Vermeende bloulig-kapers vas

Argieffoto ter illustrasie

Drie verdagtes sal na verwagting vandag (Maandag) in die Tembisa-landdroshof aan die Oos-Rand verskyn vir hul beweerde betrokkenheid by verskeie sakerooftogte, insluitend bloulig-vragmotorkapings en rooftogte op die R21-snelweg.

Die verdagtes, al drie tussen die ouderdomme van 30 en 40, word in dié stadium slegs aangekla van die besit van onwettige vuurwapens, die besit van ammunisie en die besit van polisie-uniforms. ’n Ondersoek is egter van stapel gestuur om vas te stel of hulle ook met nóg ernstige misdade verbind kan word.

Een van die verdagtes word ná ’n voorlopige ondersoek reeds verbind met ʼn reeks ernstige en gewelddadige misdade waaronder verskeie moorde en gewapende rooftogte wat tussen 2017 en 2020 in Brakpan, Kwa-Thema en Tsakane aangemeld is.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê die drie verdagtes is Vrydag in Tembisa in hegtenis geneem nadat ’n taakmag van die Ekurhuleni-distrik hulle met verskeie misdade waaronder dié op die R21 verbind het.

Twee vuurwapens, waarvan slegs een wettig, patrone en uniforms van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is tydens die inhegtenisnemings in die verdagtes se besit gevind.

Albei vuurwapens sal nou vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of die wapens verbind kan word met nog ernstige en gewelddadige misdade. Die polisie het ook op ‘n wit VW Polo beslag gelê om vas te stel of dié voertuig tydens die uitvoering van die kapings en rooftogte op die R21 gebruik is.

Die verdagtes moet ook later vandeesmaand in die hof verskyn in verband met ’n sakeroof wat in Augustus verlede jaar in Springs plaasgevind het.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het die inhegtenisnemings verwelkom en gesê die ondersoekbeamptes in die saak behoort nou saam met die aanklaers te werk om te verseker dat borgtog nie aan die verdagtes toegestaan ​​word nie.

“Hierdie inhegtenisnemings is ʼn duidelike aanduiding daarvan dat die meeste ernstige en gewelddadige misdade in Gauteng gepleeg word deur oortreders wat keer op keer misdade pleeg en onder die illusie verkeer dat hulle met moord kan wegkom,” het die provinsiale kommissaris gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Antoinette ·

Hier in Ooste van Pretoria is verskeie misdade al gepleeg deur drie verdagtes in wit Volkswagen Polo.

Dup ·

SA is besig om in ñ moeras van misdaad,korrupsie en bedrog weg te sak.Misdade word op alle vlakke van ons samelewing gepleeg en gaan net ongestoord voort.

Thelsa ·

Laat hulle liewer uit op borgtog . . tronke is heeltemal oorvol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.