Video: 122 kan weer sien danksy gratis operasie

Ariza Blaauw (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

ʼn Nuwe wêreld het die afgelope week vir 122 behoeftige pasiënte oopgegaan nadat hulle gratis katarakverwyderingsoperasies by die Pretoriase Ooginstituut ontvang het. Hierdie operasies is in die lig van Wêreldsigdag uitgevoer.

Die pasiënte het Donderdag operasies uitgevoer deur tien van die stad se top-oftalmoloë by die Pretoriase Ooginstituut in die middestad en die Faerie Glen Ooginstituut ondergaan. Maroela Media het die operasies meegemaak.

Die ooginstituut neem al die afgelope 13 jaar deel aan Wêreldsigdag, ʼn hoogtepunt nie net vir pasiënte nie, maar ook vir personeel. In dié tyd is meer as 4 000 gratis katarakverwyderingsoperasies op behoeftige persone – wat nie toegang tot hierdie operasies het nie – uitgevoer.

Die meeste van vanjaar se pasiënte was ouer as 60 jaar, met die oudste wat onderskeidelik 101 en 102 jaar oud was. Die jongste was 18 jaar oud.

“In oogheelkunde word wondere verrig met elke operasie, ten einde vir ʼn pasiënt die gawe van sig te kan gee,” vertel suster Augusta Pretorius.

Van links: suster Dipuo Molefe (matrone) en suster Augusta Pretorius (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die 18-jarige Nompi Skhosana van Stofberg, Mpumalanga, het die personeel se harte met die intrapslag gesteel. Nompi moes in 2020 skool verlaat – toe sy gr. 8 was – omdat sy haar sig in al twee oë verloor het weens katarakte.

Sy kon nie self bad of loop nie en haar ma moes haar die afgelope vier jaar versorg. Omdat sy vir so lank blind was, het sy ook afgesny van die wêreld geraak en praat min gepraat. Uit haar lyftaal was dit duidelik dat sy bang en onseker was.

Van links: suster Augusta Pretorius, Nompi Skhosana, suster Dipuo Molefe en Nompi se ma, Bongi (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Volgens een van die oftalmoloë verbonde aan die Ooginstituut, dr. Clayton Erasmus, is katarakte ’n seldsame verskynsel by jong mense. Die instituut het te min inligting rakende Nompi se mediese geskiedenis om te bepaal wat die katarakte kon veroorsaak.

“In die geval van jong mense speel genetika ʼn rol of die kind is dalk met ʼn katarak gebore, wat met tyd vererger. Diabetes by jong mense kan ook tot die vorming van katarakte bydra, wat al hoe meer ʼn algemene verskynsel word. Trauma van die oog kan ook veroorsaak dat jong mense katarakte ontwikkel,” vertel Erasmus.

Trane van blydskap

Nompi net voor haar operasie waartydens die katarakte verwyder word (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die Ooginstituut is in 2020 van Nompi se toestand in kennis gestel en haar ma, Bongi, is laat weet dat dokters die operasie gratis sal doen. Weens ʼn gebrek aan geld vir vervoer kon Nompi egter eers vanjaar by die kliniek uitkom.

“Ons het eers vanjaar gehoor dat hulle nie geld het vir vervoer na Pretoria nie en het geld gestuur sodat Nompi uiteindelik geopereer kan word,” vertel Pretorius.

By Nompi se aankoms by die hospitaal was dit vir die personeel duidelik sy is verwaarloos en honger.

“Sy het die hospitaalkos verorber.”

Die instituut voer as ʼn reël gewoonlik nie ʼn gratis operasie vir pasiënte uit op albei oë nie, maar het ’n uitsondering vir Nompi gemaak.

“Nompi het vinnig diep in die personeel se harte gekruip. Daarom het ons besluit om genoeg geld vir albei oë in te samel.”

Dit was Vrydagoggend ʼn groot oomblik toe haar dokter, dr. Liezel van der Merwe, die oogklappe van beide oë afhaal. Die eerste ding wat sy ná soveel jare gesien het, was haar ma wat trane in haar oë gehad het.

Nompi se oogklappe word afgehaal (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Nompi kan sien,” was al wat Bongi gesê het.

Nompi het toe ook sommer sonder enige hulp uit die spreekkamer gestap.

Nompi het Vrydag sommer sonder enige hulp gestap (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Nompi se sig sal nou met tyd verbeter en Van der Merwe hoop dat sy op die ou einde 90% van haar visie sal terugkry. Sy sal wel ʼn bril moet dra.

“Dit is oomblikke soos hierdie wat ʼn mens se werk die moeite werd maak,” sê Van der Merwe.

Nompi saam met haar dokter, dr. Liezel van der Merwe (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Volgens Erasmus is dit lekker om sy tyd en vaardighede gratis terug te ploeg in die gemeenskap.

