Verhoor teen oudregter begin

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die verhoor van ʼn voormalige waarnemende regter wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn ander regsgeleerde seksueel aangerand het, sal Donderdag in die Johannesburgse landdroshof begin.

Adv. Mpho Rasivhetshele, wat ingestem het om haar identiteit aan die publiek bekend te maak, het twee jaar gelede ʼn saak teen die beskuldigde aanhangig gemaak nadat hy haar glo by ʼn sosiale byeenkoms seksueel aangerand het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het egter besluit om nie vervolging in te stel nie, en dit is toe dat sy AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir bystand genader het.

Rasivhetshele is ʼn voormalige getuienisleier van die Zondo-kommissie na staatskaping en ʼn gerespekteerde lid van die regsberoep.

Nadat sy die eenheid genader het, is daar in Oktober verlede jaar vertoë aan adv. Andrew Chauke, die direkteur van openbare vervolging in Gauteng (DOV), gerig omdat geen strafregtelike stappe tot op daardie stadium teen die waarnemende regter ingestel was nie.

Die DOV se kantoor het in Februarie in skrywe aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui dat hulle, ná ontvangs van die vertoë, die beskuldigde sal vervolg.

Die eenheid het voorheen sy kommer uitgespreek dat die aanvanklike versuim om teen die beskuldigde op te tree weens sy status in politieke kringe is.

“Een van die eenheid se doelwitte is om te verseker dat almal gelyk is voor die reg, en dat gevalle van selektiewe vervolging iets van die verlede is,” sê Barry Bateman, die eenheid se kommunikasiebestuurder.

“Die eenheid is hoopvol dat die NVG sal verseker dat Rasivhetshele al die ondersteuning kry wat sy nodig het, en dat ʼn sterk boodskap gestuur word aan voornemende oortreders van misdade teen vroue, ongeag wie hulle is of wat hul status in die samelewing is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SjN ·

Kaders beskerm mekàar en maak n bespotting van die regstelsel. Vertrou Afriforum slaag met die aansoek en bewys hul onkundigheid.

wim ·

Mag sie voormalige waarnemende regter se naam nie genoem word nie, of sal dit die skynvan ‘n funksionele regbank verder aftakel

Christine ·

Ons wil graag weet wie hierdie molesteerder of verkragter is, ondanks wie of wat hy is. Hoekom moet hy beskerm word, siende dat hy ‘n vrou nie beskerm het nie!

Henry ·

As daar n boete is sal ek seker moet betaal met belasting geld.

gatgogga ·

Dis hoog tyd dat die saak voor die hof kom, sodat hulle kan begin uitstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.