Video: ‘Gun jouself tweede kans’ sê Natasha ná Mej. SA-oorwinning

Natasha Joubert, Mej. SA 2023. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Nog voordat haar naam Sondagaand as die wenner uitgeroep is, het die naam Natasha Joubert reeds onder gehoorlede van die SunBet Arena in Time Square, Pretoria, kliphard tydens die Mej. Suid-Afrika-finaal weergalm.

Dié 26-jarige donkerkop skoonheid is pas as Mej. SA 2023 gekroon, en sy vertel dat haar byna geskiedkundige oorwinning die resultaat is van geweldige ondersteuning, veerkragtigheid en “die mooi wat daar lê in tweede kanse waag”.

Maroela Media het vroeër berig dat dit die tweede keer is dat sy hierdie gesogte titel najaag nadat sy in 2020 as die tweede naaswenner aangekondig is en haar land by die Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig het.

“Hierdie oomblik is vir my die toonbeeld van ʼn volle sirkel-oomblik en ʼn droom wat elf jaar gelede begin het. Dit het baie harde werk, gretigheid, selfvertroue en ondersteuning gekos om my droom lewendig te hou. Dit is ʼn reis waarvoor ek vir ewig dankbaar sal wees, en wat my gevorm het tot die vrou wat ek vandag is.”

Vir Natasha gaan sukses egter nie net oor persoonlike prestasies nie, maar oor die geleenthede wat dit bied om terug te ploeg en diegene rondom haar op te hef.

Natasha en Ndavi Nokeri, Mej. SA 2022, op die verhoog kort nadat sy gekroon is. (Foto: Yolanda van der Stoep/Verskaf)

“Ek is ongelooflik geëerd en nederig om as Mej. SA 2023 gekroon te word. Soos ek hierdie nuwe rol betree, word ek gevul met ʼn sin van verantwoordelikheid om ʼn positiewe verskil in die wêreld om my te maak. Ek sal daarna streef om ʼn bron van inspirasie en ondersteuning vir ander te wees, net soos ek nou en voorheen op my reis ondersteun is.”

Entrepreneurskap is volgens Natasha die hart van innovasie en ekonomiese groei, en daarom wil sy tydens haar heerskappy geleenthede help skep waar entrepreneursgeeste kan floreer.

Natasha is vuur en vlam vir haar nuwe rol as Mej. SA. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Entrepreneurswese is die dryfkrag wat nasies vorentoe dryf, werk skep, kreatiwiteit koester en ʼn gees van veerkragtigheid bevorder. Daarom is dit iets waarop ek myself wil toespits.”

Ook toegang tot veral tersiêre onderrig lê haar na aan die hart en dit het haar nog voor haar kroning gemotiveer om as sakevrou hande met verskeie maatskappye te vat om studiebeurse aan hulpbehoewende studente toe te ken.

Natasha nou onbeskaamd oor haar grootwordjare

Natasha is in Rooihuiskraal, Centurion, gebore en getoë. Sy is ʼn BCom-bemarkingsbestuur-gegradueerde en eienaar en modeontwerper van Natalia Jefferys, ʼn maatskappy wat sy begin het toe sy 19 jaar oud was. Sy is die jongste van drie sibbe en haar ma, Ninette, is haar sakevennoot.

Sy het voorheen aan Maroela Media gesê dat sy onlangs tot die besef gekom het dat haar eie grootwordjare ʼn meer realistiese blik van die algemene Suid-Afrikaner se lewe is en iets is waarmee mense kan vereenselwig. Daarom deel sy vandag onbeskaamd haar lewensverhaal, iets waarvoor sy nie tydens haar eerste Mej. SA-deelname gereed was nie.

“My pa het sy werk verloor toe ek 16 jaar oud was en is kort daarna oorlede. Ek moes vinnig self baie plannetjies rondom finansies beraam. Almal se verhale lyk natuurlik anders, maar ek ken teleurstelling, verlies en finansiële uitdagings, en wil daardie kennis gebruik om ander te help.”

Natasha sê sy is diep bewus van die stryd wat baie Suid-Afrikaners in die gesig staar, en glo dat deur kragte saam te snoer, daar geleenthede geskep kan word om ander te kan bemagtig.

Natasha wil mense aanmoedig om tweede kanse te waag. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Dit is vir my baie hartseer dat meer as die helfte van Suid-Afrika se jeug nie die finansiële middele het om hul drome na te streef nie. Ek was gelukkig om ʼn beurs te ontvang wat my in staat gestel het om my opleiding voort te sit, en ek was proaktief om terug te gee. Ek wag nie vir ʼn kroon op my kop nie, ek het gewerk om ʼn verskil te maak.”

Sy glo dat Suid-Afrika steeds talle onontginde potensiaal inhou wat ten toon gestel moet word en sê sy is daartoe toegewyd om in diens van haar mede-Suid-Afrikaners te wees.

Harde en goeie werksetiek is ook volgens Natasha belangriker as talent, daarom glo sy dat mense se omstandighede nie hul narratief moet bepaal nie.

“My uiteindelike doelwit is om die jonger generasie te inspireer, om te demonstreer dat tweede kanse wel bestaan, en met vasberadenheid en ondersteuning kan enigiemand bo hul omstandighede uitstyg. Ek verdien om Mej. SA te wees, want ek is ʼn vrou van veerkragtigheid.”

