‘Verkoop teen’-vervaldatum op kos moet waai

Witbank

Argieffoto ter illustrasie. Foto: Verskaf

Vervaldatums op kos is weer in die nuus en die feit dat al die soorte vervaldatums verbruikers verwar, is een van die redes daarvoor. Die verwarring is nie net in Suid-Afrika te bespeur nie, maar wêreldwyd – soveel so dat selfs die Verenigde Nasies (VN) besluit het dat die “verkoop teen”-vervaldatum op kos moet waai omdat mense nie weet wat dit beteken nie

Die VN se liggaam vir voedselstandaarde, die Codex Alimentarius-kommissie, het in Julie 2018 nuwe definisies vir die etikettering en vervaldatums op voedsel aanvaar, om te verseker dat verbruikers makliker verstaan wat met hierdie datums bedoel word.

Nuwe reëls vir datums

Codex het besluit om die volgende vervaldatums te aanvaar:

  • “Best before” of “best quality before”. Hierdie datum dui aan wanneer die produk, indien dit reg gebêre word sonder dat dit oopgemaak is, nog verkoop kan word en steeds die eienskappe sal hê waarvoor dit bemark word. Die produk kan egter steeds na hierdie datum geëet word.
  • “Use by” of “expiration date”. Hier dui die datum aan wanneer die produk nie meer verkoop of geëet kan word nie, al is dit korrek gebêre, omdat dit nie meer van goeie gehalte is nie en ook nie veilig is om te eet nie.

Volgens Codex moet die “use by” of vervaldatum aangedui word indien kos voor ’n bepaalde datum geëet moet word om te verseker dit is nog van goeie gehalte en veilig om te eet. Wanneer ‘n “use by” of vervaldatum nie vereis word nie, moet die “best before” of “best quality”-vervaldatum aangebring word.

Dag en datum

Wanneer kos binne drie maande geëet moet word, moet die dag, maand en jaar aangedui word, maar as die kos langer as drie maande hou, moet net die maand en jaar aangedui word, lui die Codex-definisies. Vervaardigers kan ook die vervaardigingsdatum of verpakkingsdatum aandui, maar dit kan nie beskou word as ’n aanduiding van hoe lank die kos gaan hou nie.

Bêre kos korrek

Die verpakkings moet aandui hoe die produk gebêre moet word om die gehalte en veiligheid daarvan te verseker. Daar moet, byvoorbeeld, aangedui word of jy die produk in die vrieskas of yskas of in jou koskas moet hou.

Datums nie altyd van toepassing

Hierdie datums is egter nie van toepassing op produkte waarvan die veiligheid nie in gedrang is of waarvan die gehalte nie afneem nie, in die volgende gevalle:

  • Wanneer die produk so ingemaak is deur die gebruik van alkohol, sout, suurgehalte of lae wateraktiwiteit, dat mikrobe nie daarin kan groei nie of wanneer die produk korrek gebêre word;
  • Wanneer die verbruikers duidelik kan sien die kos is sleg;
  • Wanneer die sleuteleienskappe van die kos nie verlore gaan nie;
  • Wanneer die kos veronderstel is om binne 24 uur geëet te word.

Voorbeelde hiervan is:

  • Vars vrugte en groente, wat kos soos aartappels insluit, wat nie geskil of gesny is nie;
  • Wyn, soetwyn, vonkelwyn, gegeurde wyn, vrugtewyn en vonkelvrugtewyn;
  • Drank wat ten minste 10% alkohol bevat;
  • Gebakte goedere wat gewoonlik binne 24 uur geët word;
  • Asyn;
  • Nie-geiodiseerde voedselgraad-sout;
  • Soliede suiker wat nie aanvullings bevat nie;
  • Soetgebak wat bestaan uit gegeurde en/of gekleurde suiker;

Die vervaardigingsdatum kan op hierdie produkte aangebring word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Ben ·

Maar nou moet ons ook onthou as iets goed koop aan gekoop kan word gaan verspreiders baie aankoop en dit jare later nog steeds teen n groter wins wil verkoop en dan moet die verbruiker nog steeds te vrede wees met ou kos . Dis hoekom datums vir my baie belangrik is .

Pieter ·

Sell-by date vrywaar die produsent en verkoper. Use-by of expire-by waarsku verbruikers vanaf wanneer self erge gesondheids gevare in die vars produk kan ontstaan, op grond van bv. SABS vooraf toets bewyse en voorskrifte.

Pasteie vanaf gebak, verhit gehou uitgestal, hoort binne maximum 4 uur verkoop en ge-eet te word.

Rou vleise moet op of liefs voor die use-by/expire date kliphard diep bevries, nie her-bevries nie, of volledig gaargemaak te word want dit vernietig kieme / bakterie plus vlieg en brommer eiers en larwes wat vinnig uitbroei, vreet en groei.
Akkurate sell-by en use-by/verval datums almal belangrik en moet beslis behoue bly in die RSA.

Ander Annie ·

Ek sluk maar moeilik aan die een, maar nou sal ons as verbruikers net moet seker maak dat die “bb” datum, nog genoegsame tyd het, voordat ons die produk koop. Geen vinnige inkopies.

Avra ·

Ek merk dat produkte met verval datum binne 2-3 dae, in Suid Afrika ewe skielik as winskopie (special) verkoop word.

Ek was on langs vir meer as 2 maande in Europa. Die tendens daar is om sulke produkte minstens n maand voor vervaldatum teen 25% van die prys te verkoop. Vrugte en groete 4 dae voor “beste gebruik voor”. Sodoende word baie minder kos weg gegooi of vernietig.

Ons mors gans te veel kos in Suid Afrika en voedsel is reeds so duur. Stop so bietjie winsgejag en dink aan arm mense.

Wat my ook in die kop steek, is koop 5 vir R100. As die pryse so kan verminder, maak die produk vir almal. Nie net vir die persoon wat die 100 rande het.

Susan ·

Wonder wat is daar wat ni verstaanbaar is ni. Ek verstaan dit. Ek koop net as op di produk staan best before. As dit bv di maand verval koop ek dit ni. Dit sluit al my inkope in

Yolo ·

Hehe ek kyk letterlik net na melk en brood se verval datum. Die res kyk ek maar of dit vars lyk. Ek is glad nie ingestel op verval datums nie en sal iets eet as die verval datum verby is en dit lyk/ruik nog reg.

Heidi Lundie ·

Ja, jy praat so waar, dit bevoordeel net mense met hope geld. Die mense wat die beter pryse die nodigste het KAN nie 12 buise tandepasta op een slag bekostig nie.

Cherokee ·

Ek het in 1990 ‘n bottel Richelieu as geskenk ontvang. Die bottel was ‘n kunswerk in die vorm van ‘n toring soos Pisa (maar dit het regop gestaan – miskien die toring van London gewees). Dit het in die sitkamer gestaan totdat ek lus geword het daarvoor. Dit was in 2015. Nou ja, 25 jaar oue brandewyn smaak kompleet anders as wat ons gewoond is. Richelieu is ‘n brandewyn met ‘n harde smaak. ‘n Kwart eeu later smaak dit sag soos koeldrank. Onthou egter asseblief, dieselfde geld nie vir lamsvleis of sampioene nie.

Kleindup ·

Hoekom moet Suid Afrika altyd vir die VN se voorstelle luister ?

Kryger ·

Miskien moet die VN hulle eerder besig hou met belangrike dinge…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.