Verkiesing van topsewe belangrike politieke spel

Die ANC-verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg (Foto: Marco Longari/AFP)

Afgevaardigdes het laat Saterdagaand, ná ʼn dag van vele vertragings, hul kandidate vir die sewe topleiersposte binne die ANC benoem.

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het in ʼn mediakonferensie bevestig dat die onderskeie provinsies deur die loop van die middag sal stem. Die uitslae hiervoor sal na verwagting iewers laat vanaand bekendgemaak word.

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus, het aan Maroela Media verduidelik waarom van hierdie nominasies noemenswaardig is.

Nominasies vir president

Die grootste verrassing wat nominasies vanaf die vloer betref, is waarskynlik Nkosazana Dlamini-Zuma wat vir presidentskap genomineer is. Mulder meen egter dit was nie werklik ʼn verrassing nie, aangesien gerugte hiervan vooraf die ronde gedoen het. Mulder wonder of Ramaphosa haar nie dalk selfs gedruk het om haar naam in die hoed te gooi nie.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Dlamini-Zuma het egter dié nominasie geweier. “Daar is agter die skerms gepraat dat sy die stem sal verdeel met [dr. Zweli] Mkhize. Sy word immers binne dieselfde anti-Ramaphosa-kamp as presidentskandidaat Mkhize beskou.

“Mkhize het egter ʼn beter kans as sy om Ramaphosa te verslaan.”

Dit is wel vir Mulder opvallend dat Dlamini-Zuma nie uitdruklik gesê het dat sy haar stem vir Mkhize sal gee nie.

Sy het wel later dansend die plaasvervangergebaar wat in sokker gebruik word, bo haar kop gewys. “Op die sokkerveld dui dit daarop dat ʼn reserwe of plaasvervanger ingestuur moet word,” sê Mulder.

Dit is aanduidend van die sentiment dat leierskap verander moet word en dien waarskynlik as nieverbale aanduiding dat sy tog teen Ramaphosa sal stem deur Mkhize te steun.

Dit lyk tans asof Ramaphosa veilig voel oor sy sukses om as presidentskandidaat herverkies te word.

Kandidate vir adjunkpresident

David Mabuza, huidige adjunkpresident van die party, is ook van die vloer genomineer, maar het dié nominasie van die hand gewys. Sodoende is die enigste kandidate wat tans in die resies verkeer Paul Mashatile, Oscar Mabuyane en Ronald Lamola.

“Wat belangrik is hier, is dat die stryd om adjunkleierskap gesien word as die toekomstige resies om president te word.

“Dit is waarskynlik waarom Mabuyane en Lamola, wat albei as Ramaphosa-manne beskou word, staan vir die posisie. Albei kandidate wil hulself dus relevant genoeg hou om in die toekoms vir presidentskap oorweeg te word.”

Aldus Mulder blyk Mabuyane nie sterk steun buite die Oos-Kaap te hê nie, met Lamola wat weer oor meer provinsies heen steun geniet. Lamola is die jonger kandidaat wat hom meer aantreklik maak en word lank reeds beskou as ʼn moontlike toekomstige opvolger van Ramaphosa – hy kan dus nie bekostig om nié in die resies te bly nie.

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, en Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, tydens ‘n vorige mediakonferensie op 2 Desember. (Foto: Guillem SARTORIO / AFP)

Mulder sê egter hierdie twee kandidate verdeel die steun in Ramaphosa se kamp en dat dit beter sou wees indien een kandidaat terugtree, ten einde ʼn verenigde front te vorm.

“Paul Mashatile kies geen kant nie en is die dark horse in die resies,” sê Mulder. Mashatile het in sy aanvanklike nominasie vir die posisie ook die naasgrootste aantal nominasies agter sy naam verenig – net-net minder as wat Ramaphosa kon kry.”

Mashatile word deur talle beskou as ʼn gesoute politikus wat met groot pragmatisme sy konstante oorlewing verseker. Volgens Mulder is dit byna vir seker dat Mashatile die adjunkpresidentskap sal wen, wat ʼn interessante dinamika tot die topleierskap sal bring.

Die stryd om nasionale voorsitterskap

Vir nasionale voorsitterskap was daar geen bykomende nominasies vanaf die vloer nie. Hierdie posisie het in die middernagtelike ure vir groot onderhandelinge tussen afgevaardigdes van Limpopo en dié van KwaZulu-Natal gesorg.

Die drie kandidate wat dit in dié stryd uitwoed, is David Masondo, Gwede Mantashe en Stanley Mathabatha. Laasgenoemde twee word as sterk pro-Ramaphosa-kandidate beskou, met Ramaphosa en Mathabatha wat albei groot steun geniet in Limpopo – die naasgrootste provinsie in terme van afgevaardigdes.

Tog is Ramaphosa versigtig daarvoor om steun vir bepaalde kandidate uit te spreek. “Hy is bang as hy kant kies, benadeel dit hom,” volgens Mulder. Sodoende steun hy geen kandidaat vir enige posisie openlik nie.

Huidige nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe (Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

Van die drie blyk Mantashe steeds die meeste steun vanuit die Ramaphosa-kamp te geniet. Hy is veral ʼn rolspeler wat Ramaphosa in die onlangse Phala Phala-sage bygestaan het, volgens Mulder. “Ramaphosa skuld hom.”

Dit is verder die geval dat Derek Hanekom, ANC NUK-lid, homself nie-amptelik aangewys het as organiseerder van Ramaphosa se veldtog. Hy is in beheer van Ramaphosa se sogenaamde kandidatuurlysie – die lys wat uiteensit watter persone hy “saam met hom wil vat” indien hy tot president herverkies word.

