FAK gaan Heldeakker self opknap

Die FAK sê hy gaan opnuut self ingryp om die Heldeakker in stand te help hou. (Foto: FAK)

Die FAK het voet neergesit oor die haglike toestand van die Heldeakker in Pretoria.

Die begraafplaas is die laaste rusplek van Afrikanerhelde soos pres. Paul Kruger, Jopie Fourie en Andries Pretorius.

Die FAK sê hy gaan nou opnuut ingryp om die begraafplaas na sy vorige glorie te herstel. In die afgelope twee jaar het die FAK al vyf keer self skouer aan die wiel gesit om die Heldeakker op te knap.

Vroeër vanjaar is een van die mure in Kerkstraat omgery en selfs nadat die FAK met die Tshwane-metroraad in gesprek getree het oor hieroor, is die muur steeds nie herstel nie.

Dié gat in die muur is selfs op Google Street View te sien. Google self erken dit vat maande om die straataansig op te dateer en dit is weer eens ’n klinkklare bewys van hoe lank die metroraad sloer om hul verpligtinge na te kom.

‘n Muur van die Heldeakker is geruime tyd gelede al omgery en steeds nie herstel nie (Foto: FAK)

“Vandat die muur omgery is, is daar soveel nuwe skade en vandalisme wat in die begraafplaas plaasgevind het,” sê Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK.

Die FAK het al in die verlede Paul Kruger se borsbeeld vervang weens erge vandalisme van hierdie beeld.

‘n Amper toegegroeide voetpad in die begraafplaas. (Foto: FAK)

Die organisasie sê nie net is die gras in die Heldeakker heuphoogte nie; daar is ook skade aan grafte wat net ’n maand gelede nie daar was nie.

“Vir té lank gaan ons Afrikanererfenis verlore met die Tshwane-metroraad wat verskonings maak in plaas van hul verpligtinge nakom.”

Volgens Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, is tien werkers van die uitgebreide openbare werke- program (EPWP) toegewys om hierdie fasiliteit daagliks skoon te maak, maar hulle kontrakte is in Januarie beëindig. Daar sal, luidens’n brief aan die FAK, nuwe werkers aangestel word en die FAK is verseker dat ʼn span intussen weekliks aandag sal gee aan die instandhouding van die begraafplaas.

Een van die beskadigde grafte in die Heldeakker. (Foto: FAK)

“Dit is onmoontlik dat gras in ʼn week se tyd heuphoogte kan groei en onaanvaarbaar dat die blatante verwoesting en vernieling van erfenis toegelaat word. Ons kan nie net sit en kyk hoe ons erfenis vergaan nie,” sê Müller.

Die skoonmaak van die Heldeakker word op Saterdag 15 April aangepak en die FAK het ʼn beroep op die publiek gedoen om hiermee te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.