Video: Kliniek op wiele pak borskanker

Keystone Medical se “Screen Her, Save Her”- mobiele borskankerkliniek reis die land plat om vroue aan te moedig om mammogramme en borssonars te laat doen. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Borskanker.

’n Kort, maar vreesaanjaende woord en siekte wat enige vrou, enige tyd kan tref – ongeag hoe oud jy is.

Een mammogram of borssonar elke jaar kan egter ’n vrou se lewe red óf verleng deur kwaadaardige gewasse vroegtydig op te spoor. Om hierdie rede reis Keystone Medical se “Screen Her, Save Her”- mobiele borskankerkliniek die land plat om vroue aan te moedig om dié toetse te laat doen, of jy nou 18 of 78 jaar oud is.

Die mobiele kliniek – wat binne soos ’n volwaardige spreekkamer lyk en uit ʼn span van net vroue bestaan – is tans by die Castle Gate-winkelsentrum in Waterkloofrif in Pretoria en sal weer op 30 Junie vertrek. Volgende stilhouplek, die Noord-Kaap.

Keystone Medical se “Screen Her, Save Her”- mobiele borskankerkliniek reis die land plat om vroue aan te moedig om mammogramme en borssonars te laat doen. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Pretorianers het dus tot volgende week kans om ʼn afspraak by die kliniek te maak. Die prosedure neem ongeveer ʼn halfuur en mediesefondstariewe geld. Vroue wat uit hul eie sak betaal, kan R950 vir ʼn borssonar begroot en R1 380 vir ʼn mammogram.

Magda Kriek, ʼn radiografis wat haarself deesdae eerder as ʼn “mammografis” beskryf, verduidelik dat borssonars gewoonlik op vroue jonger as 38 jaar oud gedoen word, en mammogramme op diegene ouer as 38.

“Vroue jonger as 40 vroue se borsweefsel is geweldig dig. Dit is soortgelyk aan baie wolke in die lug – dan kan jy nie deur die wolke die sterretjies sien nie. As daar nie baie wolke is nie, kan jy die sterretjies sien.

“’n Mens wil ook nie jonger borste onnodig aan radiasie blootstel nie. Ons begin dus met ’n sonar op ’n jonger vrou, maar as ons wel iets op die sonar sien wat ’n rooi lig laat flikker en dit word ook deur ’n radioloog beaam, doen ons ook ’n mammogram – al is jy onder 40.”

Radiografiste Magda Kriek en Surika Zeelie.(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Kriek sê die standaard is wêreldwyd besig om te verander en dat die kliniek mammogramme vir alle vroue van 38 en ouer doen.

Sy en kollega Surika Zeelie moedig vroue van alle ouderdomme dus aan om hulself elke jaar te laat ondersoek en sê ook dat borskanker beslis nie net by vroue ouer as 40 jaar gediagnoseer word nie.

“Dit is ’n feit dat jonger vroue al meer borskanker kry.

“Vroue moet definitief op ’n jaarlikse basis kom.”

Sy sê dat mediese fondse nie altyd vir jaarlikse ondersoeke betaal nie (tensy daar ’n sterk familiegeskiedenis van borskanker is) en dat dit vroue kan ontmoedig om hulle te laat ondersoek, veral omdat dit dikwels duur is.

Magda Kriek, radiografis, besig met ‘n mammogram vir ‘n pasiënt. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Baie kan egter in twee jaar verander en gebeur, en daarom pleit Zeelie en Kriek by vroue om die ondersoek jaarliks te laat doen.

“Dit is boonop nie altyd iets wat jy kan voel nie. Ons kry pasiënte wat mikrokalsifikasies kleiner as ʼn soutkorreltjie het. So, jy gaan dit nie weet nie tensy jy jaarliks kom,” sê Zeelie.

Hoewel nie so algemeen nie, kan mans ook borskanker kry.

“Daar was al vyf mans wat dapper genoeg was om ons kliniek te besoek,” sê Kriek.

Sy benadruk egter dat prostaatkanker baie meer algemeen onder mans is, en dat dit baie belangrik is dat mans gereeld vir toetse gaan en ook gereeld selfondersoeke doen.

Net so is dit uiters belangrik dat vroue hul eie borste ondersoek.

