Vermiste skipper se uitgebrande boot gevind

Die uitgebrande Magnum Too (Foto: Ocean Echo SCUBA/Facebook)

ʼn Skiboot wat Saterdag in Sodwana verdwyn het, is Sondag uitgebrand gevind in die omgewing van Dobela aan die Mosambiekse kuslyn.

Die Nasionale Seereddingsinstituut het gesê die Magnum Too is opgespoor ná ʼn omvattende soektog deur verskeie agentskappe en ʼn vliegtuig.

Wetstoepassers is op die toneel om verder ondersoek in te stel.

“Daar is steeds geen teken van die vermiste skipper John Matambu of die onbekende man wat vermoedelik die boot gehuur het nie. Albei mans bly vermis weens onbekende omstandighede.”

Die NSRI het gesê hy dink aan die familie en kollegas van John Matambu.

Maroela Media het vroeër berig die skiboot Magnum Too het in raaiselagtige omstandighede in die see by Sodwana verdwyn.

Daar is tekens dat vuilspel plaasgevind het, alhoewel die NSRI hoop dat dit nie die geval is nie.

Norman Rautenbach, adjunkstasiebevelvoerder van die NSRI in Richardsbaai, het gesê die NSRI is Saterdagmiddag omstreeks 17:00 in kennis gestel van die Magnum Too, ʼn 21 voet-Yeld Cat-skiboot wat in die see verdwyn het. Die Magnum Too het vermoedelik Sodwanabaai vroegoggend verlaat.

John Matambu (Foto: John Matambu/Facebook)

Die bekwame skipper John Matambu was aan boord met ʼn manlike passasier of passasiers.

Rautenbach het gesê dit wil voorkom of persone, of ʼn persoon, ʼn man wat nog nie geïdentifiseer is nie, moontlik die skiboot gehuur het. Die boot moes Saterdagmiddag na Sodwanabaai teruggekeer het. “Daar is ernstige kommer oor vuilspel met groot kommer vir skipper Matambu en sy passasier(s) se veiligheid,” het Rautenbach bygevoeg. Hy het benadruk dat die NSRI hoop dat dit nie die geval is nie.

“Dit wil voorkom of die individu(e) wat die boot gehuur het, moontlik vals inligting verskaf het oor hul identiteit. Dit is egter nog nie bevestig nie en kan moontlik net ʼn misverstand wees. Hulle het vermoedelik op ʼn motorfiets in die gebied aangekom.”

Enigiemand met verdere inligting word versoek om die polisie te kontak by 08600 10111 of die NSRI se nooddienssentrum by 087 094 9774 of MRCC by 021 938 3300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

John Matambu is die skipper.Hoekom sou hy uit vrye wil Mosambiek toe gevaar het.Die persoon of persone wat die boot gehuur het met moontlike vals identiteit.Hier is baie vrae maar in die stadium geen antwoorde nie.Hoekom die boot aan die brand steek.Wou die persoon of persone wat die boot gehuur het ongesiens Mosambiek binne gaan.Wat het dan van die skipper geword.

Aai ·

Casper ek stem met jou miskien was dit die eenigste manier vir hulle om onwettig in Mosambiek te kom en ongelukkig was John se boot die een wat hulle gekies het.Kom ons hoop hy is veilig dinge lyk nie goed.Seker die bood gebrand vir bewyse kan net wees.

Bostoe ·

Daar is blykbaar 2 stelle voetspore op die strand gekry by die boot en die eerstehulpkissie was ook gebruik. Dinge luk glad nie goed vir John Zulu nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.