Verwag dié agt fokuspunte in begrotingsrede

Enoch Godongwana, die minister van finansies. (Foto: GCIS)

Kenners verwag nie aardskuddende aankondigings tydens die 2023-begrotingsrede nie, maar meen tog Enoch Godongwana, minister van finansies, kan Woensdag met ʼn “paar goeie idees” vorendag kom.

“Die minister het so ʼn bietjie spaargeld nadat die myne die laaste twee jaar goeie inkomste verdien het, maar hy is uiteindelik gebonde tot die mediumtermynbestedingsraamwerk,” sê prof. Waldo Krugell, professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

“Jy moet ook onthou dat die regering nie juis groot idees het nie. Hulle het klein idees en dít is gewoonlik hulle beste idees.”

Krugell verwag daarom van die minister om blote aanpassings aan die mediumtermynbestedingsraamwerk te maak.

Ander kenners stem saam dat die minister waarskynlik nié ʼn haas uit die hoed gaan pluk nie. Hier is die sewe fokuspunte wat hulle meen Woensdag prioriteit in die begrotingsrede sal geniet.

  1. Eskom

Prof. André Roux, ekonoom by die Stellenbosch Sakeskool, voorspel daar sal tydens Woensdag se begrotingsrede ʼn beduidende toewysing in die begroting aan hulpbronne wees om aandag te gee aan die Eskom-krisis.

Dr. Sandra Adendorff, dosent in ekonomie en internasionale handel by Akademia, voorspel dat die regering by die Brics-bank gaan aanklop in ʼn poging om Eskom se skuldlas van R400 miljard oor te neem en die ramptoestande te finansier.

Krugell verwag egter nie dat Godongwana in sy begrotingsrede sy planne hieroor gaan bekend maak nie.

  1. Sondebelasting

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Daar is geen twyfel by Krugell, Roux of Adendorff dat aksynsbelasting op drank en tabak verhoog gaan word nie.

“Hulle maak goeie geld daaruit. En op die ou end is dit goed vir Suid-Afrikaners se gesondheid. So dit is ʼn maklike keuse.

Adendorff verwag dat e-sigarette ook na alle waarskynlikheid belas sal word.

  1. BTW

Nie een van die kenners verwag dat die minister aan BTW gaan raak nie.

“Dit sal ʼn maklike manier wees om baie geld in te samel, maar die kans is skraal dat die minister daaraan gaan karring wanneer dit só swaar gaan met die verbruiker, te midde van ʼn buitensporige hoë inflasiekoers en brandstofprysstygings,” sê Krugell.

Krugell sê voorts die ANC sal homself in die voet skiet indien hy BTW voor die verkiesing verhoog.

Ook Roux meen ʼn styging in die BTW-koers is “onwaarskynlik”.

“Die tesourie kan dit oorweeg om verdere beplande verlagings in die korporatiewe belastingkoers uit te stel. Daar speelruimte vir ʼn betekenisvolle verlaging in persoonlike inkomstebelastingkoerse is baie beperk.”

  1. Persoonlike inkomstebelasting

Middelinkomste-huishoudings sal waarskynlik Woensdag op die uitkyk wees vir ʼn laer persoonlike inkomstebelastingkoers.

Krugell sê egter dit is nie in dié stadium nodig om persoonlike inkomstebelasting te verhoog nie. “Daar is ook nie juis enige speelruimte om dit te verlaag nie. Indien ons gelukkig is, sal die minister net weer die kerwe met inflasie aanpas. Ek verwag egter nie enige groot veranderinge nie.”

  1. Brandstof

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Indien Godongwana gewild wil wees by Suid-Afrikaners, sal hy kreatief omgaan met brandstofheffings, sê Adendorff.

Suid-Afrikaners hoop op die verskaffing van hoër kortings op diesel en petrol wat vir elektrisiteitsopwekking gebruik word. Dit is egter nie so eenvoudig om die gebruik van dié brandstof te monitor nie,” sê Krugell.

Boere hoop ook vir geen verhoging in die brandstofheffing nie. Krugell voorspel egter dat die minister “ʼn ander vorm van verligting gaan bedink” as om te verander aan die huidige stelsel.

