Van Rhyn is nuwe US-raadslid

Dr. Louise van Rhyn is pas verkies tot die Universiteit Stellenbosch se raad. (Foto: Twitter/ Louise van Rhyn)

Dr. Louise van Rhyn sal adv. Jan Heunis SC se plek op die Universiteit Stellenbosch (US) se raad inneem as verteenwoordiger van die US-konvokasie.

Van Rhyn is verlede week op die raad ingestem nadat Heunis bedank het weens ʼn mosie van wantroue wat Van Rhyn self teen hom ingestel het.

Haar aanstelling is van Maandag af van krag en sy sal tot 10 September 2027 op die raad dien.

Van Rhyn is ʼn maatskaplike entrepreneur en het in 2005 haar doktorsgraad in bestuur aan die Universiteit van Hertfordshire se sakeskool in Brittanje verwerf. Sy is die stigter van Symphonia for South Africa, ʼn organisasie sonder winsbejag wat poog om lede van die samelewing te mobiliseer om maatskaplike probleme te takel.

“Ons wil graag elke lid van die konvokasie wat aan die verkiesing deelgeneem het, bedank en waardeer almal wat hulle verkiesbaar gestel het om die US in hierdie kapasiteit te dien,” het die universiteit in ʼn e-pos aan oudstudente gesê.

Sewe kandidate is vir die vakature op die raad benoem, maar een is gediskwalifiseer nadat die lid die universiteit se logo, databasis of e-poslys tydens sy of haar veldtog gebruik het. Dit is strydig met die universiteit se beleid rakende konvokasielede wat op die raad wil dien.

Heunis het in Junie sy bedanking as president van die konvokasie ingedien nadat die konvokasie ʼn buitengewone vergadering belê het waartydens twee mosies van wantroue – onder andere in Heunis – oorweeg sou word.

Die mosie van wantroue het verband gehou met die onlangse bewerings van nepotisme teen die universiteit se visekanselier en rektor, prof. Wim de Villiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Euodia ·

Jammer Mnr Smit het met paar stemme uitgeval!!! Beste keuse by verre!!!!!

houopkruip ·

Skelmbosch se verlede (dekades al) was nog altyd liberaal, links, woke-vriendelik.

annie ·

‘n Maatskaplike werker? Hoe edel. En toe druk sy adv Heunis uit, uit die liefde van haar hart vir die saak van die rektor en voorsitter van die raad. Die US is ‘n ope boek… voor in die ingangsportaal van die hoofgebou. Geslagsveranderinge en alles wat hip is, is sekerlik volgende op die lys van moets as jy by die US wil studeer. Wanneer word ‘n paar cannabis plante voor in die tuin voor die rektor se ruim kantoor, aangeplant ? Kry lewe in Stellenbosch!

Republikein in die Wes Kaap ·

In ‘n onafhanklike Wes-Kaap sal Stellenbosch en die ander drie universiteite hul staats subsidies verloor en gedwing word om te privatiseer. Dan is al die kampus strooi opgelos, en baie doktore en professore weer nederig op soek na sinvolle werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.