Interessante feite oor vanjaar se Mej. SA:

  • Sy was as elfjarige op South Africa’s Got Talent te sien danksy haar sangtalent.
  • Sy beskryf haarself as ʼn “rabbedoe” en het karate as kind gedoen.
  • Haar gunsteling-kos is haar ouma se bredie.
  • Sy speel elke aand Rummikub op haar selfoon voordat sy gaan slaap.
  • Sy het in 2021 haar eie huis gekoop en beskryf dit as haar “veilige hawe”.
  • Sy en haar kêrel, Enrico Vermaak, is al agt jaar in ʼn verhouding.

Kyk hier Maroela Media se video op die rooitapyt by Mej. SA 2023:

Kyk hier na Maroela Media se foto’s op die rooitapyt: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Charles ·

Ek wil net graag weet of vrouens voel hierdie tipe geleenthede is baie belangrik vir hul as n geslag? Of dink hulle hierdie is nie heeltemal opbouend en voordelig wanneer dit kom by hulle gelykheids-stryd om ernstig opgeneem te word nie? My vraag is nie kwaadwillig nie. Ek wil nie die partytjie versuur nie. Maar ek dink die vraag is geldig. Wil vrouens hiervoor bekend wees, of wil hul gelykheid hê?

George ·

Hul kan albei he. Niks fout met so n kompitisie nie. Dis opboudend en inclusive.

Charles ·

Opbouend vir my is mans en vrouens wat saam Volleyball speel. Hierdie? Weet ,nie mooi nie…

George ·

Is rugby opbouend? Ja dit is. Jy hoef nie fisies saam iets te doen om dit opbouend te maak nie.

George ·

Hoekom sal jy nie iemand ernstig opneem wat deelneem nie? As dit die geval is, le die probleem by jou, of by mans as n geslag en nie met die kompitisie of hul deelnemers nie.

Charles ·

Dankie vir jou repliek, maar ek sal graag n vrou se mening wil hê hieroor.

Nettie ·

Gelykheid beteken nie “dieselfde in alle opsigte”. Vrouens wil nie mans wees nie (buiten lgbt). Ons wil gelyk BEHANDEL word. Dws, as man voordele kry oor hul mans is (bv oor hul krag), dan wil vrouens voordele kry oor hul vrouens is (bv swangerskap).

Skoonheidskompetisies is opbouend in die sin dat dogtertjies kan opkyk na iemand moois. En besluit of dit vir hul belangrik is, OF NIE. Gee die voorbeeld, en dan kan elke kind besluit.

Charles ·

Ah! Jy wil spesiale behandeling hê en ook spesiaal voel. Gesamentlik wil jy hê vrouens moet poste kry al is hul omstandighede van so aard dat hulle minder as mans gaan werk (swangerskap). En die betaling moet dieselfde wees, natuurlik. Having your cake and eating it. Sorry, maar die wêreld is op daardie vlak in die era waar niemand binnekort gaan kry waarna hy/sy soek in elk geval nie. Much ado about nothing…

Bolandse Nooi ·

Ek dink dit gaan oor veel meer goed as net “mooi” wees of dan nou gelykheid. Om as Mej. SA gekroon te word, maak deure oop vir vroue. Onthou net – die dae wat Mejj. SA net op die loopplank gepryk het en hul “ware” vertoon het, is verby. Vandag is baie van die finaliste dames wat reeds ‘n universiteitskwalifikasie (of twee!) agter die rug het en dikwels ook reeds suksesvolle besigheidsvroue is.

Vonny ·

Ons is soooooo trots op jou.
Mooi van binne EN buite.
Geniet jou jaar as mej SA
Jy gee ander jong meisies hoop!

miche ·

Daar was ‘n hele paar pragtige finaliste
( soos oa.Bryoni Govender) wat ook baie goeie antwoorde op die vrae gegee het. Van die uitrustings so bietjie knap om die bolyf gewees. Of so sentimeter of 2 te min materiaal. Paar benoude oomblikke namens sommige beleef…

Karoo ·

Nou hoe sou Charles se voorgestelde Volleyball uitrustings nie gespan het nie. Terg net julle…. ja nee, van die uitrustings was ‘n bietjie knap, dalk word ek net te oud.

Karoo ·

Ai Charles, laat die son tog net skyn op die Dame, wanneer laas was daar ‘n Afrikaanse Dame wat met die kroon weg gestap het.

Charles ·

Ah! Dit is omdat jy omgee oor die kompetisie dat jy omgee oor die wenner. Nee wat, Volleyball is beter.

Bolandse Nooi ·

Ek was regtig verbaas om te verneem dat ‘n blanke meisie gewen het. Êrens het iemand gemeld van ‘n Indiër meisie wat ook mooi is en volgens hom/haar ‘n goeie kans gestaan het, maar nie sou sukses proe a.g.v. die “afwisseling-beleid” … 1 jaar ‘n swart dame, die volgende jaar ‘n blanke dame?

Karina ·

Baie geluk met jou welverdiende wen as Mej Suid Afrika, ek destyds gehoop jy gaan die wenner wees, en jy het bewys, aanhouer wen. Doen goeie dinge vir ons mooi land en sterkte vir jou jaar as Mej Suid Afrika 2023!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.