“Dit is die lekkerste om daardie glimlagte te sien wanneer die verbande afgehaal word,” sê hy.

‘Nuwe oë’, talle glimlagte

Dit was Vrydag net glimlagte waar jy kyk toe pasiënte se oogklappe verwyder is.

Die 101-jarige Silwana Mahlangu van Draaikraal in Mpumalanga het aan Maroela Media vertel dat hy nog baie jare wil leef en dit beslis nie blind wil doen nie.

Die 101-jarige Silwana Mahlangu het sy lewe lank op ‘n plaas gewerk (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Vir Ariza Blaauw (73) van Pretoria is iemand soos Mahlangu ʼn inspirasie vir ander bejaardes om ook die operasie te ondergaan.

Blaauw het self Vrydagoggend opgewonde vertel hoe sy nou weer kan brei en sonder ʼn vergrootglas Bybel kan lees.

Ariza Blaauw (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Ek het vir meer as ʼn jaar lank gebid vir my nuwe oë. En nou kan ek selfs sien hoeveel plooie my man bygekry het,” vertel sy spottenderwys.

Die personeel van die instituut het ʼn spesiale rolbaldag gehou om geld in te samel sodat Blaauw ook operasies aan albei haar oë kon ondergaan.

Tannie Koekie Cronje (70) van Parys in die Vrystaat vertel hoe die katarak stukke uit haar lewe gesteel het.

Tannie Koekie Cronje sien uit om weer naaldwerk te doen noudat sy kan sien (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Ek was nie dieselfde mens nie. Ek was onseker oor dinge en as vrou wat alleen woon en dinge self moet doen, het ek gesukkel,” vertel sy.

Volgens Cronje het die katarak haar van balans gegooi en kon sy nie meer kleure onderskei nie. Haar sin vir diepte en afstand was ook heeltemal belemmer.

“Ek kon nie eens meer koffie in ʼn koppie gooi sonder om te mors nie.”

Tholang Seliane (61) het die hele net van Ladybrand in die Vrystaat gekom vir die operasie en sê die eerste ding wat sy nou gaan doen is om te hekel.

“Vir twee jaar was my oog seer en dom en kon ek nie hekel nie,” vertel sy.

Seliane is ʼn pensioenaris en pas haar kleinkinders op. Net om werkies in die huis te verrig, was vir haar ʼn uitdaging.

Katarakte

Die katarakverwyderingsoperasie is ‘n baie tegniese prosedure (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Katarakte word veroorsaak deur die verharding van die deursigtige, kristalhelder lens van die oog. Wanneer dit gebeur, verloor pasiënte gewoonlik hul sig. Dié toestand is meer algemeen onder persone ouer as 65 jaar en volens Erasmus ontwikkel 30% van persone ouer as 65 jaar in Suid-Afrika katarakte.

Hy sê daar is egter risikofaktore wat tot die vorming van katarakte kan lei, insluitend trauma aan die oog of komorbiditeite soos hoë bloeddruk of diabetes. UV-strale kan ook skade aan die oog veroorsaak, wat katarakte tot gevolg kan hê.

Die operasie behels die chirurgiese verwydering van die lens onder plaaslike verdowing en die vervanging daarvan met ʼn kunsmatige lens. Dit duur tussen tien tot 20 minute. Dit is egter ʼn baie tegniese prosedure en behels fyn werk.

Dr. Clayton Erasmus is besig om ‘n 92-jarige pasiënt se katarak te verwyder (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“ʼn Totaal van 99,9% van katarakoperasies is suksesvol en word as die suksesvolste operasie ter wêreld beskou.”

Dit is egter ʼn duur operasie as gevolg van die tegnologie en toerusting wat gebruik word sowel as die prys van die lense en die tyd van die dokter en teater wat daaraan afgestaan word.

Katarakte wat nie verwyder word nie is een van die grootste oorsake van die meer as een miljard mense wêreldwyd wat ly aan voorkombare sigverliestoestande. Dit is ook verantwoordelik vir meer as 50% van gevalle van blindheid.

Volgens Erasmus is die goeie nuus dat hierdie blindheid omkeerbaar is, maak nie saak hoe gevorderd die katarak is nie.

Hy raai jong mense aan om van vroeg reeds sonbrille met UV-ligbeskerming te dra en gereeld hul oogdokter te besoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronél ·

Ek eer die Here vir goeie gesondheid en perfekte sig – ons het ook ‘n verantwoordelikheid om sover moontlik gesond te leef.

Elizabeth ·

Ek het katerakke laat verwyder dmv mediese fonds en ek kan nie die wonderwerk beskryf wat dit vir jou doen. Myne maar agv ouderdom en hoeveel te meer beteken dit dan nie vir hierdie kind? Alle eer aan onse Vader, dokters en verpleegsters vir jul weldade. Dis ñ lewensverandering vir elke mens wat dit beleef. Godseën!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.