Verkiesing: ‘Daar sal krag wees’

Eskom het glo verskeie planne gereed om te verseker dat die plaaslike verkiesing vlot verloop. (Argieffoto: Mujahid Safodien/AFP)

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Suid-Afrikaners Woensdag tydens ʼn aanlyn konferensie verseker dat die plaaslikeregeringsverkiesing op 1 November nie weens gebrekkige kragvoorsiening onderbreek sal word nie.

Dít beteken ook dat daar geen beurtkrag die komende naweek of op stemdag sal wees nie, en ook nie wanneer stemme getel word nie.

Sou probleme opduik, sê Gordhan, het die regering in samewerking met Eskom en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verskeie gebeurlikheidsplanne gereed.

Maroela Media het vroeër berig dat Eskom Woensdag om 12:00 landwyd fase 4-beurtkrag ingestel het.

Dít het tot groot kommer gelei oor die impak wat kragvoorsieningsprobleme moontlik op die verkiesing kan hê.

Gordhan het namens die regering en Eskom om verskoning gevra indien enige angstigheid onder Suid-Afrikaners en politieke partye veroorsaak is.

Volgens die minister sal Suid-Afrika na verwagting reeds teen Vrydag na fase 2-beurtkrag oorskakel.

Dít nadat Eskom aanvanklik gesê het fase 4 sal tot Vrydag geld, waarna fase 2 tot Saterdagoggend ingestel sou word. Geen beurtkrag word Saterdag en Sondag verwag nie.

Gebeurlikheidsplanne

Gordhan sê 16 000 van die 23 140 stemstasies sal Maandag deur Eskom van krag voorsien word.

“Verder het die OVK genoeg beligtingstoerusting bekom vir stasies wat nie deur Eskom bedien word nie.

“Eskom het ook 16 000 stemstasies in klusters ingedeel wat die OVK van kragopwekkers en tegnici sal voorsien om probleme wat kan opduik, op te los.”

Skandeerders wat by stemstasies gebruik word, sal glo ook vooraf gelaai wees en het ʼn batterylewe van 12 uur.

Verder sê Gordhan daar sal ook genoeg kragopwekkers by die tien uitslaesentrums in die land wees.

Die sowat 240 bykomende sentrums waar stemme getel word, sal ook van kragopwekkers voorsien word.

Eskom sal ook verskeie skakelpersone in die betrokke klusters plaas om spoedig op enige kragkwessies te reageer.

Stappe om doelwitte te bereik

Volgens Gordhan sal daar tydens die verkiesingsproses voldoende diesel beskikbaar wees vir kragstasies waar steenkool gebruik word.

Bykomende kundigheid sal ook by Eskom ingespan word om te verseker dat menslike foute sover moontlik uitgeskakel word en die hoogste vlak van professionaliteit te alle tye gehandhaaf word.

Die minister sê die verkryging van broodnodige megawatts is ʼn prioriteit sodat die elektrisiteitstelsel optimaal kan funksioneer.

Nuwe bedryfsplanne sal glo ook binnekort ingestel word wat behels dat vergoeding direk aan prestasie gekoppel word.

Dié planne sal in Eskom se bestuursomgewing by sy onderskeie kragstasies geïmplementeer word.

“Daar sal dus gevolge vir swak presterende kragstasies en swak bestuur wees.

“Suid-Afrikaners sal op hoogte van Eskom se vordering gehou word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Peter Pan ·

Maar natuurlik sal daar krag wees Maandag, En Dinsdag is dit weer af.

Danie ·

Wat maak dit saak, die meerderheid verkiesings pandokkies is elk geval in n tent iewers in die veld.

Johann ·

Obsessief oor sy ANC se verkiesing en hulle behoud van die ongeskoolde massas wat agter pap en en n grant en n tshirt aan stem…maar nie n WOORD oor die behoud van skool eksamens nie? Maak sin….hoe langer die ANC as deel van sy anargie staat soveel as moontlik “people” ongeskoold en afhanklik kan hou hoe beter.

Michael ·

Interessant dat hulle nou kan belowe daar sal Maandag krag wees vir die verkiesing, maar hulle is vol redes voor en na die verkiesing oor hoekom daar blackouts is. Hierdie blackouts is dalk meer van ‘n georganiseerde plan as wat dit bloot net toerusting is wat breek of in stand gehou moet word-dalk is ek verkeerd, maar ons het gesien by elke geleentheid waar die ANC by betrokke is, dan is kragvoorsiening geen probleem nie

Di ·

My genade, hulle beskou dit seker as ‘n prestasie! Dit moet eintlik die standaard wees, nie ‘n VERGUNNING nie.

Kokerboom ·

Mnr Gordhan u het u prioriteite verkeerd soos gewoonlik! Verkiesings is ONDERGESKIK aan behoud en behoorlike funksionering van land se ekonomie wat in ‘n haglike toestand is!!!Hou op punte “score” vir politieke doeleindes. Hou in elk geval u neus uit sake waarvan u niks weet. Los dit vir kundiges.

AW ·

Weet nie WAT om te Sê Niê !!

Dan maar net my kop in ongeloof skud !!

Misky ·

Dis veronderstel om die norm te wees en die lot soek nou ‘n goue sterretjie terwyl hulle dom volgers hande klap vir die kamma prestasie

Waarnemer ·

WOW!!!En derduisende kaders buig en se”Dankie baas Cyril,dat jy so goedgunstiglik gaan wees om vir ons lig te gee”….en net na die verkiesing…..”Dankie julle dom werf etters vir julle stemme maar sorry…no more lights,no more free food,free shirts en back to level 5″

Anel ·

Meer bekommer oor ‘n stem as oor derduisende kinders wat in hierdie omstandighede matriekeksamen moet skryf. PATETIES!!!!

Christina ·

Wens hulle het soveel konsiderasie gehad vir die jongmense wat eksamen skryf, veral die matriek leerlinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.