Groot planne om Heldeakker op te knap

Quentin Meyer is die nuwe opsigter van die Heldeakker-begraafplaas. (Foto: Verskaf)

Dit was ʼn groot kans wat Quentin Meyer, voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Noord van die Berg-kultuurnetwerk twee jaar gelede gewaag het.

Maar, vandag is hy amptelik die opsigter van die Heldeakker in Pretoria.

Dié begraafplaas is die laaste rusplek van Afrikanerhelde soos pres. Paul Kruger, Jopie Fourie en Andries Pretorius. Quentin is al sowat 10 jaar betrokke by die opknapping en instandhouding van die Heldeakker en verskeie ander erfenisterreine landwyd.

As kind het Quentin se ouers hom gereeld na historiese terreine soos monumente en standbeelde geneem. Mettertyd het dit ʼn liefde en passie vir die bewaring van Afrikaner-erfenis by Quentin aangewakker.

“Wanneer ons erfenisterreine besoek het, het hulle altyd vir ons gesê dat jy moet weet waar jy vandaan kom om te weet waarheen jy op pad is. Dit is ʼn boodskap wat ek met my saamdra en wat ek weer aan ander mense, veral ʼn jonger generasie, wil oordra,” vertel hy aan Maroela Media.

Quentin Meyer leer vir Divan en Franco Minnaar die geskiedenis van die Afrikanerhelde wat in die Heldeakker begrawe is. (Foto: Verskaf)

Toe Quentin twee weke gelede die e-pos ontvang het dat sy aansoek as opsigter van die Heldeakker suksesvol was, was hy uit die veld geslaan.

“Dit was nog altyd ʼn droom om meer vir dié historiese terrein se bewaring en instandhouding te doen. Die Heldeakker lê my baie na aan die hart.

“Ek het eintlik heeltemal van my aansoek by die ‘Adopt-a-spot’-inisiatief vergeet. Die projek is deur die Tshwane-metroraad van stapel gestuur in ʼn poging om die publiek aan te moedig om spesifieke gebiede in beskerming te neem,” sê Quentin.

Dit het alles by ʼn besoek aan die President Brand-begraafplaas in Bloemfontein begin, vertel Quentin verder. Toe hy die terrein ʼn hele paar jaar gelede besoek het, was dit erg verwaarloos en toe hy ʼn ruk later weer daar kom, het hy die begraafplaas amper nie herken nie.

“Dit was skoon en netjies, daar was inligtingsbordjies op en ʼn opsigter het sy diens as informele toergids aangebied. Ek was baie beïndruk met die instandhoudingswerk en wou graag weet hoe dit gebeur het.

“Ek het op die ingewing van die oomblik die opsigter geskakel om uit te vind en hy het my toe van die ‘Adopt-a-spot’-inisiatief vertel.”

Quentin Meyer by Jopie Fourie se graf in die Heldeakker-begraafplaas. (Foto: Verskaf)

Quentin se rol as opsigter van die Heldeakker is om verantwoordelikheid vir die instandhouding en deurlopende skoonmaak en “verfraaiing” van dié terrein te neem. Die instandhouding van die groter infrastruktuur en sekuriteit berus egter steeds by die metroraad.

“Ek wil die tuine netjies kry, blomme plant en die badkamers in ʼn werkende toestand kry. Ek gaan druk op die stadsraad toepas om instandhouding te doen, soos om die muur reg te maak.”

Maroela Media het berig dat een van die mure in Kerkstraat vroeër vanjaar omgery is en selfs nadat die FAK met die Tshwane-metroraad hieroor in gesprek getree het, is dit steeds nie herstel nie.

Agtien organisasies het verlede week byeengekom om saam met Quentin die oorwinning te vier en met ʼn plan vir die instandhouding van die terrein vorendag te kom.

Organisasies wat die vergadering bygewoon het, sluit onder meer die Voortrekkermonument, die Erfenisstigting, AfriForum, Solidariteit Jeug, Solidariteit Helpende Hand, die Krugergenootskap, die Genootskap vir Handhawing van Regte Afrikaans (GHA), die Rapportryers en Laerskool Pierneef in.

Hannes Noëth, voorsitter van die Krugergenootskap, sê die projek gaan oor veel meer as net die instandhouding van die Heldeakker. “Dit gaan oor die geweldige simboliese waarde van identiteit; ons bewaar wat ons s’n is.”

Volgens Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK noordelike provinsies, is hierdie samekoms ʼn voorbeeld van die krag wat samewerking tussen instansies kan hê en die verskil wat ʼn gemeenskap kan maak.

“Verkillende organisasies het bymekaargekom om Quentin se hande sterk te maak en hom te ondersteun in die groot taak wat hy met trots aanpak.”

Organisasies wat by die Heldeakker se opknappingsprojek betrokke wil raak, kan  ʼn e-pos stuur aan Barry Müller by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.