Die uitwerking van stygende vleispryse op verbruikers – veral dié in kwesbare lae-inkomste huishoudings – word al hoe duideliker en is veral sigbaar in ʼn ongelooflike groot vraag na bekostigbare varkvleis.
Die vervaardiger Eskort sê hy sien toenemend dat verbruikers hulle nou tot kostedoeltreffende opsies soos weenseworsies, polonie en lewer- of speksmeer wend in ʼn poging om proteïen te kan bekostig.
Die gemiddelde kosprysinflasie het volgens Statistieke Suid-Afrika in Februarie vanjaar op 6,4% gestaan en dit plaas al hoe groter druk op Suid-Afrikaners om kos op die tafel te probeer hou.
Eskort verskaf produkte aan kleinhandelaars soos Shoprite wat veral fokus op laer- en middelinkomsteverbruikers. Teen die einde van Maart het die vraag na die vervaardiger se weenseworsies en soorte smeer met tussen 11,4% en 15,2% op ʼn jaargrondslag toegeneem terwyl verbruikers soek na meer bekostigbare vleisalternatiewe om in hul inkopiemandjies te laai.
Arnold Prinsloo, Eskort se uitvoerende hoof, sê daar was noemenswaardige toenames in verkoopvolumes vir laerkoste-proteïenstapelvoedsel by kleinhandelaars wat veral laer inkomstegroepe bedien.
Middel- en lae-inkomste verbruikers is ook toenemend op die uitkyk vir winskopies wat hul rande sal laat rek.
“Die syfers wys hoe gevoelig kwesbare huishoudings tans vir kosinflasie is. Hulle skaal af na meer kostedoeltreffende produkte en plaasvervangers terwyl hul begrotings tot op breekpunt gedruk word,” sê Prinsloo.
Diegene in hoër inkomstegroepe is minder gevoelig vir pryse en in dié segment het die vraag betreklik bestendig gebly, ten spyte van skommelinge in pryse en kosinflasie.
Te midde van rekordhoë werkloosheidsvlakke en ʼn styging in die prys van brandstof, krag en kos, verwag Prinsloos wel dat al hoe meer ander verbruikers ook na varkvleis gaan begin kyk om duurder vleissoorte soos skaap en bees in die komende maande te vervang.
“Stygende vleisinflasie is dikwels positief vir die varkvleisbedryf. Teen rofweg die helfte die prys van beesvleis en sowat ʼn derde die prys van skaapvleis, is varkvleis dikwels ʼn uiters aantreklike opsie wanneer verbruikers na meer bekostigbare alternatiewe wil oorskakel,” sê Prinsloo.
Wat prys en voedingswaarde betref, bied varkvleis volgens Prinsloo uitstekende waarde vir geld en is daar ʼn wye verskeidenheid produkte beskikbaar om aan elke smaak te voldoen – en in elke begroting te pas.
“Ons verwag ook verhoogde vraag na produkte soos bladspek, worsies en Russiese worsies, terwyl lae- en middelinkomste huishoudings soek na maniere om hul kosuitgawes te besnoei.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
31 Kommentare
asb tog hou op invlasie of statistick SA gebruik want dit is so ver uit nie eers snaak nie hulle sal jou se oetrol net met 1% op is klomp snert man pryse is meer as 30% op
Mense ly honger terwyl die ANC-regering luukse motors ry. Wat ‘n skande!
Die regering sal ‘n stelsel van voedselkoepons moet instel want daar gaan mense dood van die honger in hierdie land.. Wanneer dit in plek is, moet bedelaars van verkeersligte verban word. Sommige beskou bedel as ‘n voltydse, lonende werk en nie noodwendig om kop bo water te hou nie.
Vleis is onbekostigbaar duur. Gister ‘n handjievol mince gekoop wat amper R120/kg was. ‘n Absolute skande.
Wanneer vrugte, groente en vleis te duur is. Dan kan dit maar op die rak bly en vrot word. Ek kan nie die hoe pryse bekostig nie. Kyk na Foodlovers se R 10 Dinsdag en R 30 Donderdag wins kopies.