Vermiste Pretoria-man veilig gevind

Jauqes Stols by sy seuntjie, Wernich. (Foto: Verskaf)

Jauqes Stols (42), wat op 12 September spoorloos verdwyn het, is veilig gevind.

Sy vrou, Laurette, het Saterdag aan Maroela Media bevestig haar man is veilig terug by die huis. Sy het nie verder oor die besonderhede rondom sy verdwyning uitgewei nie.

Maroela Media het vroeër berig Stols het die oggend omstreeks 06:15 by hul huis naby Onderstepoort vertrek op pad na sy werksplek in Waltloo. Hy het dit egter nie tot daar gemaak nie en sy foon was afgeskakel.

Die egpaar en hul vierjarige seuntjie, Wernich, het aan die begin van Augustus van Tzaneen in Limpopo na Pretoria-Noord verhuis en woon op ʼn kleinhoewe in dié omgewing.

Stols het onlangs werk as ʼn sproeiverwer by ʼn paneelklopper gekry. Sy werkgewer het Laurette die Maandagoggend gebel om te vra waar Stols is.

Volgens Laurette het sy niks buitengewoon in Stols se gedrag opgemerk nie. Sy het gesê hy was in die week voor sy verdwyning ʼn bietjie moeg, maar steeds “gelukkig”. Volgens haar was daar geen rede waarom haar man hulle sou los nie, veral nie sy seuntjie aan wie hy ontsettend geheg is nie. Sy ma woon ook in Pretoria en het ook niks in die tyd van Stols gehoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christine ·

Meeste van die verdwynings is mense wat vlug van hul verantwoordelikhede.

Andries ·

Nie noodwendig nie Christine. Hy mag dalk ‘n depressie lyer wees vir wie die trauma van verhuising, ‘n nuwe werk en die verantwoordelikheid teenoor sy gesin net te veel geword het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.