Verdagte in hof oor moord op Kaapse tiener

Betogers eis geregtigheid na die dood van die 17-jarige Amahle Quku. (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn tiener van Philippi die afgelope naweek vermoor het, het Dinsdag vir die eerste keer in die Wynbergse landdroshof in Kaapstad verskyn.

Amahle Quku (17) se naakte liggaam is Saterdag by Browns Farm gevind.  Sy is luidens berigte verkrag, maar die owerhede wou dit nie bevestig nie.

Leonard Mzingeli (25), ʼn inwoner van die Siyangena- informele nedersetting in Philippi, is in verband met Amahle se moord aangekeer en het Dinsdag in die hof op ʼn moordklag verskyn.

Amahle Quku (17) is Saterdag in Kaapstad vermoor.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê nog aanklagte kan moontlik later teen Mzingeli aanhangig gemaak word.

Die saak is tot 7 Julie uitgestel wanneer Mzingeli na verwagting sal aansoek doen om borgtog.

Honderde mense, onder wie Amahle se skoolmaats en onderwysers, het Dinsdag die strate voor die Sinethemba High School ingevaar en geregtigheid vir die gr. 11-leerder geëis. Hulle was woedend oor die onlangse vlaag moorde op vroue en kinders in die land.

Die South African Youth Council (SAYC) in die Wes-Kaap het ook die hofverrigtinge bygewoon.

“Sedert die nuus [oor die moord] bekend geword het, het die SAYC in die Wes-Kaap die gesin en die gemeenskap van die Siyahlala- informele nedersettings ondersteun,” het Zuko Mndayi, die provinsiale sekretaris van die SAYC, gesê.

Leonard Mzingeli (25) het in verband met die moord op Amahle in die hof verskyn.

“Ons doen ʼn beroep dat die saak aan ʼn toegewyde taakspan van die polisie oorhandig word sodat dit spoedig afgehandel kan word. Borgtog mag ook nie aan die verdagte toegestaan word nie.

“Ons herhaal ook die eis vir sielkundige hulp vir die gesin soos uiteengesit in die ministeriële sespuntplan teen geslagsgeweld.”

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week gesê die parlement moenie talm nie met wetgewing wat hy al teen die einde van verlede jaar aangevra het om vroue en kinders teen geslagsgeweld te beskerm.

LP’s het daarna teruggekap en gesê die probleem lê nie by die parlement nie, maar by Ramaphosa se eie kabinet.

Die DA se hoofsweep, Natasha Mazzone, het uitgewys dat die kabinet nog nie ʼn enkele stuk wetgewing by die parlement ingedien het wat die parlement kan oorweeg nie, en dat die president die fout daarvoor kan gaan soek by die minister van justisie, Ronald Lamola, of by die minister van vroue, kinders en gestremdes, Maite Nkoana- Mashabane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.