Video: Cele vra ‘eenheid, minder politiek’ in soektog na Joslin

Bheki Cele, minister van polisie, spreek die gemeenskap van Diazville in Saldanha toe. (Foto: SAPD)

Bheki Cele, minister van polisie, het die gemeenskap van Diazville in Saldanha in die Wes-Kaap die versekering gegee dat die polisie steeds daartoe verbind is om die sesjarige Joslin Smith te vind en haar met haar familie te herenig.

Cele het Saterdag die gemeenskap toegespreek en familielede van Joslin ontmoet. Joslin het op Maandag 19 Februarie in die Middelpos- informele nedersetting by Diazville verdwyn.

Lede van die gemeenskap het die polisie daarvan beskuldig dat daar nie genoeg gedoen word om Joslin op te spoor nie. Cele het hulle gemaan om koelkop te bly te midde van die vingerwysery en eise uit verskillende oorde omtrent die polisie se ondersoek na Joslin se verdwyning.

“Julle is ʼn gemeenskap wat verenig het in hierdie moeilike tyd, moenie toelaat dat diegene wat probeer om politieke myle uit die verdwyning van ʼn dogtertjie te kry, julle verdeel nie. Verenig en werk saam met die polisie om haar terug te bring huis toe.

Bheki Cele, minister van polisie, spreek die gemeenskap van Diazville in Saldanha toe. (Foto: SAPD)

“Van die polisie se kant af wil ek julle verseker dat geen hulpbron ontsien sal word om haar op te spoor nie. Die polisie het hom nie aan hierdie soektog onttrek nie en het opdrag gekry om nou saam te werk met enigiemand wat met enige waardevolle inligting vorendag kom wat kan help,” het Cele bygevoeg.

Die polisie het die DA vroeër daarvan beskuldig dat hy Joslin se verdwyning vir politieke gewin uitbuit nadat ʼn plakkaat versprei is waarop die DA se naam en ʼn foto van Joslin verskyn. Dié plakkaat dui aan dat Cele die polisie aan die soektog na die kind onttrek het, terwyl die Stad Kaapstad ingespring het om die saak oor te neem, al het hy minder hulpbronne.

Hoewel die stad wel bykomende hulpbronne op versoek van Saldanhabaai se burgemeester, André Truter, beskikbaar gestel het nadat die polisie sy soektog afgeskaal het, is dit egter nie seker of die plakkaat inderdaad die party sʼn is nie.

Dit is nie op die DA se nasionale of provinsiale sosialemediaplatforms gedeel nie en ook nie op enige van die DA-leiers se profiele nie.

Cele en ander lede van die polisie se bestuur het ook Saterdag met Joslin se ouers vergader en hulle die versekering gegee dat die polisie voortgaan met sy pogings om haar veilige terugkeer te bespoedig.

Joslin, ʼn gr. 1-leerder aan Diazville Primêre Skool, is op 20 Februarie deur haar ma, Kelly Smith, as vermis aangemeld. Smith het Joslin glo op 19 Februarie in haar kêrel, Jacquin Appollis, se sorg gelaat nadat sy glo olik gevoel het. Smith kon glo ook aanvanklik nie vir Appollis opspoor nie en toe hy later opdaag kon hy glo nie sê waar Joslin is nie.

Jose Emke, Joslin se pa, bly naby Springbok in Namakwaland, maar het intussen na Saldanha gereis. Hy het gesê hy het sy dogtertjie in November laas gesien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.