Verkragtingsaak verder vertraag

Die slagoffer se vriende het haar tydens vorige hofverskynings ondersteun. (Foto: Verskaf)

In die week waarin pres. Cyril Ramaphosa sy weeklikse nuusbrief aan die vlaag van geslagsgebaseerde geweld gewy het, het die streekshof op Somerset-Oos ʼn verkragtingsaak, wat kort duskant twee jaar sloer, vir ʼn verdere vyf maande uitgestel.

“Dit is nóg ʼn teleurstellende aanduiding dat die howe nie die vereiste dringendheid het om sake van so ʼn erns te finaliseer nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die eenheid het private vervolging teen Isaac Andile Memese ingestel nadat die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in die Oos-Kaap destyds geweier het om vervolging teen die verdagte in te stel. Die beskuldigde en sy familie het glo politieke bande.

Memese word daarvan beskuldig dat hy Celeste Gouws in 2017 by haar gastehuis verkrag het nadat sy vermoedelik bedwelm is.

Die hof was Donderdag weer in sitting waar Memese se prokureur gevra het dat die saak uitgestel word, aangesien sy kliënt se advokaat vir verdediging, adv. Mike Maseti, nie die verrigtinge kon bywoon nie omdat hy siek is.

Maseti het Maandag ʼn e-pos aan AfriForum en die landdros gestuur waarin hy gesê het dat hy die laaste ses weke aan die “bed gekluister” is, en dat hy “nie sy weg oopsien om vir die saak op te daag nie”.

Nel, wat Gouws verteenwoordig, het die aansoek teengestaan en die hof gevra om verdere duidelikheid van die advokaat te kry oor hoekom die saak uitgestel moet word.

“Howe is ʼn instrument van die samelewing om te verseker dat geregtigheid geskied, en howe moet dus verseker dat die samelewing sy vertroue in die strafregstelsel behou. Ons is aan die ander kant die pionne wat aan slagoffers en die samelewing moet verduidelik dat die saak weer uitgestel gaan word. Daarom moet ons vertroue inboesem al aanvaar ʼn hof bloot ongestaafde feite vir uitstel,” het Nel aan die hof gesê.

Nel het aangevoer dat dit veels te algemeen in die howe geword het dat sake uitgestel word sonder dat die aansoek gestaaf is.

“Almal weet dat die advokaat se blote mededeling oor sy onbeskikbaarheid om met die verhoor voort te gaan, aanvaar sal word. Almal weet dat howe die belang van ʼn beskuldigde selfs bo die belang van geregtigheid verhef. Almal weet dat die verbintenis deur die regering en die president om geslagsgebaseerdegeweldvoorvalle te hanteer bloot lippediens is as die howe nie beslissend optree teen onredelike vertragings wat deur enige een van die partye veroorsaak word nie.”

Ten spyte van die argument het die hof die saak steeds tot 19 April uitgestel.

Die hof het vandeesweek vier dae opsy gesit vir die verhoor en sou getuienis van die verdediging aangehoor het.

“Ons is hoopvol dat wanneer die saak in April hervat word, die verdediging se regspan gereed sal wees om hul getuienis te lei om hierdie aspek van die verhoor af te handel,” sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Die beweerde oortreding het vyf jaar gelede plaasgevind, enige verdere vertraging is eenvoudig onaanvaarbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frank ·

Hoekom is die regsbank verhewe bo die reg? Hoekom word hierdie mense nie voor stok geneem wanneer hulle droogmaak nie?

H.A. ·

Dit is duidelik dat vertragings taktiek aanwesig is. Ek vewag verder niks van die saak nie.

Di ·

Kriminele het goed geleer by ZUMA as dit kom by die uitstel van hofsake.

Nico ·

Die SA se regsbank en howe is uiters pateties en swak, is dit omdat die klaers wit is.

Oesterbaaier ·

My hart gaan uit na die slagoffer. Dankie aan adv Gerrie Nel en sy span. Mag geregtigheid seëvier.

Nici ·

Die korruptes hoop dat sy sal weggaan en opgee. Duidelik het die verdediging nie die vermoens om haar verkeerd te bewys nie anders sou hy sy ‘siek’ prokureur vervang het. Dalk is hy weer siek in April.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.