Vermiste polisiekonstabel ‘ontvoer, beroof’

Baswabile Mildred Silowe (Foto verskaf)

ʼn Polisiekonstabel van Lydenburg (Mashishing) wat Sondagmiddag oënskynlik spoorloos verdwyn het, is sowat ʼn dag later in die omgewing van Calcutta gevind nadat sy glo ontvoer en beroof is.

Maroela Media het vroeër berig konst. Baswabile Mildred Silowe (26) se familie het haar eergisteraand as vermis aangemeld nadat sy by die Bosbokrand-winkelsentrum ʼn taxi na Lydenburg sou haal. ʼn Onbekende man het vir haar ʼn rygeleentheid aangebied en sy het dadelik haar sussie laat weet.

Volgens brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het haar suster teruggeskakel en toe ʼn paar keer weer probeer, maar sy kon Silowe nie weer in die hande kry nie. Sy het ook Silowe se kamermaat genader wat bevestig het dat sy nog nie terug is nie.

Die suster was baie besorg ná talle mislukte pogings om met Silowe kontak te maak en het die saak by die polisie aangemeld.

Hlathi het gesê Silowe is by ʼn verkeerslig in Calcutta gevind.

“Sy het aan die polisie gesê sy onthou dat een van die mans wat vir haar ʼn saamrygeleentheid aangebied het, ʼn lap oor haar gesig gehou en sy daarna haar bewussyn verloor het. Sy het ook gesê dat sy in ʼn bos wakker geword het. Haar hande en voete was vasgebind en sy is van al haar besittings beroof,” het Hlathi gesê.

“Sy het na ʼn pad daar naby gerol waar ʼn verbygaande ambulans se bemanning haar gesien het. Die polisie is dadelik ontbied en die slagoffer is na ʼn hospitaal geneem. Sy is intussen ontslaan.”

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiehoof, het sy verligting uitgespreek dat Silowe lewend opgespoor is. Hy het ook beveel dat ʼn ondersoek na die voorval gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gawie ·

‘n Polisiekonstabel aanvaar ‘n geleentheid saam met ‘n totale vreemdeling? Ek dink nie so nie. Hier is ‘n slang in die gras.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.