Vereniging gee duidelikheid oor kleuterskole

(Foto: Maroela Media)

Die SA Kindersorgvereniging sê daar is heelwat verwarring oor die heropening van sentrums vir vroeë kinderontwikkeling ná Vrydag se aankondiging dat die skoolvakansie vir staatskole verleng is.

Die departement van basiese onderwys het aangekondig bestuurspanne van skole moet op 25 Januarie by skole aanmeld, en onderwysers op 1 Februarie. Leerders moet op 15 Februarie terug wees by die skool.

“Die aankondiging deur die departement van basiese onderwys hou verband met hoërskole, laerskole en sentrums vir vroeë kinderontwikkeling wat besit en bedryf word deur skole onder die departement van basiese onderwys,” sê Arno van der Merwe, uitvoerende hoof van die vereniging. Dié bepalings is egter net op toepassing vir leerders van gr. R tot en met gr.12.

Volgens Charmaine Botha, hoof van EDUX SA ‘n organisasie wat spesialiseer in sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, mag kleuterskole na aanleiding van die hofuitspraak tans oop wees om na kleuters 0 tot 5 jaar om te sien. “Dit is egter baie noodsaaklik dat hierdie privaat besighede seker maak dat hulle al hulle voorsorgmaatreëls en Covid-19 regulasies in plek het en streng toepas om sodoende die veiligheid van die personeel en kinders in hul sorg te verseker. Gr R-leerlinge moet egter na afloop van die minister se versoek ook eers die 15de Februarie terugkeer skool toe.  Alle gr. R-leerlinge val onder die departement van basiese onderwys, dus moet betrokke sentrums seker maak stimulasie en onderrig vind aanlyn plaas totdat die skole weer heropen.”

Van der Merwe sê as gedeeltelike versorgingsfasiliteite word sentrums vir vroeë kinderontwikkeling (met die uitsondering van klasse vir gr.R-leerders) onderwerp aan die bepalings van die Kinderwet en die departement van maatskaplike ontwikkeling.

Die huidige voorskrifte het dus nie ʼn uitwerking op die oopmaak of sluit van sentrums vir vroeë kinderontwikkeling soos kleuterskole, nasorgsentrums, dagmoeders en speelgroepe wat leerders jonger as gr. R onderrig nie.

“Die hofbevel van 6 Julie is steeds van krag,” sê Van der Merwe.

Die Pretoriase hooggeregshof het in Julie verlede jaar beslis kleuterskole en dagsorgsentrums mag oopmaak mits hulle die nodige Covid-19-veiligheidsmaatreëls getref het.

“Kindersorgsentrums moet as ʼn noodsaaklike diens beskou word omdat werkende ouers ʼn veilige plek benodig waar daar na hul kinders omgesien kan word,” het Van der Merwe benadruk.

“Vir ons het niks verander nie.”

*Die berig is aangepas sedert dit die eerste keer gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Kleuterskole is ‘n oorwegend wit ding. In swart gemeenskappe is daar gewoonlik ‘n ouma of tante of ouer suster om na die kleintjies te kyk. So toemaak en toehou van kleuterskole sal maar net nog ‘n manier om wit besighede te laat swaarkry en bankrot te maak. Alles maniere om wit mense maar net alewig en aanhoudend vir apartheid te straf. Waarom deporteer hulle ons nie net nie en kry net klaar. Joe Biden en sy liberale pro-immigrasie Demokrate regeer mos nou Amerika, so dié deportasie behoort maklik te gaan.

Hannes ·

Ouers wat hulle kinders van grade RRR, RR en R in departementele skole het moet hulle terugsit in die privaatsektor se sentrums waar hul hoort en nog kind kan wees. Geen probleem met spook en spartel om iemand te verkry om na jou kind om te sien bedags en so hou hulle ook die sentrums oop en aan die gang want hulle het ook werknemers wat in hul oë kyk vir ‘n salaris.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.