  1. Maatskaplike toelae

Baie Suid-Afrikaners sal waarskynlik Woensdag regop sit wanneer Godongwana aan die onderwerp van maatskaplike toelae aandag gee. Adendorff verwag dat toelae effens verhoog sal word terwyl die spesiale Covid-19-toelae van R350 na alle waarskynlikheid verleng sal word.

“Die minister het eintlik nie ʼn keuse nie, tensy hy wil hê mense moet in opstand kom. Daar is net te veel mense in hierdie land wat verskriklik swaarkry.”

Krugell sê egter daar is nie geld vir groot aanpassings nie aangesien byna 30 miljoen Suid-Afrikaners van maatskaplike toelae afhanklik is. Dit is byna die helfte van die bevolking.

  1. Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)

Die gewraakte Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal na verwagting weer op die begroting verskyn. Krugell sê dit sal ideaal wees indien die minister dié omstrede wetsontwerp vir die volgende tien jaar opsy skuif, sodat geld hiervoor beter bestee kan word.

  1. Staatsamptenare

Die vergoeding van staatsamptenare – wat ʼn groot invloed op die trajek van openbare skuld het – sal ook na verwagting op die besprekingslys wees. Vergoeding van staatsamptenare is gelykstaande aan byna 15% van die BBP (een van die hoogste verhoudings ter wêreld).

“ʼn Verlaging – of ten minste ʼn stabilisering – van hierdie loonrekening is vanuit ʼn finansiële en ekonomiese perspektief regverdigbaar. Polities kan dit egter moontlik ʼn hoogsvlambare situasie skep, veral in die lig van die komende verkiesing,” waarsku Roux.

Die begrotingsrede word Woensdag omstreeks 14:00 gelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wondermaarnet ·

Waar kan ek my handjies gaan bakhou? Ek verdrink ook byna na Covid, maar geen hulp kom na my kant toe nie!

Pierre ·

Toelae sal verhoog word, staats spandering sal verhoog word met unieis wat die land lam sal le indien hulle waag om nie by lang termyn ooreenkomste bly nie, sonde belasting sal verhoog om die onwettige handel te bevorder (dink mar aan Covid), ek verwag ook dat daar een of ander sprake van vevoer belasting bespreek sal word of net verwys gaan word na om die pad vir e-tol skraping oop te maak, ek vewag ook dat enatis sal verhoog om die vervoer belasting te befonds, laer inkomste groepe sal belasting verliging ontvang, besigheids belasting sal nie verlaag nie and ja ons gaan weer bak hand staan vir geld al leen ons reeds meer as wat ons kan bekostig.

Rooi rissie ·

Ja asseblief hulle moet dit sommer met dubbel verhoog . My hart breek elke keer as ek sien hoe swaar kry die ou mensies met die kadige ouderdoms pensioentjie van die staat. Alles is so duur hoe moet hulle lewe met die klein bietjie geldjies wat hulle kry van die staat dis absolute skande.

Harley Davidson ·

Ek sou Dawie Roodt aanstel as minister van finansies en Leeu Prinsloo as minister van polisie dan weet ons ten minste oor n paar jaar gaan sa beter daar uitsien as nou.

Pietertjie ·

Ek hou nie my asem op nie. Wag maar tot Vrydag, dan maak ek verder planne om te oorleef.

Schalk ·

Eskom se R400 miljard of te wel R400 000 000 000 skuld gaan na die staat se R5 triljoen of te wel R5 000 000 000 000 000 000 skuld geskyf word sodat Eskom weer geld kan leen. Wie leen vir die mense geld? Verwag die mense om ooit weer die geld te sien?

christo ·

Die staat sal alles weer befonds met buitelandse lenings en hoër belasting. Hierdie gaan ‘n verkiesingsbeloftes begroting wees. Mense gaan weer bang gepraat word oor toelaes wat weggevat gaan word as hulle nié vir die ANC gaan stem nie …

quartus ·

Ons is een van n klein handjie vol lande met miljoener staatsamptenare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.