Surika Zeelie, radiografis, besig met ‘n borssonar. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Dit is ook belangrik dat dit reg gedoen word en die kliniek stel inligtingsblaadjies beskikbaar wat ʼn vrou presies wys hoe om self vir enige abnormale knoppe te voel.

Só ʼn selfondersoek, wat een keer per maand gedoen moet word, vervang egter nie ’n mammogram of borssonar nie, maar kan ’n vrou help om veranderinge in haar borste vinnig te identifiseer en sodoende mediese advies te kry.

“Deur ʼn halfuur uit jou dag te neem en ʼn mammogram of borssonar jaarliks te laat doen, kan jou lewe verleng. Voorsorg  is beter as nasorg,” sê Zeelie.

‘Toets, al is jy jonk’

Nog ʼn voorstander van gereelde borssonars en mammogramme is Linda Coffee (33) van die Paarl in die Wes-Kaap. Sy hoop dat haar eie verhaal veral jong vroue sal aanspoor om vir borssonars te gaan – juis omdat drievoudige negatiewe borskanker op die jong ouderdom van 31 by haar gediagnoseer is.

ʼn Knop in haar bors en erge moegheid was die enigste simptome en Coffee het later besef die moegheid was nie net omdat sy ’n werkende ma is nie.

Coffee het ʼn dubbele mastektomie ondergaan en ses maande lank chemoterapie ontvang, asook 25 bestralingsessies. Sy het in September verlede jaar gehoor sy is kankervry en moet nou elke drie maande vir opvolgtoetse gaan.

Die mobiele kliniek lyk binne soos ’n volwaardige spreekkamer en bestaan uit ʼn span van net vroue. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

As ʼn alumni van die Atterbury Trust, wat die Screen Her, Save Her-bewusmakingsveldtog saam met Keystone Medical dryf, wil sy as ambassadeur dien om jonger vroue aan te moedig om hulself te laat ondersoek.

“Kanker wag nie vir ouderdom nie,” sê Coffee.

“Dit maak regtig ʼn groot verskil as jy dit vroeg opspoor. Mense moet erns daarmee maak. My kankerdiagnose was vir my ʼn groot skok.

“Mense maak baie keer die onsensitiewe opmerking dat dit ‘net borskanker is’. Ja, dit is van jou meer behandelbare kankers, maar dit is steeds kanker en steeds lewensbedreigend – veral as jy dit nie betyds opspoor nie.

“Vroue stel hulself dikwels laaste en soms is ʼn mens bang jy hoor iets wat jy nie wil hoor nie. Maar hoe vroeër jy dit hoor, hoe beter is die kans om iets daaraan te doen. Dit is so belangrik dat vroue dit prioritiseer en deelneem aan bewusmaking daaroor en inisiatiewe soos die mobiele kliniek ondersteun.”

Linda Coffee (33) hoop dat haar eie verhaal ook jong vroue sal aanspoor om vir borssonars te gaan.
Drievoudige negatiewe borskanker is op 31 by Coffee gediagnoseer. (Foto: Verskaf / Zinta Maasdorp Photography)

Die mobiele kliniek doen meer as 2 000 mammogramme en borssonars per jaar, en bied aan baie vroue die geleentheid om vir dié ondersoeke te kom wat nie andersins toegang daartoe sou hê nie.

“Die uitwerking van ’n borskankerdiagnose is lewensveranderend en dit word dikwels oor die hoof gesien,” sê Danelle Strydom, studente- en projekbestuurder by die Atterbury Trust.

“Daar word in baie gevalle nie die nodige holistiese ondersteuning vir ’n pasiënt gegee nie. Screen Her, Save Her bied hierdie ondersteuning deur ’n netwerk van ambassadeurs, vrywilligers en vennootskappe wat die nodige bronne en tyd verskaf.”

Sy sê Coffee se eie lewensreis bevestig opnuut dat vroue vroeg al hul gesondheid prioritiseer.

“Vroeë opsporing is deurslaggewend, want hoe vinniger borskanker opgespoor word, hoe beter is die kans op herstel. Ongelukkig wag borskanker nie tot jy ʼn sekere ouderdom bereik of vir ʼn bewusmakingsmaand nie.”

  • Om ’n afspraak vir ’n mammogram of borssonar by die mobiele kliniek te maak, skakel 087 055 0587.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.