde mense se voertuig. Is dit die deal net omdat hy Elzabie se liggaam uitgewys het????

christo ·

Uitstekende werk vir dié twee SAPD lede. Ongelukkig kry die hardwerkende lede nie die erkenning wat hulle verdien nié, want hulle stel die luies in slegte lig. En jy kan maar vergeet om vir ‘n opgeleide viervoetige lid weg te hardloop.

Frank ·

Konst Mangate vir Cele se pos!!!!! Iemand wat wil, en meer belangrik, KAN!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.