‘Vergroting van kabinet nie die antwoord’

DA-leier John Steenhuisen (Foto: @ParliamentofRSA/Twitter)

Politieke partye en belanghebbendes het verwag dat pres. Cyril Ramaphosa met sy kabinetskommeling daadwerklik die kabinet sou verklein, maar in stede daarvan is twee nuwe ministers aangestel.

“Die antwoord tot Suid-Afrika se uitdagings is beslis nie om die kabinet te vergroot of ondoeltreffende ministers rond te skuif nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Die DA-leier John Steenhuisen sê die aanstelling van twee bykomende ministers sal die regering meer geld uit die sak jaag, met die minister van elektrisiteit wat ʼn bykomende R74 miljoen by die regering se openbare loonrekening sal voeg.

“Dit is eenvoudig ondeurgrondelik dat die president hierdie koste op die Suid-Afrikaanse belastingbetaler kan stoot terwyl die nasie kwyn onder trae ekonomiese groei, die hoogste werkloosheidsyfer in onlangse geskiedenis, en ʼn elektrisiteitskrisis wat werkgeleenthede teen rekordgetalle afskaal,” sê Steenhuisen.

“Daar was ook geen aankondiging van prestasie-ooreenkomste, teikens of tasbare uitkomste en tydlyne vir bogenoemde ministeries nie, wat dit onmoontlik maak om te peil of een van hierdie ministers presteer.”

Behuising van albei ministers in die presidensie beteken ook dat hulle beskerm sal word van aanspreeklikheid in die parlement waar ʼn komitee oor die presidensie steeds nie bestaan nie, sê Steenhuisen.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

Volgens Van Zyl maak dit in werklikheid nie saak wie aangestel of geskuif word as hulle steeds die ANC se gebrekkige beleid probeer uitvoer nie. “Die algehele beleid moet verander word om ʼn verbetering te sien, aangesien dit die afgelope 30 jaar nog geen vooruitgang vir Suid-Afrikaners bewerkstellig het nie,” sê hy.

“Eskom se swak prestasie kan grootliks toegeskryf word aan die regering se inmenging en die resultate van sy beleid van kaderontplooiing. Sukses aldaar sou eerder bereik word indien groter afstand vanaf die regering verkry word – privatisering sou steeds die beter koers gewees het. Eskom is nie die enigste krisis nie – die res van die semi-staatsinstellings is ook op dieselfde bladsy as Eskom wat inderdaad reeds twee ministers gehad het en steeds worstel oor wie die verantwoordelike persoon is.

“Gaan daar mettertyd vir al die ander mislukkings ook bykomende ministers geskep word?”

Groenewald meen verder dat die kabinetskommeling bevestig dat die welstand van Suid-Afrikaners beslis nie vir die regering ʼn prioriteit is nie. “Dit was bloot ʼn poging om faksies te versterk en so punte in te samel vir die komende verkiesing. Lojaliteit is nou, meer as ooit, belangriker as kundigheid vir die ANC.”

Herman Mashaba, leier van ActionSA. (Foto: ActionSA)

Herman Mashaba van ActionSA sê met sowat ʼn jaar tot die 2024-verkiesing is daar feitlik geen kans dat Ramaphosa se herskommelde kabinet ʼn betekenisvolle verbetering in die lewe van gewone Suid-Afrikaners sal kan maak nie en die herskommeling was eerder ʼn swak poging om vernuwing te projekteer.

“Ramaphosa het nêrens in die proses aangedui dat die belange van Suid-Afrikaners in die kern van die herskommeling lê nie. Die president het keer op keer gewys hoe huiwerig hy is om die land te lei in hierdie moeilike tyd te midde van ʼn stagnerende ekonomie, toenemende misdaad en beurtkrag,” sê Mashaba.

“Hierdie kabinet bied geen hoop vir die miljoene Suid-Afrikaners wat met ingehoue asem gewag het op verandering wat dalk ʼn mate van verligting kan bring vir die eindelose beurtkrag wat hul lewe reeds 15 jaar ontwrig nie.

“Suid-Afrika kan floreer en weer die voorste ekonomie in Afrika wees, maar dit sal eers gebeur wanneer pres. Ramaphosa en sy groep kleptokrate in die ANC van mag verwyder is, en ʼn etiese regering oorneem wat die belange van Suid-Afrikaners vooropstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

annie ·

Wel, as julle enigsins gehoop het dat die ANC nie gaan inmeng by die nuwe pad wat die siviele ingenieur-tsar gaan bou nie, is jul kersie se fut klaar uit, maar nie agv winde van verandering nie, eerder dieselfde poef-paf van die ANC-windmakers, Mantashe/Gordhan en hul goedgunstige afhanklike, Ramaphosa.

Danie ·

Die bejaarde anc kabinet werk met n plan skep nou vir hulle aftree wat voorle.Hulle gee nie n neut om wat oorbly vir n opkomende sukkelende nasie.Ons mense moet reeds werk soek in die buiteland want hier is geen vooruitsigte.

Althes ·

Met hul inkomste kon hul lankal met pensioen gaan. Hul is bejaard, onproduktief en sosialisties rigied in hul optrede.

Republikein in die Wes Kaap ·

Althes, heel moontlik beskerm die bejaardes skelmstreke wat later kan uitkom.

domheks ·

Wonder wie beskerm vir wie! Die een moet die ander se sondes toesmeer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime spartel voort en die hool sink verder.

Piet ·

Wel, ek dink partykeer die ANC is nie so dom soos hulle lyk nie. Dit is baie ooglopend dat fondse nou klaar raak. Die president skep net ‘n laaste geleendheid vir so veel moontlik kaders om ook darem ‘n bietjie te kan skep. Hy is darem regverdig in daardie opsig. Die ANC staan immers vir selfverryking. Hoe kan ons meer as dit verwag, hulle het nog nooit die landsburger in gedagte gehad as dit by belanrike besluite kom nie. Hulle wen verkiesings deur af te pers en hulle werklose afhanklikes geiselaar te hou met hul toelae.

JACF ·

Hierdie werkswyse van die President en sy kabinet tesame met die Top 7 van die ANC as raadgewers is ons voorland.
Hulle mag doen wat hul wil, en doen dit ook!
Opposisie partye en landsburgers mor daaroor, glo my, niks gaan verander nie.
Kom daar dalk “n ander party aan bewind, vind hierdie soort van regeerwyse steeds plaas.
Hierdie laat my soms lag en dink ek aan die uitdrukking ” Jy het laat ontwikkel”. Dink die uitdrukking kom voor in ” Hester Bester , televisie program!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Klassieke kenmeke van ‘n regime wat sy tentakels diep in die ekonomie ingeslaan het om alles leeg te suig. En ons kyk magteloos toe.

Shakespeare ·

Ja Ramapops. Eens n mislukking ( jy en al jou kaders en aanhangsels) altyd n mislukking. Julle is en sal altyd skelm en onbevoeg wees.

Axel ·

Wat bly oor van ‘n gebroke Suid Afrika nadat Ramaphosa & Kie klaar is?

Althes ·

Ek stem saam met jou John Steenhuizen. Selfs ek wat ñ leek is, kan nie die logika sien nie. Dis eerder werk skep vir nog kaders.

Jackie ·

Die Suid Afrikaanse kabinet se 2 pap voorwiele is omgeruil vir die 2 pap agterwiele en 2 pap spaarbande is in die ‘boot’ gegooi.

Papsak ·

Wel hoekom het hy hulle nie gejaag wat hy moes jaag nie ten eerste hulle is klaar te oud vir die soort van werke maar nee hy hou hulle die skommeling was pateties

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.