‘Veediefstalsindikaat-leier’ kry borgtog, maar steeds agter tralies

(Foto: Facebook/Cliffton Rasta Kenosi)

Die vermeende veediefstalsindikaat-leier Rasta Kenosi, wat na bewering betrokke was by die vergiftiging van tientalle beeste in Noordwes, is Donderdag borgtog van R5 000 in die Ganyesa-landdroshof toegestaan waar hy op aanklag van poging tot moord verskyn het.

Maroela Media het vroeër berig boere in die Bray-omgewing word al vir meer as ʼn dekade deur ʼn gewetenlose veediefstalsindikaat geteister wat klaarblyklik sy invloed tot hoog op in die polisie laat geld.

Kenosi is glo al talle kere op beeldmateriaal geïdentifiseer, wat deur verskeie veiligheidskameras op plase en langs paaie vasgelê is.

Hendrik Reyneke, veiligheidsvoorsitter van die Tlakgameng-boerevereniging, wat ook vandag by Kenosi se hofverskyning teenwoordig was, sê hoewel Kenosi op die aanklag van poging tot moord borgtog toegestaan is, hy steeds in aanhouding sal bly vir ʼn saak van opsetlike beskadiging van eiendom teen hom.

“Hy sal na verwagting in aanhouding in Vryburg bly tot sy volgende hofverskyning op 4 Januarie.

“Ons is dankbaar dat die twee sake opgedeel is en dat Kenosi langer agter tralies bly. Ons is veral ook dankbaar vir die werk wat die spesiale ondersoekspan onder leiding van kol. Dawie Lange tot dusver reggekry het, dit is die verste wat enigiemand nog ooit in ʼn saak teen Kenosi gekom het.”

Volgens Carin Visser, lid van die parlement en afgevaardigde van die Nasionale Raad van Provinsies vir Noordwes, verwag die DA dat die 75 saaknommers van doelbewuste vergiftiging en saakbeskadiging, veediefstal, en stropery deur kundiges ondersoek sal word.

“Ons verwag ook dat die saak van veediefstal waarop hy skuldig bevind is in 2016 en waar vonnisopleggings verskeie kere in die hof uitgestel is, nou ook deur die regmatige prosesse van die wet afgehandel sal word.”

(Foto: Facebook/Cliffton Rasta Kenosi)

Sy meen dat die veeprodusente in die gebied geen vertroue meer in die bevoegdheid van die polisie met betrekking tot ondersoeke – asook die sloerdery deur die howe – het nie.

“Wet en orde moet as ʼn prioriteit herstel word sodat alle gemeenskappe teen kriminaliteit beskerm sal word en die integriteit van die polisie moontlik herstel kan word.”

Petrus Sitho, uitgesproke aktivis teen plaasmoorde en -aanvalle, wat tot dusver nog by elk van Kenosi se hofverskynings was, het sy ongelukkigheid met die hof se beslissing uitgespreek.

“My hart is baie seer vandag. Blykbaar is Kenosi sieklik en op kroniese medikasie, en dus nie ʼn vlugrisiko nie. Volgens die regter sal hy ook nie met getuienis inmeng nie. Vir my is dit net weer ʼn bewys hoe daar geen geregtigheid vir boere in die huidige bestel bestaan nie. Hy kom met moord weg. Die regering het ons boere weereens gefaal,” sê Sitho.

Hy meen dat talle boere se lewens nou in gevaar is.

“Kenosi kan doodeenvoudig net met sy bedrywighede voortgaan. Vee gaan gesteel en vergiftig word, hulle kan dit mos weer doen? Want hulle kom weg daarmee,” sê Sitho.

Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri NW, het die jongste hofbeslissing as skokkend bestempel.

“Ek is uiters dankbaar dat Kenosi tog in aanhouding bly, maar dit is absoluut skokkend dat ʼn persoon wat van poging tot moord aangekla word – en deur talle ander aanklagtes in die gesig gestaar word – borgtog van R5 000 toegestaan word.

“Ek kan dit regtig eintlik nie eens glo nie,” sê Pienaar.

Hy meen egter dat Agri NW alles in hul vermoë sal doen om seker te maak dat Kenosi in aanhouding bly en boet vir die skade wat hy glo boere in die omgewing berokken het.

Ek bring ongelukkig slegte nuus.Rasta Kenosi wat na bewering betrokke was by die vergiftig van meer as 130 beeste oor…

Posted by Tewie Wessels on Thursday, December 28, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.