Verbod op vervoer van beeste weens bek-en-klouseer

Die departement van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling het ʼn verbod op die verskuiwing van beeste aangekondig in ʼn poging om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp.

Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van landbou, het Maandag tydens ʼn vergadering met rolspelers in die bedryf, onder wie lede van die nasionale dieregesondheidsforum, provinsiale dieregesondheidsforum-voorsitters en ander lede, die ingrypende stap aangekondig.

Dit sal van Dinsdag geld.

Meer besonderhede oor die verbod sal na verwagting later vandag in die Staatskoerant bekend gemaak word.

Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusentevereniging (RPO), sê beeste kan wel verskuif word, mits daar ʼn permit hiervoor uitgereik word.

“Dit is drastiese stappe, maar ons moet onthou dit bly ʼn beheerde siekte en dit is die departement se besluit,” sê Schutte.

“Ons sal mettertyd weet wat die tydperk [van die verbod is], maar hulle het gesê korter eerder as langer.”

Die maatreëls is ook ingestel sodat inentings op datum gebring kan word.

“Die enigste spesie wat tans deur die verbod geraak word, is beeste. Dit gaan nie skape, bokke en varke raak nie. Wild in veilingsbomas word ook nie in hierdie stadium deur die verbod geraak nie. Dít omdat buffels fyn dopgehou word en diere vir bek-en-klouseer getoets word voor hulle verskuif word,” lui ʼn verklaring van Wildbedryf SA (WRSA).

Die organisasie waarsku egter dat alle verskuiwing van gesplete hoefdiere met waaksaamheid onderneem moet word.

Die verspreiding van bek-en-klouseer hou ʼn beduidende gevaar vir die beesbedryf in. Die uitbreking van die siekte het in Maart vanjaar reeds daartoe gelei dat China die invoer van diereprodukte van alle gesplete hoefdiere opgeskort het. Dit sluit wol en beesvleis in.

Landwyd was daar sedert die einde van Julie meer as 100 gevalle van bek-en-klouseer.

Die epidemie het meer as ʼn jaar gelede buite die Suid-Afrikaanse beheergebied in Limpopo en KwaZulu-Natal uitgebreek en ses maande gelede het dit ook na Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga versprei.

In die Vrystaat is twee kwarantyngebiede onlangs afgekondig en in een van die jongste gevalle is die voorkoms van die hoogs aansteeklike dieresiekte net buite Pretoria aangeteken.

Suid-Afrika het sy bek-en-klouseervryestatus in 2019 verloor en die verwagting is dat dit te midde van die huidige krisis nie sommer weer toegestaan sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Witbaard ·

Ek persoonlik dink die probleem ontstaan by sekere kleinboere wat nie behoorlike spuitprogramme het nie en ook nie oor die nodige kundigheid beskik nie.

SjN ·

Moet daar nie wetgewing in plek wees om aan minimum standaarde te voldoen alvorens jy met diere kan boer nie, in townships loop die beeste op ashope en plastieksakke eet, as my beeste dit inkry, vrek hulle.

Anel ·

En wie moet ons bedank? Die klomp wat beeste het wst van die een kant van die pad na die ander loop, wat nie geent word nie, ens. ens…..Sê verder niks. Nou moet die hele land onder die lot lei!!!

Brandwag ·

Raai wie is skuldig, boere self wat die beeste 6 maande terug oor die landsgrense ingesmokkel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.