Veiligheidsbeamptes in hof vir aanranding van polisie

(Foto: Twitter/SA Police Service)

Twee veiligheidsbeamptes, Peter Ramokane en Sibusiso Diokweni, het Donderdag in die Westonaria-landdroshof in Gauteng verskyn nadat hulle glo twee polisiebeamptes – ten aanskoue van lede van die publiek – beledig, gevloek en aangerand het.

Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die voorval Dinsdag plaasgevind en is dit deur Diokweni in ʼn video vasgevang, wat sedertdien soos ʼn veldbrand versprei het.

“Die gemeenskap van Simunye aan die Wes-Rand het ʼn valhek opgerig en veiligheidswagte aangestel om toegangsbeheer te verseker.

“ʼn Generaal-majoor van die polisie het by ʼn vriend gaan kuier toe die sekuriteitsbeamptes hom voorgekeer het en hom wou deursoek. Hy het geweier, waarna die veiligheidsbeampte hom begin beledig het.

“Die generaal het glo daarna die veiligheidsbeampte gewaarsku, waaraan daar geen gehoor gegee is nie,” sê Mjonondwane.

“Toe die generaal hulp ontbied deur ʼn konstabel te bel, het Ramokane die generaal na bewering aangerand.”

Die Konstabel het later by die toneel opgedaag waarna hy ook na bewering aangeval is.

Die video wat wyd op sosiale media gedeel is wys hoe die sekuriteitsbeampte en die konstabel stoei, waarna Ramokane probeer het om die konstabel van sy dienspistool te beroof. Hy het ook glo die konstabel se polshorlosie gebreek en na bewering die generaal sowel as die konstabel aangerand.

“In die video kan gehoor word hoe die tweede beskuldigde, Diokweni, albei beamptes ten aanskoue van lede van die publiek vloek en beledig terwyl albei polisiebeamptes steeds in hulle polisie-uniform geklee,” sê Mjonondwane.

Verdere steun van die polisie is oomblikke later ontbied, waarna Ramokane en Diokweni op aanklag van poging tot roof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, weerstand teen arrestasie en crimen injuria in hegtenis geneem is.

Die saak is egter vir verdere ondersoek uitgestel en albei beskuldigdes is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hulle sal weer op 29 September in die landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Piet Snot ·

Gegewe ons algemene gevoel teenoor die polisie, kan ek nie help om te glimlag nie.
Ek weet ek moenie, maar ai.

Aggie ·

So, kon die generaal en die konstabel hulle nie eens self verdedig nie?

Gert ·

Het die video gesien, dis lagwekkend om te sien hoe die ouens spartel…. 2 polisie manne kon nie een “krimineel” vasvat nie, gelyk of hulle al 3 met olie besmeer is. Nie een kon stilstaan of vatplek aan die ander kry nie.

JohnnyS ·

Die oprigting van hekke op openbare paaie is onwettig. Dit raak ‘n groot probleem. Daar is ‘n proses wat gevolg moet word, en selfs indien daar toestemming gegee word mag die vrye toegang van verkeer nie belemmer word. GEEN persoon mag deursoek word of ondervra word by die hek. Die ironie is dat baie misdaad base wegkruip in die sogenaamde sekuriteits areas omrede die polisie nie sommer maklik toegang kan kry. Gewoonlik het hulle dan ook ‘n reëling met die wagte wat hulle waarsku wanneer SAP die gebied binnegaan.

Jasper ·

Cadre aanstellings sonder opleiding of om deur die range te vorder, daar het jy dit.

JohnnyS ·

Ek verstaan nie wat het dit met die situasie te doen. Die SAP lede was korrek in hulle optrede.

Jaco ·

Elke tweede Jan Rap en sy maat wil mos net sommer hekke opsit en alles toemaak. Dit is ‘n irritasie vir die meeste mense en beskerm in elk geval nie regtig iemand. Kriminele teiken juis die secure areas.

Pieter ·

Baie interessant dat ‘n generaal in uniform nie eers vertrou word nie.

Althes ·

Die polisie is nie verhewe bo sekuriteitswagte nie. En ñ rang gee jou nie toegang om reëls te breek in die breë publiek omgewing nie. Generaal indien jy gedoen het wat die beampte van jou verwag het, sou hierdie onderonsie nie plaasgevind het nie.

JohnnyS ·

Eintlik is die SAP verhewe bo sekuriteits wagte, veral in die situasie. GEEN persoon mag sonder die nodige permit ‘n openbare pad net sommer toemaak met ‘n hek. Indien so permit uitgereik word spesifiseer dit baie duidelik dat GEEN persoon verhoed mag word om die openbare pad te gebruik, maw daar MAG NIE TOEGANGS BEHEER toegepas word. Geen persone mag deursoek word of enige vrae gevra word. Die sekuriteits beamptes was die wat die wet oortree het.

JohnnyS ·

En net soos die beamptes n lekker tydjie agter tralies sit en met lang hofsake sit, baie goeie besluit.

marius ·

As die polisie nie te sleg was om hul werk te doen nie sou dit nie nodig wees vir privaat sekuriteit en ‘n hek nie. So die hele voorval is die polisie se skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.