Op hierdie lysie is Mantashe, eerder as Mathabatha, ingesluit as voorkeurkandidaat vir nasionale voorsitter, wat Mathabatha effe onseker laat en dus in ʼn posisie plaas waar hy onafhanklik vir steun kon begin bemiddel.

“Toe begin onderhandel [Limpopo] met Natal om op Mkhize se lysie te kom,” verduidelik Mulder.

Met KwaZulu-Natal as grootste en Limpopo as naasgrootste provinsie in terme van afgevaardigdes, is daar ʼn beduidende aantal stemme wat hulle kan uitbring. Limpopo het aanvanklik daarop gedui dat hulle Ramaphosa vir presidentskap gaan ondersteun.

Met hul voorkeurkandidaat vir voorsitterskap, Stanley Mathabatha wat egter nou in ʼn onsekere posisie gelaat is, het hulle dié posisie heroorweeg. Indien Limpopo vir Mkhize (ʼn Natalse en dus Zoeloe-kandidaat) steun, kan KwaZulu-Natal om die beurt weer vir Mathabatha steun. Sodoende help die een die ander, volgens Mulder.

“Vanoggend is hierdie verandering in posisie egter weer deur Limpopo se woordvoerder ontken. Tans kan daar dus verwag word dat die meerderheid van die provinsie steeds vir Ramaphosa sal steun.”

Fikile Mbalula (Foto: ANC/Twitter)

Die stryd om sekretaris-generaal

Die drie kandidate wat vir hierdie posisie genomineer is, is Mdumiseni Ntuli, Phumulo Masualle en Fikile Mbalula.

Tans blyk Fikile Mbalula, huidige minister van vervoer, die mees gewilde kandidaat te wees. Mulder verduidelik dat Mbalula ook wat faksionele posisionering betref “eintlik ook maar oral is”. Sy aanslag is veel meer populisties, wat hom in hierdie stryd ook baie gewild maak. Mbalula blyk ook die voorkeurkandidaat vir Ramaphosa se lysie te wees.

Ntuli is ook van KwaZulu-Natal afkomstig en aanvanklik as ʼn anti-Ramaphosa-figuur beskou. Met die oorname van die nuwe sogenaamde Taliban-faksie onder leierskap van Siboniso Duma, is hy egter uitgegooi. Sodoende word hy nou ook aan Ramaphosa se kant getel, maar staan hy waarskynlik nie ʼn kans teen Mbalula se gewildheid nie.

Adjunk-sekretaris-generaal nommer een en twee

Met die ANC se grondwet wat suksesvol deur die afgevaardigdes gewysig is, moet daar nou vir twee adjunk-sekretarisse-generaal gestem word. Die aanvanklike nominasie vir die eerste adjunk-sekretaris-generaal was Nomvula Mokonyane. In ʼn verrassende stap is Tina Joemat-Pettersson, voormalige minister van energie, ook van die vloer af genomineer.

“Toe kry sy wragtig genoeg steun om in te kom,” sê Mulder. Wat volgens Mulder verder verrassend is, is dat sy nou aan Ramaphosa se kant van die stryd genomineer is. Sy was aanvanklik ʼn Zuma-bondgenoot, wat ook vir lank in sy kabinet gedien het.

Nomvula Mokonyane. Foto: Elmond jiyane, GCIS

Mokonyane word weer in die anti-Ramaphosa-kamp getel. Sy was aanvanklik deel van Ramaphosa se kabinet, maar is weens korrupsiebewerings ook deur hom uitgeskop. “Toe is sy by Luthuli Huis aangestel en het skynbaar van daar af haar steun opgebou.” Volgens Mulder is sy op die oog af die meer gewilde kandidaat.

Die posisie van tweede adjunk-sekretaris-generaal is waarskynlik bygevoeg weens die vakuum wat die ANC die afgelope jaar in hul topleierskap ervaar het, sê Mulder. Hierdie vakuum is vergroot deur die afsterwe van Jessie Duarte en die skorsing van Ace Magashule.

“Die vrouekwessie speel natuurlik ook ʼn rol. Daar is in die aanvanklike nominasieproses minimaal vroue genomineer. Hierdie bykomende posisie kan aangewend word om te verseker dat meer vroue in die topleierskap verteenwoordig word.”

Die nominasies vir die tweede adjunk-sekretaris-generaal is twee prominente lede van die vroueliga,  Maropene Ramokgopa en Ronalda Nalumango.

Nominasies vir tesourier-generaal

Benjamin Chauke, Mabe, Mzwandile Masina en Gwen Ramokgopa is almal genomineer vir dié posisie – die kategorie met die meeste kandidate.

“Benjamin Chauke lyk mees bekwaam en ook die kandidaat te wees wat die Ramaphosa-kamp verkies,” volgens Mulder.

Gwen Ramokgopa is ook van die vloer af genomineer en blyk ook aan Ramaphosa se kant van die geveg te wees. Mabe is ook ʼn gewilde en bekende figuur. Mulder verduidelik dat Mabe aanvanklik ʼn groot bondgenoot van Magashule was, maar vinnig van die kant gespring het toe Magashule se ondergang duidelik geword het.

Lindiwe Sisulu (Foto: Twitter)

Nog ʼn nominasie vanaf die vloer was voormalige kabinetsminister Lindiwe Sisulu. Hierdie nominasie het egter in ʼn groot vernedering vir haar geëindig deurdat sy nie die 25% steun ontvang het om as kandidaat te kwalifiseer nie.

“Sy blyk tans uiters ongewild te wees,” sê Mulder.

Dit het ook onlangs aan die lig gekom dat sy voor die parlementêre stemming oor die Phala Phala-kwessie notas gedeel het met die EFF se Godrich Gardee. Dit is volgens Mulder absolute verraad.

“Dit is beslis die einde van haar loopbaan, veral as Ramaphosa sterk deur die konferensie sou kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.