Vasberade, verlief: hospitaaltroue vir paartjie ná ongeluk

Godfrey Maboi (49) en Paulinah Mogale (44), ʼn paartjie van Daveyton, het ondanks ʼn onlangse motorongeluk wat die bruidegom gehospitaliseer gelaat het, trou aan mekaar beloof (Foto: Verskaf)

Die Verre Oos-Rand Hospitaal in Gauteng het Sondagaand die unieke bruilofbestemming in ʼn hartroerende liefdesverhaal geword. Godfrey Maboi (49) en Paulinah Mogale (44), ʼn paartjie van Daveyton, het ondanks ʼn onlangse motorongeluk wat die bruidegom gehospitaliseer gelaat het, trou aan mekaar beloof.

Die paartjie se liefdesverhaal strek volgens die Gautengse departement van gesondheid oor ʼn tydperk van 28 jaar en hul reis na die altaar het in Desember verlede jaar momentum gekry toe hulle amptelik verloof geraak het. Hul troue sou Sondag wees, ʼn dag waarna hulle uitgesien het.

ʼn Motorongeluk verlede Saterdag, slegs agt dae voor die groot dag, het egter beteken Maboi moes in die hospitaal opgeneem word en dit het gedreig om hul langverwagte troudag te kelder.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, sê die paartjie se vasbeslotenheid om hul verbintenis te laat bevestig, het egter onwrikbaar gebly.

“Toe die egpaar hul trouplanne met die personeel by die Verre Oos-Rand Hospitaal gedeel en die belangrikheid van die geleentheid verduidelik het, het die hospitaalbestuur ingestem dat die huwelikseremonie in die saal waar Godfrey behandel word, kan plaasvind.

“Die bruid en bruidegom het Sondagaand saam met hul pastoor hul beloftes teenoor mekaar gemaak, omring deur die liefde en ondersteuning van die personeel en hul gesinne wat deur video-oproepe ingeskakel het,” sê Modiba.

Die provinsiale LUR vir gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het die egpaar gelukgewens en hulle sterkte in hul huwelik toegewens.

“Julle verhaal is vir baie ʼn inspirasie en ʼn bewys dat liefde altyd ʼn manier sal vind [om te blom], ongeag die struikelblokke wat ʼn mens in die lewe teëkom.”

Sy het die bestuur en personeel van die Verre Oos-Rand-hospitaal, wat verseker het dat dit ʼn onvergeetlike dag vir die egpaar word, vir hul besonderse ondersteuning geloof.

“Hul toewyding tot pasiëntsorg en hul bereidwilligheid om hierdie belangrike lewensgebeurtenis te fasiliteer, getuig van die uitstaande professionaliteit en menslikheid binne die gesondheidsorgberoep. Dit strook met die dienskultuur wat ons in alle openbare gesondheidsfasiliteite probeer bevorder,” sê Nkomo-Ralehoko.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karoo ·

Geluk…. by die ongeluk. Wat ‘n goed voel storie, na 28 jaar van loer vir mekaar was dit omtrent tyd, alles wat mooi is.

Olive ·

Hulle kon sekerlik bietjie gewag het? Dit kom baie mense oor en dit is ongelukkig die loop van die lewe. Laat die hospitaal personeel eerder hulle werk doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.