Vernon Koekemoer ondergaan nóg ʼn operasie

Só het Suid-Afrikaners Vernon Koekemoer in 2008 leer ken. (Foto via Facebook)

Dit gaan onder die omstandighede goed met Cassie Booyse, beter bekend as Vernon Koekemoer, nadat hy Maandag nóg ’n operasie ondergaan het.

“Dit was ’n redelike lang operasie,” vertel Linda Coetzee, Booyse se lewensmaat van die afgelope nege jaar. “Hulle het hom 10:45 in die teater ingestoot en hy het 15:00 uitgekom. Ons het nog nie met die dokter gepraat oor wat hy gedoen het nie. Dit lyk darem of dit goed afgeloop het.”

Verpleegpersoneel het egter teen Maandag laatmiddag – toe Coetzee by die hospitaal weg is – nog gesukkel om sy bloeddruk en suurstofvlakke te stabiliseer.

“Ek glo hy gaan deurdruk. Hy lyk goed. Hy lyk ʼn bietjie bleek, maar ek dink dis van die lae bloeddruk en suurstof, maar andersins lyk dit okei.”

Linda Coetzee en Vernon Koekemoer. (Foto: Verskaf)

Booyse is aanvanklik op 17 September in die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg opgeneem nadat sy gesondheid skielik drasties begin agteruit gaan het.

Booyse is die afgelope twee jaar al bedlêend nadat hy drie onsuksesvolle heupoperasies in dieselfde hospitaal ondergaan het.

Maroela Media het vroeër berig Booyse het ná die laaste operasie in Februarie vanjaar weer infeksie gekry en hy kon sedertdien nog glad nie weer loop nie.

Booyse het in 2008 oornag ʼn sensasie op die internet geword nadat ʼn foto van hom by ʼn musiekfees met ʼn kortbroek, geknoopte hemp, mullet en glasie in die hand, versprei het. Hy is “Vernon Koekemoer” gedoop en die foto het wêreldwyd versprei. Hy was só gewild dat hy selfs in ʼn Nando’s-advertensie daarna gevolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LANA is ELANè ·

“Vernon” lyk sommer stukke beter. Wys jou net wat medici met integriteit aan ñ mens se liggaam en siel kan doen. Sy pyn was tasbaar in die vorige fotos. Ek hoop sommer hy herstel 100%

Vinny ·

Mag jy ten volle herstel Cassie, sterkte – jy is mos ons eie Rambo, vasbyt!!!!

Hannelie ·

Sterkte, hoop jy herstel gou en voel dan sommer stukke beter.

JohanR ·

Se vir ons wie is die dokter, sodat ons nooit onder sy mes op eindig nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.