Vermoorde kontrakteurs vir kabeldiewe aangesien

(Foto: Argieffoto)

Die vier kontrakteurs wat vermoor is toe hulle ʼn kabelfout in Germiston, Gauteng, wou herstel, is verkeerdelik as kabeldiewe aangesien.

Volgens Senzi Sibeko, burgemeesterskomiteelid vir water, sanitasie en energie, het woedende inwoners gedink die kontrakteurs was diewe wat kragkabels wou steel en het hulle daarom aangeval en doodgemaak.

Soos vroeër berig het die voorval Maandag omstreeks 17:30 in Sarel Hattingh-straat in Klippoortjie, Germiston, plaasgevind.

Die kontrakteurs is deur die munisipaliteit aangestel om die kabels te herstel.

“Die kontrakteurs het die inwoners probeer verseker dat hulle deur die munisipaliteit aangestel is om herstelwerk te doen, maar die gemeenskap wou nie luister nie en voortgegaan om hulle (die kontrakteurs) aan te val,” sê Sibeko.

Die gemeenskapslede het die kontrakteurs se voertuig van ʼn brug afgegooi en dit aan die brand gesteek. Hulle het die kontrakteurs toe erg aangerand en vermoor.

Beide die polisie en die Ekurhuleni-metro se polisiedepartement ondersoek tans die saak.

Sibeko het sy misnoeë uitgespreek oor ʼn politieke party in die munisipale raad wat besonderhede rondom die moorde aan die publiek en media versprei het.

“Ek wil leiers van politieke partye versoek om hulle daarvan te weerhou om inligting te deel wat nog aan ʼn kriminele ondersoek onderhewig is. Ons wil nie die ondersoek beïnvloed of benadeel nie.

“Dit is eweneens onsensitief teenoor die families van die oorledenes dat hul regte op privaatheid en waardigheid in hierdie pynlike tydperk geskend word vir politieke gewin.”

Sibeko pleit by gemeenskappe om hulle daarvan te weerhou om betrokke te raak by dade van geweld of om reg in eie hande te neem.

“Stadsamptenare of kontrakteurs in diens van die stad moet toegelaat word om hul werk te doen om te verseker dat gemeenskappe die dienste ontvang wat hulle verdien.”

Sibeko het namens die munisipaliteit sy innige medelye met die oorledenes se families en geliefdes betuig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pietertjie ·

Ek vra weer: waar is die mense se intelligensie? Maroela, julle kan maar sensor: die waarheid kan nie dood geswyg word nie!

Pierre ·

welgedaan hang als aan die groot klok, hoekom moet daar oor stil gebly word?

Delia ·

So jammer en al my simpatie aan die 4 manne se familie..my hart huil vir julle

TruthDealer ·

Myne ook. So afgryslik. Ordentlike werkende mans. Ek wil my nie eens indink hoe hul geliefdes voel nie. Net afgryslik en tragies.

Delia ·

Waar is die taakspan. Of is die 4 swart mans wat vermoor is, nie belangrik genoeg nie

miraclealigner ·

Gaan enigeiemand aangekeer word vir die sinlose moorde?!

antieklimaks ·

Absoluut skokkend. Waarom moet dit stil gehou word? Daar is geen wet en orde in SA nie. Die regerende party se nalatenskap.

Papsak ·

Dit is nou pateties as kabeldiewe maar so vinng uit gewis kan word maar daai mense het hulle werk gedoen

Skappie ·

Watter onnodige moorde. Strekte aan amal se gesinne in hierdie moeilike tye wat vir julle nou voorle.

quartus ·

hoekom is daar nie een of ander vorm van identifikasie aan die werkers gegee sodat hulle kan bewys dat hulle vir munisipaliteit werk nie ?

Strandloper ·

Sjoe, dertig jaar gelede was Klippoortjie n gegoede buurt. So bly eks daar weg met die spoed van klank na hani se moord.

Aanhouer ·

Barbarisme is aan die orde van die dag. Geen salf daaraan te smeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.