Verbrande liggaam dalk dié van vermiste in weermagsaak

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die saak teen drie soldate van die weermag (SANW) het Maandag ’n onverwagse wending geneem toe die staatsaanklaer in die Pretoriase landdroshof onthul het dat ’n erg verbrande liggaam onlangs gevind is en moontlik met die saak verbind word.

Daar word vermoed dat die liggaam wat gevind is, dié van óf Sibusiso Phetla (39) óf Jerome Lebaka (41) is. Die twee mans is op 13 Februarie glo in opdrag van twee senior generaals van die weermag in Salvokop in Pretoria ontvoer en vermoor.

Volgens die aanklaer is daar reeds DNS-monsters van die liggaam, asook van die ouers van een van die slagoffers verkry. Die saak is nou tot 8 Februarie uitgestel om te verseker dat DNS-uitslae teen die volgende hofdatum beskikbaar is.

Maroela Media het vroeër berig ’n ooggetuie het twee senior weermaggeneraals geïdentifiseer en direk met die saak verbind, maar hulle is nie in hegtenis geneem of aangekla nie.

Drie soldate – Sinovuyo Botha, Aviwe Dosi en Sindile Ncomelo – word wel vervolg. Die drie word beskuldig van Phetla en Lebaka se ontvoering en aanranding.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vroeër gesê dit lyk asof die drie beskuldigdes as sondebokke gebruik word om die generaals teen vervolging te beskerm.

Die eenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag namens Phetla se ma, Mirriam, op.

Die privaatvervolgingseenheid het verlede maand ’n diensklag teen die betrokke ondersoeker in die saak by die polisie ingedien nadat ’n betroubare bron die eenheid meegedeel het dat die ondersoeker glo verskeie opdragte van die aanklaer verontagsaam het. Dit sluit in die inhegtenisneming van die twee weermaggeneraals.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

domheks ·

NOOIT! ‘n Generaal kan mos nie skuldig wees nie! Die range word mos uitgedeel soos suigstokkies. En dan sal hulle mos nooit skuld erken nie – verhewe bo die wet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.