Verbruikers beslis nie vrolik dié feestyd

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die ellende wat vanjaar se lewenskostekrisis veroorsaak het, het die feestyd alles behalwe vrolik ingelui, en eerder ʼn negatiewe ingesteldheid by verbruikers laat ontstaan.

Verbruikers is die afgelope drie maande meer pessimisties as wat hulle in die afgelope 20 jaar was. Verbruikers is selfs meer negatief as wat hulle tydens die Covid-19-pandemie was.

Die ongelukkigheid dui daarop dat verbruikers streng beheer oor hul beursies sal moet uitoefen wanneer hulle inkopies vir die feestyd doen.

FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) het vanjaar ʼn indeks van verbruikersvertroue opgestel en tot die gevolgtrekking gekom dat kleinhandelaars wat duur luukshede verkoop veral swaar gaan trek dié feestyd.

Dit is omdat diegene in die hoë- (wat R20 000 of meer per maand verdien) tot middelinkomstegroepe (wat tussen R5 000 en R20 000 per maand verdien) veral ʼn negatiewe ingesteldheid oor die stand van sake het.

Volgens die indeks het beide dié groepe se verbruikersvertroue met twee punte gedaal en op onderskeidelik -19 en -17 te staan gekom.

Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom by FNB, sê die hoë- en middelinkomstegroepe is waarskynlik bekommerd oor die hoë rentekoers en merkbare verswakking in Suid-Afrika se fiskale posisie. Die moontlikheid dat belasting waarskynlik gaan verhoog help ook nie met dié groepe se bekommernisse oor die toekoms nie.

Gevolglik sal daar minder produkte verkoop wat sensitief is vir rentekoersveranderinge vergelyke met dieselfde tydperk verlede jaar.

Hierteenoor het verbruikersvertroue in laeinkomstegroepe (wat minder as R5 000 per maand verdien) met drie indekspunte verbeter.

“Met ʼn verbruikersvertroueindeks van -13 is laeinkomstegroepe minder pessimisties oor die vooruitsigte vir die nasionale ekonomie en hul eie huishouding se finansies in vergelyking met meer welgestelde verbruikers,” sê Matikinca-Ngwenya.

Sy vermoed dat meer werksgeleenthede in die aanloop tot die feestyd gehelp het om laeinkomstegroepe se vooruitsigte vir die toekoms te verbeter.

Die aankondiging dat sekere maatskaplike toelaes tot Maart 2025 verleng word, het waarskynlik ook die vertroue van laeinkomstegroepe gewen.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Meer pessimisme, minder besteding

Matikinca-Ngwenya wys daarop dat ʼn lae vlak van vertroue dikwels ʼn aanduiding is dat verbruikers oor die toekoms bekommerd is.

“Hulle kan bekommerd wees oor werksekerheid, loonverhogings en bonusse en met só ʼn denkwyse is verbruikers geneig om slegs geld aan basiese benodighede te bestee om meer inkomste los te maak vir skuldterugbetalings.”

ʼn Toename in verbruikersvertroue weerspieël weer ʼn groter gewilligheid van verbruikers om geld te bestee. Hierdie gewilligheid vertaal slegs in werklike verkope as verbruikers se vermoë om te bestee verbeter.

Matikinca-Ngwenya verduidelik dat verbruikers se spanderingsvermoë van inflasiegebaseerde aanpassings aan hul inkomste afhang, asook die beskikbaarheid van krediet.

“ʼn Styging in verbruikersvertroue kan dus lei tot meer besteding aan huishoudelike items soos meubels, klere en motors.”

In vanjaar se geval, sê Matikinca-Ngwenya, kan kleinhandelaars steeds hoopvol wees dat verbruikers geld in die feestyd gaan bestee, al is die verbruikersvertroue uiters laag.

Hoewel verbruikers ʼn negatiewe persepsie oor die vooruitstigte vir die ekonomie het, het hulle ʼn veel beter houding oor hul eie huishoudings se vermeende finansiële vooruitsigte.

“Selfs al is die oorgrote meerderheid (veral ryker verbruikers) pessimisties oor Suid-Afrika se vooruitsigte, verwag ʼn klein meerderheid huishoudings (veral minder gegoede verbruikers) dat hul huishoudelike finansies oor die volgende jaar gaan verbeter,” sê sy.

Die lesing vir die ekonomiese vooruitsigindeks is tans ʼn reuse 31 indekspunte laer as die indeks vir huishoudelike finansies.

“Dit beteken dat noodsaaklikhede, produkte wat waarde vir geld is en bekostigbare luukshede waarskynlik steeds boaan verbruikers se inkopielys in die feestyd gaan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yolandie ·

Ja hoe het julle geraai – Suid-Afrikaners kry swaar. en dit raak net erger. Te danke aan ons regering wat niks voel vir die land en sy mense nie.

Nommer 7 ·

Ek merk dat waatlemoene nou ook ‘n rykmans vrug geword het teen R110,00 elk.

Andre ·

…jy moet regtig dof wees om iets te vertrou wat onder A en C beheer is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.