‘Verwydering van LP’s g’n geslagsgebaseerde geweld’ – ondersoek

EFF-LP’s word uit die raadsaal verwyder (10 Junie 2022) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Daar het geen geslagsgebaseerde geweld óf seksuele teistering plaasgevind toe vrouelede van die EFF tydens ’n parlementêre sitting in Junie vanjaar deur veiligheidswagte uit die raadsaal verwyder is nie.

Die voorval is wel gekenmerk deur geweld aan beide kante. Dít is die bevinding van adv. Elizabeth Baloyi-Mere nadat die EFF versoek het dat bewerings van geslagsgebaseerde geweld ondersoek word.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die parlement, het Baloyi-Mere vroeër aangestel om die EFF se bewerings van geslagsgebaseerde geweld onafhanklik te ondersoek. Die speaker het intussen Baloyi-Mere se verslag ontvang.

Luidens dié verslag het die EFF-LP’s Babalwa Mathulelwa, Noluvuyo Tafeni en Naledi Chirwa geweier om die speaker se instruksies na te kom. Hulle het ook die speaker geïgnoreer en die reëls van die Nasionale Vergadering verontagsaam.

Daar is voorts bevind dat die speaker probeer het om elke reël na te kom voordat sy gevra het dat die LP’s uit die raadsaal verwyder word.

Baloyi-Mere het bevind dat die LP’s se houding teenoor die reëls van die Nasionale Vergadering problematies was. Sy beveel in haar verslag aan dat die speaker ʼn vergadering met die onderskeie hoofswepe belê om te verseker dat alle openbare verteenwoordigers die reëls van die parlement nakom.

EFF-LP’s word uit die raadsaal verwyder (10 Junie 2022) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Daar word ook in die verslag aanbeveel dat daar voortaan tydens enige gegewe sitting van die parlement genoeg vroueveiligheidswagte van die parlementêre beskermingsdienste teenwoordig moet wees.

Volgens Baloyi-Mere was daar tydens die stryery nie genoeg vrouelede van die parlementêre beskermingsdienste om die verwydering van die vroue-EFF-LP’s effektief te hanteer nie.

“Die vroueveiligheidswagte is duidelik deur die vroue van die EFF oorrompel,” het Baloyi-Mere bevind.

Daar word dan ook aanbeveel dat LP’s meer respek toon vir die parlement se beskermingsdienste. Baloyi-Mere sê dit is uit videomateriaal van die voorval duidelik dat LP’s die gesag van die parlementêre beskermingsdienste ondermyn het en hulle met disrespek en minagting hanteer het.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, sê hoewel die ondersoek geslagsgebaseerde geweld en seksuele teistering uitgesluit het, veroordeel die speaker enige daad van geweld en aanranding wat tydens die struweling in Junie plaasgevind het.

Sy bly ook ontsteld oor die ontwrigtende gebeure aangesien dit die publiek se dunk van die parlement skade berokken het.

Mapisa-Nqakula het intussen reeds begin werk maak van die aanbevelings in die verslag, sê Mothapo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snowball ·

Die EFF se maniere hoort meer by dronkneste in krotbuurte en hole as in ‘n parlement. Hulle gedrag is afstootlik en lok doelbewus aggressie uit. Mens kry lus om hulle met ‘n sweep bymekaar te maak en in ‘n rigting in te wetter, maar nou moet ondersoeke gehou word oor aantygings van geslagsgebaseerde geweld. As die ongemanierde spul op hulle agterente sit en nie soos sotte skree nie, sal dit nie nodig wees om hulle uit geboue te boender nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.