Video: Gauteng-spesialiste bou eie hospitaal

Johannesburg Surgical Hospital (Foto: Culture Collective)

Stronger Together.

Dit is nie net die Springbokspan se nou al bekende slagspreuk waarmee hulle hoop om weer die Rugbywêreldbeker huis toe te bring nie, maar ook dié van 36 mediese spesialiste wat hul koppe (én geld) saamgesit het om hul eie private chirurgiese hospitaal in Johannesburg op die been te bring.

Dié span spesialiste, onder wie ortopediese chirurge, neurochirurge, kardiotorakale chirurge, vaskulêre chirurge, algemene chirurge, plastiese chirurge, radioloë, kardioloë, uroloë, ’n neuroloog en ’n rumatoloog, is almal aandeelhouers in die splinternuwe Johannesburg Surgical Hospital in Northcliff, wat na verwagting vroeg volgende maand pasiënte sal begin ontvang.

Johannesburg Surgical Hospital (Foto: Culture Collective)

Die moderne hospitaal aan Beyers Naudé-rylaan is die breinkind van ortopediese spesialis dr. Jaco Strobos wat al jare lank daarvan droom om sy eie hospitaal te bou.

En daardie droom word vandag (Saterdag) bewaarheid met die amptelike opening van die 150-bed-hospitaal.

“Die spesialiste hier is inderdaad sterker saam. Wat hulle hier doen, doen hulle as ’n span,” verduidelik Alex Daneel, hospitaalbestuurder.

En hulle doen dit net vir hul pasiënte, vertel die radioloog (en aandeelhouer) dr. Mejag Jansen van Rensburg, wanneer Maroela Media hom tydens ’n toer van die nuwe hospitaal in die gange van die radiologie-afdeling raakloop.

“Al die dokters in hierdie hospitaal voel dieselfde daaroor dat dit oor pasiëntesorg moet gaan.”

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die chirurgiese hospitaal beskik oor 13 moderne teaters waaronder ortopediese, neurochirurgiese en kardiotorakale teaters, sowel as twee hibriede teaters. Die hospitaal het ook ’n ongevalle-eenheid, mediese saal, drie chirurgiese sale en ʼn hoësorg- en waakeenheid.

Strobos het in 2019 reeds die perseel en nodige lisensie bekom om die nuwe private hospitaal op die been te bring. Toe nader Strobos topspesialiste wat op hul beurt nog topspesialiste aanbeveel het om die droom ’n realiteit te maak.

Sommige van die spesialiste het dadelik ingestem en ingekoop. Ander het meer oortuiging nodig gehad, terwyl sommige eindelik besluit het om nie die risiko te neem nie.

Die uiteindelike span van 36 het met hul eie finansiering sowel as met die hulp van ’n Investec-lening die hospitaal van R700 miljoen gefinansier.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Dit is egter nie net die ou wat ’n paar rand in hul sak het wat genader is nie, maar ook diegene wat ’n topspesialis in hul veld is. Hierdie is almal ouens wat ons as dokters ons eie lewens mee sal vertrou,” vertel dr. Dewald Bester, intervensieradioloog en aandeelhouer in Johannesburg Surgical Hospital.

Nie minder nie as 2,1 miljoen stene, 60 ton glas, 203 000 m‑ elektriese draad, ’n Dual Source Dual Energy-CT-skandeerder (die enigste een op die vasteland!) en ’n Da Vinci‑ chirurgiese stelsel is aangery om van die hospitaal ’n sentrum van uitnemendheid te maak.

Dit is ook baie duidelik wanneer jy in die skoon en moderne gange van die hospitaal stap dat daar na uitnemendheid gestreef word.

Bester vertel dat die hospitaal noukeurig saamgestel is met die pasiënt se gemak en herstel in gedagte – van die ruimheid van die onderskeie sale, die groot vensters wat na buite kyk tot die kos en linne wat op “hotelstandaard” is.

Johannesburg Surgical Hospital (Foto: Culture Collective)

Tog is daar ook ’n familiegevoel in die gange met gratis (en goeie) koffie van ’n plaaslike koffiewinkel vir pasiënte wat op mediese sorg wag.

“Ons is uitkoms gebaseer, wat beteken dat die uitkoms van pasiënte se prosedures goed moet wees; ons kos moet uitstekend wees en die verpleging moet uitstekend wees. Want as ons gehalte-diens lewer, sal dit met ons én ons pasiënte goed gaan,” sê Jansen van Rensburg.

Die hospitaal vorm deel van die Nasionale Hospitaal Netwerk en pasiënte sal nie meer as enige ander onafhanklike private hospitaal vir goeie mediese sorg by Johannesburg Surgical Hospital hoef te betaal nie, al is die toerusting hier van die beste in die mediese veld.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Dit beteken egter dat die spesialiste vir eers teen ’n verlies sal moet werk.

“Ons gaan maar net vir ’n rukkie harder moet werk,” vertel Jansen van Rensburg, Bester se vennoot, ongeërg.

Die meerderheid van die hospitaal se hoogs gevorderde tegnologie is van Siemens. Die hospitaal sal voortaan as Siemens-verwysingsentrum dien, wat beteken dat plaaslike en buitelandse spesialiste die hospitaal in Johannesburg sal besoek om die jongste tegnologie in die mediese veld te besigtig.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Baken van hoop

Daneel en Bester glo albei die Johannesburg Surgical Hospital gaan verhoed dat pasiënte na die Wes-Kaap reis vir mediese behandeling, soos wat deesdae gebeur omdat al meer spesialiste Kaap toe semigreer. Dit moet ook spesialiste in Johannesburg hou, eerder as dat hulle semigreer of landuit gaan.

“Jy sien deesdae net die eenrigtingverkeer Kaap toe. Die oomblik wat jy ’n dokter kry om te belê, gaan jy hom of haar hier op lang termyn hou,” vertel Daneel.

Dr. Dewald Bester, een van die aandeelhouers. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Baie van ons vriende en kollegas gaan Kaap toe of emigreer,” beaam Bester. “Hierdie hospitaal is vir ons ’n baken van hoop. Ons belê in Johannesburg en wys vir ander dokters dat daar soveel geleenthede in Johannesburg is te midde van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en al die ander uitdagings.

“Ons is Suid-Afrikaners. Ons is stronger together. Ons is hier om te bly.”

Die Da Vinci chirurgiese stelsel. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Dirk Hermann, die bestuurshoof by Solidariteit, sê die Johannesburg Surgical Hospital is inspirerend.

“Hierdie groep mense sê hulle bly én bou. En dit is wat ons in Suid-Afrika moet doen. Ons moet as ’n gemeenskap sê dat, ten spyte van ’n staat wat wil inmeng en sentraliseer, ons self verantwoordelikheid gaan neem vir ons toekoms.

“Ons het kinders en kleinkinders wat goeie mediese sorg nodig het. Projekte soos hierdie dink aan die geslag wat nog kom en daarom moet ons groot waardering hiervoor hê.”

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Spesialiste wat na die Wes-Kaap migreer sê alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.