Verdagte twee jaar later vas vir ds. Liezel-moord

Ds. Liezel de Jager (Foto: Verskaf)

ʼn Verdagte is vroeër die week in hegtenis geneem in verband met die moord op ds. Liezel de Jager.

Volgens Action Society, die drukgroep wat deur De Jager se ouers versoek is om die saak op te volg en te monitor, is die verdagte Donderdag in Bloemfontein in hegtenis geneem.

“ʼn Betroubare bron na aan die ondersoek het die inhegtenisneming bevestig,” het Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, gesê. “Die verdagte is in aanhouding en sal Maandag in die Durbanse landdroshof verskyn en van moord aangekla word.”

Maroela Media het navrae aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

Volgens Cameron het Action Society op 14 November verneem dat die nasionale eenheid vir onopgeloste sake die dossier op 6 November oorgeneem en onverpoosd gewerk het om ʼn deurbraak in die saak te maak.

“Ons is baie dankbaar vir die span beamptes wat die ondersoek oorgeneem en binne twee weke gedoen het wat twee jaar gelede gedoen moes word. Ons eer lede van die polisie wat steeds trots is op hul werk,” het Cameron gesê.

Liezel is die oggend van 13 Oktober 2021 met wurgmerke aan haar nek dood by die pastorie van die NG kerk Suidkus op Amanzimtoti aangetref nadat sy saam met ʼn groep mense gaan draf het.

Die moord op Liezel het skokgolwe deur die land gestuur. Geen van haar besittings is tydens die moord gesteel nie en haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref.

Maroela Media het destyds berig Liezel se man, Werner, het kort ná die moord verdwyn. Die wewenaar is later in ʼn bedenklike toestand in sy motor in ʼn suikerrietplantasie in Illovo-suid gevind en na ʼn hospitaal gehaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lizelle ·

Ek hoop geregtigheid kan nou geskied. Dit het so lank geneem om iemand te arresteer. Niks sal haar terugbring nie maar tenminste sal dit klein bietjie berusting bring as die skuldige boet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.