Verdagtes erken glo hulle het Duitse toeris beroof  

Nick Frischke (22) word tans in die Wes-Kaap vermis. (Foto: SAPD)

Drie van die vyf verdagtes wat met die besittings van die vermiste Duitse toeris, Nick Frischke (22), in hul besit betrap is, het glo in die Wynberg-landdroshof erken dat hulle die jong man beroof het.

Só het die Houtbaai-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) Dinsdag op sy Facebook-blad gesê.

Die gesteelde besittings sluit in Frischke se selfoon, identiteitsdokument, kredietkaart, rugsak en ʼn mes.

“Ondanks intensiewe ondervraging en die opvolg van inligting is daar nog steeds geen teken van die vermiste stapper nie. Die polisie se ondersoek duur voort.”

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat twee van die verdagtes op 21 Februarie in hegtenis geneem is en die ander drie op 23 Februarie. Die verdagtes word deur aanklagte van roof in die gesig gestaar en het Maandag in die hof verskyn. Die verdagtes is onder meer tydens ʼn klopjag in Houtbaai vasgetrek.

“Ons het rede om te glo dat die verdagtes die goedere tydens ʼn rooftog verkry het.

“ʼn Geïntegreerde soektog na Nick Frischke is nog steeds aan die gang terwyl die omstandighede na sy verdwyning ondersoek word.”

Volgens Traut sal die polisie weens die sensitiewe aard van die ondersoek nie oor moontlike uitkomste kan bespiegel nie, en ook nie enige inligting bekend maak wat die ondersoek kan benadeel nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Frischke vermoedelik verdwyn het toe hy ʼn staproete op Tafelberg in die omgewing van Houtbaai wou onderneem.

Frischke word sedert 15 Februarie vermis. Hy het in ʼn gastehuis in Pinelands oorgebly, maar nooit weer teruggekeer nadat hy die gastehuis omstreeks 10:00 op die betrokke dag verlaat het nie. Sy besittings is steeds by die gastehuis en Frischke het sedertdien nog nie weer met sy familie in Duitsland kontak gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

George ·

Daai vyf het hom vermoor. Mense moet nie dink die Kaap is veiliger as die res van SA nie, want hier gaan dit maar net so rof.

Linx ·

Soos graag Ek nie Wil hé j Moet reg wees nie Moet mens seker begin sane dink…D’s so verkeerd watse tipe mense is dt,my spreekwoord raak Al hoe meer waar “die duiwel maak duidlik ook mense

Ilze ·

Stuur die berig die wêreld in sodat mense kan sien met wat se onmenslike gemors ons in dié land moet saamleef.

Sandra ·

Ja nee, Suid Afrika is die verkeerde plek om te besoek wanneer dit kom by diefstal en ander misdade. Ek hoop hulle vind die man gou vir sy familie se onthalwe.

Sandra ·

Ek wil nie doemprofeet wees nie, maar wat is sy kanse om nou nog lewend gevind te word?

Onnie ·

Is die toeriste blind en doof? Of sien hulle SA deur rooskleurige brille? Kan iemand hierdie mense ASB inlig hoe GEVAARLIK dit is om alleen in afgeleë gebiede te stap! Wes Kaap polisie en Tafelberg toerisme moet regtig ‘n plan maak om die roetes behoorlik te beveilig, of hulle moet ophou om Kaapstad en Tafelberg as toeriste atraksie te bemark. Nevermind die slegte naam wat SA kry – wat van die groot getalle mense wat al hul lewens so wreed ,op en om Tafelberg, verloor het?? Dinge kan nie langer so aangaan nie.

Onnie ·

Hulle het hom 10 teen 1 vermoor, maar wil dit nie erken nie – dan net skuldig aan roof en is hulle môre weer buite op borg om lekker voort te gaan met misdadige bedrywighede. Ek voel baie jammer vir sy familie, maar ek dink ons almal weet wat regtig gebeur het… RIV

Amelia ·

Beroof en heelwaarskynlik vermooer wens die duitsers doen iets aan die dat hul so vermoor word as hul met vaknasie is hjier

Veritas ·

Ek sal nooit in my lewe Europese en andere toeriste se logika verstaan nie. Moenie alleen rondslyp in Suid Afrika nie, wat nog van gaan rondstap op berge ens, alleen, Hierdie is nie Europa nie, die risiko faktore is anders.

JohanR ·

Hoop nie soe nie maar wonder of die jong man nog leef? Kom SA toe as ‘n toeris word beroof en gedood. Wat ‘n wonderlike ANC land!

Casper ·

As hulle erken dat hulle hom beroof het moet hulle kan uitwysing doen,em moontlik kan hulle met sy moord verbind word.

Lillian ·

Hierdie kriminele wéét wat aangaan en waar dié kind is….

Andrè ·

Kla hulle aan vir moord dan moet jy sien hoe sing hulle……. o ja hulle het mos regte,sorry

Mariaan ·

Ag nee…dis darem hartseer..so mooi jong man…ons land is maar net nie die sprokie wat uitlanders dink nie..wens ander lande kon saamstaan teen hierdie wettelose regering en dinge hier regruk…ons is verlore in misdaad..bedrog…ens..die lys is te lank!

Sheree ·

Hierdie klink nie soos ‘n goeie uitkoms nie.. ai.. Kan maar net hoop.

Hennie Biebouw ·

Traut, wat is die “die sensitiewe aard van die ondersoek”? Die feit dat nog ‘n Duitse toeris waarskynlik vermoor is, enkele maande na Jorg Schnarr se moord by Numbi? Jy weet daai insident wat die ANC laat vuur spoeg het, omdat Suid-Afrika kwansuis nié ‘n gevaar inhou vir toeriste nie…?

M ·

Indien hierdie onskuldige jong man vermoor is, soos ek sterk vermoed, pleit ek hiermee dat die Doodstraf weer ingestel word. Daar bestaan baie meer maniere (bv DNS toetse) om moordenaars te identifiseer en hulle dan galg toe te stuur as klomp jare gelede.
Sou hy vermoor wees, is dit die teken dat “Die Kameel se rug gebreek is” ….. dit vra vir robuuste optrede en onmiddellike aksie. Genoeg is hiermee oorgenoeg. Punt

Amelia ·

Hulle dink seker nie die polisie sal die lyk opspoor nie en vat nou ‘n kans om weg te kom met net roof.

Maritza ·

Dan se Mr Pandor dis “vreemd” dat die VSA sy burgers waarsku.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.