Vermiste stapper wél vermoor

Erna Gericke (66). (Foto: Facebook)

Die uitslag van ʼn nadoodse ondersoek wat gedoen is op Erna Gericke (66) dui daarop dat die wond aan haar hand en voorarm moontlik veroorsaak is deur ʼn groot kaliber vuurwapen en dat sy dood is weens bloedverlies ná die aanval.

Maroela Media het vroeër berig ʼn grootskaalse soektog is na Gericke van stapel gestuur nadat sy Sondagmiddag in die omgewing van Rondomskrik, naby Barrydale, gaan stap en toe spoorloos verdwyn het.

Gericke en haar man, Bremer, het op Barrydale afgetree. Bremer Gericke was jare lank die leraar van die NG kerk Stellenberg.

Sy is Maandag in die vroeë oggendure ʼn paar kilometer van die parkeerarea op die Waterval-staproete aangetref. Paramedici het haar op die toneel dood verklaar.

Gericke se voertuig was ook nie meer in die parkeerarea nie en dit is later verlate in Tradouwshoek gevind. Twee verdagtes van ʼn plaas in die omgewing is kort na mekaar in hegtenis geneem in verband met die motordiefstal.

Die polisie het aanvanklik gesê ʼn nadoodse ondersoek moet nog gedoen word, maar in daardie stadium is “geen gemene spel” oor Gericke se dood vermoed nie.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê gegrond op die bevindings van die nadoodse ondersoek het Barrydale-speurders hul ondersoek uitgebrei en reeds ʼn .303-geweer gevind wat glo gebruik is om Gericke mee aan te val en te skiet.

Die twee verdagtes sal nou ook tereg staan op ʼn bykomende aanklag van moord. Hulle het gister reeds op die motordiefstalklag in die hof op Barrydale verskyn, het Pojie gesê.

“Hulle bly in aanhouding en sal vandag in dieselfde hof verskyn waar die moordklag bygevoeg sal word. Die moontlikheid dat nog aanklagte teen hulle aanhangig gemaak word, kan nie uitgesluit word nie.”

Pojie sê die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hexi ·

.303 geweer? Nie iets wat jy sommer in jou gatsak wegsteek nie.
En die spaarsleutels van haar voertuig in die verdagtes se besit gevind??
Net ek wat wonder oor die toevalligheid van alles?

Francois Le Cochon ·

Netso. Dit sal interessant wees om te weet wie vir hulle die spaarsleutes en .303 geweer gegee het. Veral omrede .303 gewere versamelaars gewere is, en .303 patrone nie vrylik beskikbaar is nie. Hoe het die skieter geweet hy kan ook .308 of 30-06 patrone gebruik. Baie mense het ou .303 gewere wat die weermag destyds uitgedeel het aan pelle, wat nooit gelisensieer was nie. ‘n Kolonel het in die 70’s vir my pa so ‘n geweer gegee wat nog splinternuut en in ghries papier toegedraai was.

Anon ·

Barrydale is piepklein en inwoners sal dus maklik wees om dop te hou.
Skurke beskik oor enige wapen op die mark en waar lees jy dat hulle die motor se spaarsleutels gehad het?
Sy is aangeval, dus het hulle heel moontlik die sleutel afgevat.
Niks toevallig aan enige iets nie, hê respek vir haar familie.

Hexi ·

Anon
Gaan lees die eerste artikel.
As hul die sleutels by die arme vrou gevat het, hoekom pertinent noem dat dit die “spaar” sleutels is. En hoekom die venster breek as jy in besit van die sleutel is.
Ek het simpatie en my hart breek vir almal wat onskuldig so in rou gedompel is, wonder maar net oor die “feite”….

Retha ·

Presies! Ons word soos kroon wild gejag en NIKS word daaromtrent gedoen nie!!!!!

Willem ·

Mense gaan tree af om vreedsaam te lewe. Nou word jy vermoor. Wat gaan aan?

Chris dupreez ·

Die polisie het aanvanklik gesê geen gemene spel word vermoed, die ouens is eers net vir diefstal aangekla,?? Hoe skiet jy iemand met n 303 geweer en rand haar aan met die geweer en die polisie vermoed geen gemene spel. Maak nie sin nie, n blinde polisieman sou n beter ondersoek gedoen het

Johan D ·

Wat sou u gesê het indien die polisie aanvanklik gesê het dat die dame vermoor was en dit dan later geblyk het nie die geval was nie?

Sarel ·

Mens dink jy gaan tree rustig af en dan gebeur so iets.
Mag die familie genade vind in die yyd en vorentoe vir Hofsaak.

Regverdigheid ·

Dis wreed mense se lewe is niks meer werd ,,, so sad RIP Sterkte aan die familie.

Johanna ·

Dis baie vreemd. Gaan interessant wees om te hoor wat daar gebeur het. Moontlik is sy op n afstand geskiet..
Arme vrou. Sterkte aan haar Familie.

Keith ·

It is becoming more and more obvious that it is NOT SAFE for an individual to go hiking or for a walk ANYWHERE in south africa unless you are accompanied by someone, who is armed or unless you are very aware of your surroundings. Also – the number of farm/small holding attacks, where a weapon is somehow stolen (instead of being used for protection) is also an alarming occurence. I wish people would understand that the good old days are long gone, and that they would also realise how unsafe life has become. This is tragic and sad beyond words.

Fae Fubar ·

Keith, I fully agree with you. Hier in Tzaneen stap die dames en skooldogters alleen, vroeg soggens of laat smiddae. Veral teen die beboste gebiede langs die dam en oorkant die ingang na die tronk. Salig onbewus van moordenaars en verkragters wat hulle binne ‘n oogwink aan die arm kan gryp en die bosse in sleep. Die bosse groei op plekke tot teen die geel streep op die teerpad. Hier is plekke waar ‘n liggaam vir maande of selfs jare weggesteek kan word. Terloops: ‘n bosslaper se liggaam het vir maande in sy bakkie gelê en as ‘n kennis van hom dit nie gaan rapporteer het nie, dan was hy moontlik nooit gevind nie. Ek staan telkens verstom wanneer ek lees dat ‘n persoon alleen gaan stap of fiets ry het en vermoor is. Die dae toe ons as kinders op die koppies in Touwsrivier alleen gespeel het, is ongelukkig lankal verby.

JM ·

Suid-Afrika het moord deel van ‘n tradisie gemaak: as ek iets van jou wil vat, vermoor ek jou eers. Waar gaan dit eindig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.