Verkragtingslagoffer wil nou ander help

Deon Broekman (Foto: Verskaf)

Die meisie wat in Maart 2021 deur Deon Broekman (57) in Lydenburg, Mpumalanga, verkrag is, wil nou saam met haar ma ander verkragtingslagoffers help om te praat oor wat met hulle gebeur het.

“Hulle moet nie bang wees nie. Baie vroue en kinders wat verkrag is, smeer dit gou toe. Ouers moet ook hul kinders glo wanneer hulle hieroor oopmaak,” vertel die ma op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media.

Broekman (57) is verlede Maandag in die streekhof in Lydenburg tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van die meisie. Die meisie was 12 jaar oud ten tyde van die verkragting.

Die verkragting het in Maart 2021 by ’n familiebraai plaasgevind.

Die polisie het vroeër inligting bekendgemaak dat die verkragting plaasgevind het toe die meisie se ma haar alleen by Broekman gelos het. Die ma het egter aan Maroela Media gesê dat hierdie inligting nie korrek is nie.

“Dit het tydens ’n familiebraai gebeur waar ander vroue en kinders teenwoordig was. My kind was nie alleen by die man nie,” het die ma gesê.

Volgens die ma was haar kind die middag ná die braai “nie haarself nie”. Sy het ook ’n nuwe selfoon gehad. Maroela Media het vroeër berig Broekman het vir die meisie ’n selfoon gegee in ’n poging om haar mond te snoer.

“Sy was in ’n toestand. Ek het haar gevra wat fout is. Sy het begin huil en toe met die hele sak patats vorendag gekom.”

Die ma het daarna ’n saak van verkragting by die polisie in Lydenburg aangemeld.

Broekman was ’n brandweerhoof en volgens die ma ’n grootkop in Lydenburg.

“Almal het hom geken en vertrou.”

Broekman is ook tot twee jaar tronkstraf vir seksuele gereedmaking gevonnis, wat gelyklopend met die lewenslange vonnis uitgedien sal word.

Die hof het Broekman verbied om ooit weer met kinders te werk. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en sy naam sal in die register vir seksoortreders opgeteken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Braham ·

En so kon Broekman nie sy broek ophou nie. Hy verdien nie om ooit weer die sonlig te sien nie. Vark

popsa ·

Ai tog. Só verwoes jy jou eie lewe, jou loopbaan en jou toekoms; jou naam, jou reputasie, selfs jou geliefdes en onderlinge familieverhoudinge. Hoe dwaas kan ‘n mens wees! Vlug liewer uit enige situasie soos Josef, en sê vir jouself soos hy: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?”

Anel ·

As die vark regtig lewenslank sou sit, sou dit nie nodig wees om hom onbevoeg te verklaar om ‘n wapen te besit nie, of om met kinders te werk nie of sy naam in ‘n register, wat eintlik maar ‘n klug is, te kom nie. Hy moet nooit weer die buitekant van ‘n tronksel sien nie!!

Koos 100 ·

Anel, jy is so reg, behalwe om hom ‘n vark te noem. Varke verkrag nie kleintjies nie. Hy moet nie weer son sien nie.

Swerwer ·

Net 2 jaar tronkstraf vir ń kind se misbruik en haar menswees vernietig deur vieslike dade. My hart gaan uit na daardie dogter. Baie sterkte aan die dogter en haar Ma, dankie “Ma” dat jy jou kind ondersteun en deur hierdie verskriklike tyd moet wroeg.

amapinki ·

“Tot twee jaar tronkstraf vir seksuele gereedmaking gevonnis, wat gelyklopend met die lewenslange vonnis uitgedien sal word.”
Ek sien niks van “opgeskort” nie. :/

SomeOne ·

Broekman was ’n “BRANDWEER HOOF”en volgens die ma ’n grootkop in Lydenburg.
nie lugmag nie, tensy ek dit nie raaklees nie

Elméne ·

Ek wonder maar net – wat van al die “ander verkragters / moordenaars” wat die strate vol loop???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.