Video: Skote afgevuur op vragmotor op pad na Lebombo-grenspos

ʼn Video van die voorval wys hoe ʼn bakkie die vragmotor volg, terwyl ʼn sedan met geel flikkerende ligte voor die vragmotor ry [Foto: Skermskoot uit video]

ʼn Vragmotorbestuurder is in ʼn geskokte toestand gelaat nadat aanvallers op sy vragmotor gevuur en hom daarna glo ontvoer en aangerand het.

Die voorval het Maandag omstreeks 04:30 op die N4-hoofweg tussen Komatipoort en Hectorspruit plaasgevind. Die vragmotor, wat steenkool en magnetiet vervoer het, was op pad na die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek.

ʼn Video van die voorval wys hoe ʼn bakkie die vragmotor volg, terwyl ʼn sedan met geel flikkerende ligte voor die vragmotor ry. In die video kan gehoor word hoe minstens agt skote klap.

ʼn Direkteur van die vervoermaatskappy wat die betrokke vragmotor besit, het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê die vragmotorbestuurder het uit vrees aanhou ry. Hy het in ʼn stadium omgedraai en tot by die Hectorspruit-dieseldepot gery en daar stilgehou.

“Daar het die verdagtes hom uit die vragmotor geruk en hom saam met hulle Komatipoort Dry Port toe geneem. Ons verstaan hy is aangerand,” sê die direkteur.

Twee bande van die vragmotor is pap geskiet [Foto: Verskaf]

Volgens die direkteur is twee van die vragmotor se bande stukkend geskiet. Daar is ook ʼn duidelike koeëlgat aan die vragmotor se perd aan die bestuurder se kant.

“Die bestuurder is erg getraumatiseerd en het vanoggend gesê hy gaan nie terugkeer werk toe nie.”

Die bestuurder het ʼn saak van poging tot moord, ontvoering en saakbeskadiging by die polisie op Komatipoort aanhangig gemaak. Kapt. Nkosi Magonseni, polisiewoordvoerder, het die saak aan Maroela Media bevestig.

“In hierdie stadium kan ons nog nie bevestig wie die verdagtes is nie. Die polisie se ondersoek sal meer inligting hieroor gee,” sê Magonseni.

Die koeëlgat in die vragmotor se voorkant [Foto: Verskaf]

Die koeëlgat is aan die bestuurder se kant [Foto: Verskaf]

Volgens die direkteur en Barbara Mommen, ʼn handel- en vervoerkorridorkonsultant, is vragmotors die afgelope ses weke naby die Lebombo-grenspos deur taxi-verenigings se patrollielede geteiken. Maroela Media het video’s en foto’s gesien van ander aanvalle wat op vragmotors uitgevoer is waarby ʼn gemerkte taxi-patrolliemotor betrokke was.

Sowat 29 taxi-verenigings landwyd het verlede maand ʼn patrolleringspan, onder die vaandel van die Lebombo Maputo Corridor Transport Logistics, begin om die vragmotors op die N4-tolpad na die Lebombo-grenspos te begelei, in ʼn poging om verkeersopeenhopings daar te beheer.

Volgens Mommen het die patrolleringspan aanvanklik goed beheer uitgeoefen.

“Voorvalle van geweld het die afgelope ruk begin kop uitsteek, waartydens motors se ruite gebreek of met klippe uitgegooi word, bande afgeblaas of bestuurders aangerand word,” sê Mommen.

Daar is sterk vermoedens dat Maandag se voorval ook met die taxibedryf verband hou.

Die voorval hou finansiële gevolge vir die eienaars van die vragmotor in [Foto: Verskaf]

“Die bestuurder erken hy wou by die vragmotortou indruk en het toe oor ʼn dubbelsperstreep gery om verby die ry vragmotors wat voor hom gestaan, het te kom. Die bakkie en sedan het hom daarna omsingel,” sê die direkteur.

“Dit bestuurder het teen die wet opgetree deur by die tou te wou indruk, maar die geweld wat gevolg het, was onnodig.”

Joseph Ntamele, voorsitter van Lebombo Maputo Corridor Transport Logistics, het egter ontken dat enige lede van patrolleringspan betrokke was.

Hy het aan Maroela Media benadruk dat “lede van die patrolleringspan nie vuurwapens gebruik nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek gaan nie gestop word deur n bakkie en n kar as ek so groot lorry bestuur nie.

Philip ·

En jy sal seker ook nie deur ‘n koeel gestop word nie, dit is ook mos baie kleiner as jou lorry?

Burt ·

jy gaan lê net terwyl jy bedreig, aangeval of geboelie word? Groei pere man of skenk joune vir ‘n nagereggie. Staan jou man en gebruik wat tot jou beskikking is, of word deel van die statistieke.

Juanita ·

Tot jy in daai situasie beland dan fluit jy ‘n ander deuntjie nê. Makliker gesê as gedaan.

Sean ·

Neem die taxi verenigings nou die paaie oor??? Binnekort gaan ons hulle moet betaal om n pad te kan gebruik Hulle skiet op jou as jy hulle wette oortree?

Goldy ·

Ten minste neem iemand beheer oor wet en orde op paaie. Vragmotors het baie arrogant geraak, veral met spoed, en hulle base doen niks om dit te stop nie want hoe spoed beteken meer geld al kos dit dalk ander se lewens.

Sean ·

Moet die trokke betaal vir hierdie “begeleidings diens” of is dit gratis?

skurweberg ·

Dinge begin nou baie vinnig skeefloop. As dit so aangaan gaan daar aan persvryheid getorring word.

Bolandse Nooi ·

Nee, aarde! Watter soort vigilantisme is dit dan nou hierdie? Goed, toegegee … die vragmotor bestuurder was verkeerd deur in die ry te probeer indruk, maar aarde … hierdie “patrollie-voertuigbestuurders” … om op hom te skiet en hom daarna aan te rand. Aarde, ek weet nie meer wat in die land aangaan nie.

Goldy ·

Toe word die kern heel laaste genoem. Die verkeersowerhede doen niks om vragmotors wat indruk en wetteloos is te stop nie, maar die mense vul dan die leemte.

Phillip ·

Ek was Sondag van Krokodilbrug af na Nelspruit toe. Die lyn van trokke om deur die grenspos te gaan was seker 15 km en as ek moes raai oor die 2000 trokke. Alles van die fiasko kan op die ANC se tafel gesit word. As die spoorweg stelsel reg gewerk het sou daar nie soveel trokke gewees het nie. As die grenspos reg gewerk het sou die lyn nie so lank gewees het nie . As die verkeers beamptes hulle werk gedoen het die probleem van ongehoorsame trok drywers wat die ry wil spring nie gebeur nie. Ek het een SAP voertuig gesien wat probeeer het om orde te handhaaf. Ek wonder hoe lank dit vat om een trok deur te kry en wat dit die ekonomie kos

Susanna ·

Wat ek nie verstaan nie is, jy’s agter die stuur van soveel perdekrag en benut dit nie? Druk die bakkie van die pad af of ry bo-oor dit. Daar is op jou geskiet en jy weet dat jou lewe in gevaar is.

christo ·

En waar is die wetstoepassers saans? Suid-Afrikaners is deesdae aangewese op hulleself vir hulle eie veiligheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.