Verslag onthul omvang van raswette in SA

Johan van der Merwe het die verslag saamgestel (Foto verskaf deur AfriForum)

Deur Marthinus Koekemoer

Suid-Afrika gaan gebuk onder verskeie probleme waarvan die oorgrote meerderheid aan die ANC-regering se wanbestuur, korrupsie en kaderontplooiing toegeskryf kan word. Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n verslag bekendgestel wat die rasbeheptheid van die ANC-regering onder die loep neem, asook hoe die raskaart en verwysings na die verlede telkens aangewend word om ekonomiese, sosiale en ander probleme te probeer verberg.

Johan van der Merwe, ’n prokureur by Haasbroek & Boezaart Prokureurs, het die verslag Racialised Legislation in South Africa opgestel.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, het vandag met Van der Merwe, die inhoud daarvan bespreek en saam vrae beantwoord. Van Zyl het beklemtoon hoe die vlaag van openbare mening die afgelope paar jaar teen die ANC se ras-obsessie gedraai het, terwyl Van der Merwe die omvang van die skade wat die Suid-Afrikaanse regering se rassediskriminerende wetgewing aangerig het, beklemtoon het.

“Suid-Afrika het ’n groot sistemiese rassismekwessie in die vorm van swart ekonomiese bemagtiging en die ANC se groeiende lys rassewette. Dit moet ook nie ‘omgekeerde rassisme’ genoem word nie, dit is bloot rassisme. Rassediskriminerende wette was in die verlede verkeerd, en dit is ook in die hede verkeerd,” gaan Van Zyl voort.

Ernst van Zyl en Johan van der Merwe (Foto verskaf deur AfriForum)

“Nou dat rassewette in die 21ste eeu steeds voortduur, soos AfriForum se verslag toon, is dit hoog tyd vir die beëindiging van hierdie afskuwelike praktyke en dat die gryp van strooihalms om dit te probeer regverdig, onmiddellik ophou.”

Van der Merwe het tydens sy navorsing verskeie skokkende bevindings gemaak.

Hy het byvoorbeeld gevind daar was sedert 1910 sowat 313 raswette in Suid-Afrika ingestel waarvan nagenoeg 37% sedert die ANC in 1994 die regerende party geword het, geskep is.

“Hierdie wette word gewoonlik geskep met die edelste bedoelings soos om armoede te verminder en die ongelykhede wat in die verlede geskep is, uit te wis. Navorsing het egter bewys dat regstellende aksie nie hierdie doelstellings bereik nie. Dit bevoordeel gewoonlik die mense wat die wette uitdink en dus sal hulle dit nie maklik laat vaar nie,” sê Van der Merwe.

Alhoewel regstellende aksie ook in ander lande gebruik word, sê Van der Merwe dit is omtrent orals aan die afneem. Suid-Afrika is ook een van die min lande waar regstellende aksie gebruik word om ’n meerderheidsgroep te beskerm en eintlik poog om ’n minderheidsgroep by die ekonomie uit te sluit.

Ernst van Zyl (Foto verskaf deur AfriForum)

Vir hierdie verslag is enige wet wat na ras verwys ondersoek. Baie van hierdie wette is natuurlik goed en is daargestel juis om diskriminasie te probeer uitskakel. Van der Merwe het vir die doeleindes van die verslag hierdie soort wette in ’n eerste kategorie ingedeel. In ’n tweede kategorie sluit hy wette soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) en die Wet op Gelyke Indiensneming in wat van nature rasgedrewe is. Hierdie wette is geskep met die veronderstelling om ongelykhede van die verlede uit te skakel. ’n Derde kategorie is wette wat eintlik nie direk met ras te doen het nie, maar wel steeds ras noem.

Laasgenoemde wette is problematies en verwys gewoonlik na verteenwoordiging. Hierdie wette verwys dan gewoonlik na hoe ’n raad of die bestuur van ’n maatskappy se lede verteenwoordigend van die demografie van die land moet wees. Alhoewel enkele individue uit voorkeurgroepe voordeel uit hierdie wetgewing trek doen dit min om die oorgrote meerderheid voorheen benadeelde Suid-Afrikaners op te hef.

Enige onderneming met meer as 50 werknemers of wat ’n sekere voorgeskrewe industrie-omsetkerf oorskry, moet volgens wetgewing wat in Mei vanjaar aangekondig is binne vyf jaar sekere rasteikens bereik of die risiko loop om reuseboetes van soveel as R2,7 miljoen of 10% van die onderneming se omset opgelê te word. Verskeie belanghebbendes insluitend die DA en Solidariteit het teen hierdie wetgewing kapsie gemaak. Solidariteit het ook ’n ooreenkoms met die regering onderteken wat die impak van wat die regering probeer vermag het met rasteikens grootliks ongedaan gemaak het.

“Waarop dit neerkom is dat ’n onderneming op grond van ras moet diskrimineer of die risiko loop om gepenaliseer te word. Daar is ook vlakke vir die wyse waarop BEE by ’n onderneming in plek is. Hierdie vlakke speel ’n groot rol wanneer staatskontrakte toegeken word,” sê Van der Merwe.

Staatskontrakte word dikwels gekenmerk deur grootskaalse korrupsie waar projekte halfhartig of glad nie aangepak word nie en die belastingbetaler se geld in ’n kader se agtersak beland bloot omdat sy of haar onderneming voorkeur geniet bo een wat op ’n laer BEE-vlak is, maar wel die werk sal kan doen.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, meen dis hoog tyd dat rassediskriminasie deur middel van wetgewing beëindig moet word. “Regstellende aksie is eintlik net ’n versagtende term wat gebruik word vir rassisme. Die gevolg is dat ’n mens die soort rassisme sien soos wat Dis-Chem verlede jaar wou toepas en mense dink dit is aan die orde van die dag. Die eintlike probleem in die land is dat die regering nie krisisse kan oplos nie en deurgaans die aandag van hul foute na iemand anders probeer verskuif.”

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KwaaiRooikop ·

BBEEE wette diskrimineer eintlik nog steeds teen swart mense, want al wat nou gebeur is, almal kyk na “suksesvolle” swart mense en dink dadelik dat hulle nie self bo sou kon uitkom sonder BBEEE nie…

Elize ·

Hierdie gemene wette van die a en c kaders klink amper asof hulle die Talliban se wette hier wil afdwing! Waar gaan dit eindig mense. Een van die dae sal al die ander behalwe die wesens net in die museums gesien kan word

Yvonne ·

As dit beter gegaan het in die land met al die ANC se aksies, sou ek dalk probeer verstaan het , inteendeel dit word by die dag erger en erger….is hulle so blind!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.