Video: Eiendomsagent met passie vir geskiedenis sien om na begraafplaas

Quentin Meyer by Jopie Fourie se graf in die Heldeakker-begraafplaas. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Drie jaar gelede het Quentin Meyer besluit om sy passie vir die geskiedenis en die bewaring van die Afrikaner-erfenis uit te leef deur aansoek te doen om die opsigter van die Heldeakker-begraafplaas te word.

In dié begraafplaas, net om die draai van die Staatsteater oorkant die Sammy Marks-plein in Pretoria, lê verskeie Afrikaner-helde, politieke en ander bekende figure begrawe.

Quentin (42) vertel dit was ʼn lang, uitgerekte proses om die opsigter van dié geskiedkundige begraafplaas in die Pretoriase middestad te word.

Hy moes deur die Tshwane-stadsraad te werk gaan en het eers verlede jaar die groen lig gekry om verantwoordelikheid van die begraafplaas te neem.

Paul Kruger en sy hele gesin asook sy kleinkinders, Jopie Fourie, Hendrik Verwoerd, die skrywers Eugène Marais en sy vrou, Jan FE Celliers en sy vrou, Susanna, die skilder JH Pierneef en sy vrou, Anna, en hulle seuns Gerrit en Cornelis is onder andere hier begrawe.

Talle ander Afrikaner-staatsmanne soos JG Strijdom en EG Jansen is ook in dié begraafplaas begrawe. Die Heldeakker beslaan ʼn klein gedeelte waar sommige van dié bekendes bymekaar begrawe is.

Daar is ook honderde ander grafte wat so ver terug dateer as die vroeë 1800’s – daar is selfs ʼn piepklein graf van ʼn drie maande oue babaseuntjie wat in 1907 gesterf het.

“Dit het verskriklik hier gelyk voordat ons ingeklim het en begin skoon maak het,” vertel Quentin, wat bedags as eiendomsagent werksaam is en ook by verskeie politieke en gemeenskapsorganisasies betrokke is.

Hy sê sy passie vir die Afrikaner-erfenis is wat hom genoop het om self sy naam in die hoed te gooi om die massiewe rol van opsigter van dié begraafplaas in te neem.

Hy het ook onlangs ʼn regterhand, Herman Grobler, aangestel wat hom daagliks help met die instandhouding van die terrein.

Quentin is trots op sy vrywilligerswerk by die Heldeakker-begraafplaas. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Quentin en Herman se take sluit in alles van die skoonmaak van die badkamers en opknapping van die grafte tot die sny van die gras en die algemene instandhouding.

“Ons sukkel net om by te bly met die sny van die gras. Dit groei so vinnig en dit is ʼn massiewe area wat gesny moet word. Sodra ons heel agter kom, is die gras voor weer lank,” skerts Quentin.

Hy word ondersteun deur groepe soos AfriForum, die FAK, die Voortrekkermonument en ander organisasies om die begraafplaas en Heldeakker in stand te hou.

Herman Grobler is Quentin se regterhand. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Laerskool Pierneef besoek een keer per maand die skilder Pierneef se graf om seker te maak dit bly mooi en netjies. Daar is talle ander laer- en hoërskole wat ook soms besoek aflê en ʼn poging aanwend om skoon te maak,” vertel Quentin.

Hy verklap daar is planne om ʼn museum by die Heldeakker te bou en hulle is tans besig met die opknapping van die mure reg rondom die perseel.

Quentin en sy span is ook besig om QR-kodes te ontwikkel vir elke graf in die Heldeakker sodat besoekers deur middel van dié kodes meer inligting oor die betrokke persoon kan bekom.

“As jy ʼn passie het vir iets, gaan dit jou outomaties dryf. My passie en liefde vir geskiedenis het my daartoe gedryf om aansoek te doen om die opsigter hier te wees. Ek hou van geskiedenis, en ek het daarmee grootgeword,” sê hy.

“Dit is belangrik dat geskiedkundige plekke soos die Heldeakker behoue bly, vir ons nageslagte om hulle geskiedenis eerstehands te kan beleef. As jy nie weet waar jy vandaan kom nie, hoe gaan jy weet waarheen jy in die toekoms gaan?”

Die begraafplaas is elke eerste Saterdag van die maand oop vir die publiek. “Jy hoef nie te kom skoonmaak nie, jy kan net deurstap en dit is heeltemal gratis.”

Maroela Media het saam met Meyer by die Heldeakker  besoek afgelê. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.