Vermoorde Matie-student se pa sterf

Willem Cornelius se dogter, Hannah, is in 2017 vermoor. (Foto: Facebook)

Die pa van die Matie-student Hannah Cornelius (21), wat in 2017 grusaam vermoor is, is dood.

ʼn Familielid van landdros Willem Cornelius het Saterdagaand die nuus op Facebook gedeel.

“Ons het gister afskeid geneem van ons buitengewone sagte reus,” lui die plasing.

“Jy was enig in jou soort. Ons sal al ons herinneringe koester totdat ons by jou aansluit.”

Verdere besonderhede oor Willem se afsterwe is nog nie bekend nie.

Die nuus oor Willem se dood kom skaars twee weke ná die aankondiging dat hy terminaal siek is en as sodanig die Hannah Cornelius-stigting, waarvan hy direkteur was, moet deregistreer en sluit.

Hannah se ma, Anna Cornelius, het minder as ʼn jaar ná haar dogter se moord in die see by Scarborough in Kaapstad verdrink. Sy het destyds die Hannah Cornelius-stigting saam met haar man, Willem, gestig om ondersteuning te bied aan ouers wat kinders aan die dood afgestaan het.

Hannah is in 2017 in haar tweede jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) verkrag en vermoor nadat sy en haar vriend, Cheslin Marsh, op 27 Mei van daardie jaar in die vroeë oggendure in Birdstraat, Stellenbosch, ontvoer is.

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk is enkele maande daarna op aanklagte van roof, ontvoering, verkragting en moord skuldig bevind en elkeen lewenslange tronkstraf opgelê.

Lees al Maroela Media se berigte oor Hannah Cornelius hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nici ·

Dis so hartseer. Die seun wat in die gesin oorbly het elke jaar iemand verloor en bly nou alleen agter. Ongelooflike skade wat daardie drie mans gedoen het toe hul besluit het om bietjie ‘pret’ te he daai nag toe hul Hannah verkrag en vermoor het.

Lillian ·

Nou is 3 lede van ‘n gesin van 4 al weg … dis bitter hartseer

Prinses Bella ·

Pappa en mamma is verenig met hulle dogter, wat so wreed weggeruk is. Net ‘n ouer wat ‘n kind verloor het sal verstaan deur watter hel hulle is en hoe mens elke dag bid om daarvan verlos te word en na jou kind toe te gaan. My hart gaan uit na die enigste oorblywende lid van die gesin. My bede is dat hy ‘n gesin van sy eie het wat sin en doel in die lewe gee. Mag die oortreders brand in ‘n hel van vlamme. God se oordeel wag op hulle

Swerwer ·

Hartverkeurend. Waarom en hoekom moet onskuldige mense so wreed uit die wêreld geruk word. My hart gaan uit na die seun, hoe moet hy dit alles verwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.