Verhoogde weerwaarskuwing vir dele van Wes-Kaap

(Foto: Benfe/Pixabay)

Die moontlikheid van wydverspreide vloede wat lewensgevaar inhou en tot groot skade aan infrastruktuur kan lei, word vir Maandag vir dele van die Wes-Kaap voorspel.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het sy waarskuwing van ʼn oranje vlak 6 tot ʼn oranje vlak 9 verhoog vir die volgende gebiede: Breedevallei, Kaap Agulhas, Drakenstein, Overstrand, Stellenbosch, Swellendam en Theewaterskloof.

Ontwrigtende reën van tussen 100 en 150 mm is moontlik in hierdie gebiede en dit kan lewensgevaar inhou en tot grootskaalse skade of verlies van infrastruktuur, reisontwrigtings en wydverspreide ontwrigting van munisipale dienste lei.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en landelike ontwikkeling, het gesê die provinsiale rampbestuursentrum is op volle gereedheidsgrondslag.

“Ons is deur die SAWD ingelig oor ʼn toename in die erns van die weerstelsel en ons verwag nou dat die impak meer wydverspreid oor die provinsie sal wees.

“Ons is bekommerd oor modder- en rotsstortings weens ’n gebrek aan plantegroei wat tydens die somerveldbrande afgebrand het. Ons doen ’n beroep op mense om eerder hierdie naweek tuis te bly en reis te vermy, indien moontlik. Hou asseblief by enige veiligheidsboodskappe van plaaslike owerhede.”

Mense word gewaarsku om nie oorstroomde paaie of brûe oor te steek nie, of in vinnig vloeiende water te loop, swem of ry nie, en om meubels wat buite gebruik word, te beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.