Vermoorde dokter se man sterf ook

Die oorlede dr. Erna van Zyl en haar man, Dries. (Foto: Verskaf)

Dries van Zyl (78) van Pretoria is die afgelope naweek oorlede nadat hy sowat vier maande gelede ’n aanval oorleef het wat die lewe van sy vrou, dr. Erna Britz-Van Zyl, geëis het. Erna was ’n bekende dokter in dié stad.

Die egpaar is einde Januarie in hul huis in Erasmusrand in die ooste van Pretoria oorval en aangerand. Een van die egpaar se seuns het die volgende dag op sy vasgebinde ouers in hul huis afgekom.

Erna is op die toneel dood nadat sy vermoedelik versmoor het en Dries is met ernstige beserings na ’n hospitaal gehaas.

Hoewel hy aanvanklik goed ná die aanval aangesterk het, het dit later duidelik geword dat hy bloeding op die brein opgedoen het, het die egpaar se seun, Gusti van Zyl, aan Maroela Media vertel.

Dries het tydens die aanval verskeie houe teen die kop gekry. Sy regteroog was baie rooi ná die aanval en ’n breinskandering is toe reeds gedoen. Geen bloeding op die brein kon egter in daardie stadium opgemerk word nie.

Dries is later ontslaan en het aanvanklik goed by familie aangesterk.

“Sonder dat ons daarvan geweet het, het bloeding op my pa se brein ontwikkel,” vertel Gusti nou.

Sy pa se gesondheid het teen einde Maart agteruit begin gaan en hy het geval. Dries het met die val weer ’n effense hou teen die kop opgedoen en ’n breinskandering is weer gedoen. Bloeding op die brein is dié keer duidelik op die skandering opgemerk.

Daar is aan die familie gesê dat dit glo dikwels gebeur dat bloeding op die brein mettertyd ontwikkel en nie dadelik op ’n skandering sigbaar is nie.

Volgens Gusti is Dries opgeneem en het twee bilaterale kraniotomies ondergaan om die bloeding op die brein te dreineer. Hy is sowat nege weke lank in die hospitaal behandel voordat hy Saterdag dood is.

“Hy het verder verswak na die operasies,” vertel Gusti.

Dries sal volgens sy seun onthou word as ’n pa wat moeite gedoen het om belangstellings by sy seuns te kweek. Dries was self voor sy aftrede ’n fisikus en ingenieur en was baie lief vir die wetenskap, asook vir die natuur en fotografie.

“Hy was ’n baie goeie pa en liefdevol.”

Gusti sê sy ma het op haar beurt ’n ongelooflike ywer vir haar medemens gehad en was ’n voorbeeld vir baie.

“Sy het tot die einde toe gewerk soos sy dit altyd wou gehad het. Sy was die dag voor die moord nog by die hospitaal (Steve Biko).”

Die egpaar word oorleef deur vier seuns.

Die verdagtes

Maroela Media het vroeër berig Thabo Nkomo (21), Coney Shongwe (22) en Richard Nhlapo (30), al drie van Moloto, is in Februarie in hegtenis geneem in verband met die aanval.

Dít nadat ’n deurbraak gemaak is toe ’n kredietkaart wat gedurende die aanval gesteel is, by die Big Tree Mall in Moloto, meer as 30 km buite Pretoria, gebruik is.

Die egpaar se Toyota Corolla waarmee die verdagtes van die toneel gevlug het, is ook by die betrokke winkelsentrum opgemerk.

Hulle staan nou tereg op aanklag van moord, poging tot moord, huisroof en motordiefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Dis bitter hartseer, maar nou is die oom en tannie weer saam. Sterkte aan die seuns

Anel ·

En waar is die optogte, die toi-toi, die brand van geboue buitebande nou. Sterkte aan hierdie familie!!

Erika ·

Ter wille van “Korrektheid’ mag jy mos nie se soos dit is nie( waarheid ) nie.

Vernon ·

Dis hoekom die land in sy maai is,want as die waarheid gepraat word kan mens handel daarvolgens,maar waarheid is n vloekwoord vir die ANC.

Cindy ·

bitter hartseer. so jammer vir hul geliefdes, maar bly hulle is weer saam

Toy ·

Dit voel ek kan skreeu, waarom aan mense dit doen wat hulle niks aangedoen het nie.

Schalk ·

In Suid Afrika hoef ons nie bang te wees om van Covid te sterf nie. Jou kans om deur onmenslike dade te sterf is veel groter.

RIV Liewe Oom en Tannie!

Marietjie ·

So jammer dat dierbare mense op die manier van hul geliefdes weggeneem word.

Margaret ·

Vieslike moordenaars. Lewens geneem daarvoor en hulle sal ook geen berou toon nie.

Magda G ·

Bring die doodstraf terug. Te veel onskuldige lewens word geneem

Ilze ·

En nou gaan sit die drie in die tronk op die belastingbetaler se geld nadat hulle die lewe van iemand geneem het wat ‘n bydrae tot die welstand van mense gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.