Weermaggeneraals by moord betrek

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid eis antwoorde van die polisie oor waarom twee senior generaals van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) nie in hegtenis geneem is nie ondanks ’n uitdruklike opdrag van ’n staatsaanklaer om dit te doen. Die generaals word verbind met die ontvoering en moord van twee mans.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê twee mans, Sibusiso Phetla (39) en Jerome Lebaka (41), is op 13 Februarie glo in opdrag van die generaals ontvoer en vermoor. Die voorval het in Magasynstraat in Salvokop, Pretoria, afgespeel.

Die generaals is deur ’n ooggetuie geïdentifiseer en direk met die saak verbind, maar nie in hegtenis geneem nie. Volgens Bateman is die misdaadtoneel nie eers deur polisieondersoekers besoek nie.

“Drie soldate wat by die saak betrek word, Sinovuyo Botha, Aviwe Dosi en Sindile Ncomelo, het Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn op klagtes van die ontvoering en aanranding van Phetla en Lebaka,” sê Bateman.

“Dit blyk dat die drie beskuldigdes as sondebokke gebruik word om die grootkoppe teen vervolging te beskerm.”

Die saak is tot 19 September uitgestel vir blootlegging van die inhoud van die dossier aan die beskuldigdes.

Die privaatvervolgingseenheid het nou ’n formele klag by die polisie ingedien om die twee generaals te vervolg.

Phetla se ma, Mirriam Phetla, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader toe die generaals nie as beskuldigdes by die saak gevoeg is nie.

Mirriam het in haar klagte aan die eenheid gesê dat sy genader is deur ’n man wat nou ’n staatsgetuie is. Hy het die oomblikke wat gelei het tot haar seun en sy vriend se verdwyning aan haar beskryf. Sy sê daar is aan haar vertel hoe haar seun en twee ander verdwaal en in Salvokop beland het, waar hulle deur verskeie soldate genader is, onder wie twee generaals wat glo in die gebied woon.

Mirriam beweer dat skote afgevuur en haar seun en Lebaka daarna aangerand is, na bewering in opdrag van die generaals.

“Die getuie het daarin geslaag om die gebied te verlaat, maar sonder haar seun en die ander man. Dit was die laaste keer dat hulle lewend gesien is.”

Volgens Bateman is die ondersoek duidelik onvolledig weens die voormelde optrede van die ondersoekbeampte.

“Die aanklaer het die hof meegedeel dat die ondersoekbeampte gevra is om waarskuwingsverklarings van die twee generaals te bekom en hulle in hegtenis te neem en as beskuldigdes in die saak te voeg. Hierdie instruksies is egter geïgnoreer.”

Die ondersoeker het ook skynbaar nie aan ander opdragte van die staatsaanklaer gehoor gegee nie.

“’n Ruim vertolking van die situasie is dat die ondersoeker nie daarin belangstel of in staat is om sy pligte uit te voer en om eenvoudige instruksies van die aanklaer na te kom nie. ’n Verdere onafwendbare afleiding is dat daar ’n geheul tussen die polisie en die SANW is om die twee generaals van strafregtelike vervolging te beskerm,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid.

Die staatsaanklaer het die hof verder meegedeel dat die SANW nie saamwerk in die ondersoek nie.

Nel sê die saak is ’n blatante geval van selektiewe vervolging wat ten doel het om verdagtes binne die hoogste vlak van die weermag te beskerm.

“Boonop word ons kliënt se belange vertrap deur die blatante verontagsaming van werksetiek deur die ondersoekbeampte en sy hoof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

vuurvliegie ·

Afriforum moet toesien dat die polisie ondersoeker toegesluit word.

Henri ·

‘n Paar vrae kom by my op. Hoekom sou twee generaals uit hulle huise kom om drie verdwaalde mense te laat aanrand? Hoekom is daar geskiet, en deur wie? Hoe word twee mense vermoor ten aanskoue van ‘n derde, en die gewetenlose moordenaars laat hom wegkom? Hoekom sal drie weermaglede hulle laat arresteer vir moord, as hulle weet ‘n getuie kan hulle straf laat versag? Ek verdedig nie die weermag of die polisie nie, ek vra maar net, want dit is ‘n uiters eienaardige berig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek glo tog Gerrie Nel se span het genoeg skietgoed om die o/korporaal-generaals te sink.

domheks ·

Kaders, kaders, kaders. As die GENERAALS maar die rang verdien het. Maar dit is maar weereens ‘n kaderaanstelling deur cANCer.

Di ·

SO beskerm die kriminele in die regering mekaar. Geregtigheid moet geskied, hulle is NIE verhewe bo die wet nie. Grootste korrupte spul bymekaar. Hoop hulle word van die moord aangekla en word in die tronk gestop.

Pieter ·

Vrot tot op die been, wat gaan van SA word met sulke korrupte mense in hoee poste. Ons is sterk oppad om nog n zim te word. Maak maar solank n paar goedjies bymekaar, swaar tye le voor

Wiehan ·

Die Bulterrier is op julle. Waar hy byt, los hy nie tot jy geval het nie.

Danie ·

NIEMAND is bo die wet verhewe nie.Maar in SA en met die regte verbintenisse is jou kop deur en veral as jy politieke vrinne het.So beskerm die lot mekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.