Vermeende kapers vas na vlaag misdade

Argieffoto bloot ter illustrasie

Drie vermeende kapers en rowers van koeriermaatskappye se voertuie is Dinsdagmiddag in Vereeniging aan die Vaaldriehoek in hegtenis geneem.

Dít volg nadat Gauteng ’n vlaag kapings en voorvalle waar koeriervoertuie beroof is, beleef het.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het gister ’n gesamentlike operasie onder leiding van sy provinsiale span vir ernstige en geweldsmisdaad uitgevoer nadat dié span inligting rakende moontlike verdagtes ontvang het.

Inligting het die span na Vereeniging gelei waar hulle die verdagtes se voertuig opgemerk en agternagesit het. ’n Skietgeveg het tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek en die verdagtes is eindelik in hegtenis geneem.

Niemand is tydens die skietgeveg gewond nie.

Die polisie het op drie ongelisensieerde vuurwapens op die toneel sowel as die verdagtes se voertuig beslag gelê. Die polisie kon intussen vasstel dat dié voertuig in Januarie by die polisie in Moffatview in Johannesburg as gekaap aangemeld is.

Daar sal nou ook ondersoek ingestel word of die drie verdagtes, onderskeidelik 30, 31 en 33 jaar oud, verbind kan word met verskeie sake van kapings en rooftogte van koeriervoertuie.

Die vuurwapens sal ook vir ballistiese toetse gestuur word.

Makhubele sê daar moet nog vasgestel word wanneer die verdagtes op aanklagte van poging tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ’n gekaapte voertuig asook roekelose en nalatige bestuur in die hof sal verskyn.

Die polisie se ondersoek duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nie Verbaas ·

Met die huidige toestand van die polisie se forensiese stelsel is hulle een van die dae weer op vrye voet. Cele se trots.

Dup ·

Die arme polisie sal nooit wen nie want die misdadigers is soos treksprinkane.

Excalibur ·

BRAVO! Manne in blou. Dankie, jul het jul goed van jul taak gekwyt. Kom ons kyk nou of die regstelsel jul bloedsweet sukses met geregtelike sukses kan deurdra en/of ons nie maar “Catch & Release” speel om die Publiek te flous nie.

Stefan ·

Verskeie skote is geskiet maar niemand is gewond nie.
Dus almal het misgeskiet, opgeleide polisie behoord mos beter te doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.