‘Verdriet, woede’ ná gru-moord op ma

Charlene Pretorius (Foto: Verskaf)

Verdriet en woede.

Dít is die emosies wat die familie van Charlene Pretorius (42) Maandag by die landdroshof in Pretoria-Noord ervaar het toe haar man op aanklag van moord in die hof verskyn het.

Stephan Pretorius (38) word daarvan beskuldig dat hy petrol oor Charlene uitgegooi en haar daarna aan die brand gesteek het. Sy het ’n dag later in die hospitaal aan haar wonde beswyk.

Hy het Maandag sy eerste verskyning in die hof gemaak waar hy formeel van moord aangekla is. Sy regsverteenwoordiger het aangedui hy gaan om borgtog aansoek doen.

Stephan Pretorius (Foto: Verskaf)

Stephan het emosieloos in die hof gestaan en ná sy verskyning in die rigting van Charlene se kinders, Jason Venter en Shanie Koen, gekyk en vir hulle middelvinger gewys.

“Hy het sedert ons ma se dood nog nie een keer berou of enige emosie getoon nie,” het die kinders aan Maroela Media vertel.

Stephan en Charlene was sowat 16 jaar getroud en volgens Charlene se familie het sy vroeg vandeesmaand vir Stephan om ’n egskeiding gedagvaar.

’n Somber Saterdag

Jason het Saterdag omstreeks 14:00 ʼn oproep van sy stiefoupa, Willie, ontvang dat daar “petrol oor sy ma uitgegooi en sy aan die brand gesteek is”.

Volgens die polisie het die voorval Saterdag by ’n huis in Pretoria-Noord plaasgevind.

“Die verdagte en slagoffer was na bewering in sy motor voor die huis toe hy haar glo aan die brand gesteek het,” lui die verklaring.

’n Familievriend en betroubare bron het aan Maroela Media vertel die egpaar se 13-jarige dogter het vanuit die huis gesien hoe daar petrol oor Charlene gegooi en sy aan die brand gesteek word.

Volgens die polisie het Willie en sy vrou Nellie, en hul dogter, Ania, vanuit die huis vir Charlene hoor gil en na buite gehardloop.

Nellie en Ania het emosioneel buite die hof vertel hoe hulle gespook het om die vlamme te probeer blus.

“Ons het met Charlene na die Steve Biko-hospitaal gejaag. Sy het heel pad geskree van die pyn,” vertel Ania.

Die verdagte het na bewering van die toneel gevlug en is deur lede van Proshield Security op die N1-snelweg tussen die Stormvoël- en Zambezi-tolhek vasgetrek. Die polisie het net daarna by die toneel aangekom.

Charlene is Sondag omstreeks 12:00 in die hospitaal oorlede. Dit is in hierdie stadium nog nie bekend wat die presiese oorsaak van haar dood is nie.

Beskermingsbevel

Charlene se eksman, Fanie Koen, en haar dogter, Shanie Koen, Maandag by die hof (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens ’n familievriend en betroubare bron het Charlene “menigmale vertel dat sy bang is vir Stephan”.

Maroela Media het ook ’n beskermingsbevel onder oë gehad wat Charlene in Februarie teen Stephan bekom het. In die beskermingsbevel het Charlene vertel dat Stephan “gedreig het dat hy haar sal skiet”.

“Hy kan nie dit vat dat ek hom wil los oor die mishandeling nie,” het Charlene in die aansoek van die beskermingsbevel geskryf.

Charlene het net ná die aansoek van die beskermingsbevel by haar kinders ingetrek, vertel die bron. Sy het glo in die week voor haar dood gesê dat sy “ʼn aanvoeling het dat iets sleg met haar gaan gebeur”.

Nellie het snikkend ná die hofsaak gesê dat “daardie persoon in die hof nie haar seun is nie”.

“Ek ken nie daardie persoon nie,” het sy gesê.

Charlene se kinders is erg getraumatiseerd weens haar moord.

“Hulle kry nie die wrede prentjie van die wyse waarop sy gesterf het, uit hul kop nie,” sê die bron. “Dit was so onnodig en wreed.”

Die familie is tans besig om begrafnisreëlings te tref en beoog om Charlene te veras.

“Ons wil haar nie begrawe in die verminkte toestand waarin sy nou is nie,” sê die familie.

Stephan sal na verwagting op 6 Junie weer in die hof verskyn wanneer hy formeel om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Duck ·

Aag nee wat, hy is weer oor ‘n paar jaar terug buite. Mos ‘n lekker wetteloos land hierdie

Delia ·

Duck. Ongelukkig is dit n wereldwye ding…kriminele het mos ook regte.

Sê maar net ·

So onmenslik wreed. Wat ‘n vreeslike mens is haar man nie!! Baie sterkte aan die hele familie, veral die grootouers en kinders……. Mag God julle styf vashou en troos.

Harley Davidson ·

Die man het sy reg om te lewe verloor toe hy die afgryslike daad gepleeg het en in ‘n regverdige land met wyse regeerders sou hy verhoor en tereggestel gewees het.

Cornel ·

As dit my dogter was, sou hy nie eers die polisie-selle gemaak het nie

Amelia ·

ons voel almal so maar is nie moeite werd om vir so “mens” jou lewe in tronk deur te bring nie

Martie Smartie ·

Gee die gemors vir my, geen onkostes vir die belastingbetaler daarna nie. Swakkeling wat n vrou vermoor.

Hannelie ·

Hy het so ‘n regte kom ek slaan jou gesig. GEMORS nes die res van die land se goed wat onskuldige mense se lewens wreed beeindig.

Di ·

SKUIM! Daai gesig spreek boekdele. Hoop van harte dat die gemors nie borgtog kry nie. Hy moet kry wat hom toekom agter tralies. In die land weet mens nooit – kriminele het meer regte as ons

bolletjie blom ·

Wat gaan deesdae met die mense aan? Die arme vrou moes in die verskriklikste pyn verkeer het.

Papsak ·

Wel ek hoop hulle bere hom vergoed ver weg en gooi sleutels weg want wat hy gedoen het is bo wreedaardig regtig sterkte aan kinders en familie

Skappie ·

Watter mens doen so iets. Sterkte aan die familie en vriende van hierdie pragtige vrou.Mag onse Liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle, dra.

Minnie ·

Doodstraf moet her ingestel word.
Monsters soos die hoort nie in ons samelewing nie.
Dis darem wraggies baie wreed…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.